2018-03

jongklomp
kollig


 

Kollig ... redenaars
Redenaars of debat... Hoe gemaak?
Sjané Colin

Wat is redenaars?

Redenaars is ’n lekker aktiwiteit aangesien dit aan skoolleerders die geleentheid bied om nuwe vaardighede aan te leer, soos hoe om navorsing te doen en ’n eie argument te formuleer, om kreatief te dink en bewus te wees van aktuele sake. Verder bevorder dit selfvertroue aangesien die leerder aan vreemdelinge ’n idee moet oordra – sonder om die gehoor te verveel. Redenaars is wanneer ’n leerder ’n tema kies en hulle eie onderwerp daaruit formuleer. Dit is belangrik dat die leerder se standpunt argumenteerbaar is en daar moet gewoonlik drie hoofpunte met ondersteunende bronne in die toespraak wees. Die leerder dra alleen hierdie standpunt aan die gehoor oor.

Hoe verskil debat van redenaars?

Hierteenoor is debat meestal ’n aktiwiteit vir hoërskoolleerders en dit verskil van redenaars deurdat leerders saam in ’n span werk. In junior debat (graad agt en nege) is daar drie leerders per debatspan en in senior debat (graad tien tot twaalf) slegs twee leerders per span. Die onderwerp word reeds aan die leerders verskaf en die een span is vir die onderwerp en die ander span is daarteen. ’n Voorbeeld van ‘n onderwerp:

“Jag behoort in Suid-Afrika verbied te word.”

Die inleidende span sal dan argumenteer dat jag verbied behoort te word, terwyl die opponerende span sal argumenteer dat jag nie verbied behoort te word nie. Elke leerder in die debatspan het ‘n belangrike rol. Hierdie rol verskil van junior tot senior debat.

Juniors:

Aangesien daar drie leerders in ‘n span is, het elkeen ‘n belangrike rol om te vertolk. Die eerste spreker is verantwoordelik vir ‘n goeie inleiding. Hierin moet die onderwerp, die sprekers en die volgorde waarin hulle gaan praat, grense, voorspelling en die hoofpunte bekend gemaak word. Grense vir die debat word deur die inleidende spreker van elke span gestel en verhoed dat die opponerende span buite hierdie grense praat. Die rede hiervoor is dat sekere idees rondom die onderwerp deur gesaghebbende bronne as irrelevant beskou word. Indien die opponerende span met ‘n ander gesaghebbende bron hierdie grense verbreek, kan daar weer rondom hierdie idee gedebatteer word. Die inleidende spreker het gewoonlik net een hoofpunt in sy/haar toespraak, aangesien die inleiding ‘n groot deel van die tyd opneem, maar baie belangrik is om die fondasie van die debat te lê.

Die middelste spreker se werk is om te reageer op enige vrae wat deur die inleidende spreker van die opponerende span gevra is. Indien daar vrae gevra is, maar die spreker dit nie beantwoord nie, word punte afgetrek. Die middelste spreker behoort ook kommentaar te lewer op die hoofpunt van die inleidende spreker en dit te probeer verkeerd bewys. Verder moet die middelste spreker die span se argument verder voer deur gewoonlik twee tot drie hoofpunte met ondersteunende bronne te verskaf. Dit is belangrik dat hierdie spreker ook ‘n vraag aan die volgende spreker laat.

Die laaste spreker is verantwoordelik om seker te maak dat alle vorige vrae beantwoord is (indien die ander sprekers nie dit beantwoord het nie). Verder om die opponerende span aan te val en hulle vorige argumente verkeerd te bewys deur van bronne en eie hoofpunte gebruik te maak. Verder moet hierdie spreker ‘n laaste, belangrike hoofpunt oordra wat gewoonlik die sterkste punt van die argument is. Die laaste spreker bring ook al die idees rondom die argument bymekaar en moet met ‘n “skop” eindig.

Senior:

Die rol van die inleidende en finale spreker is dieselfde as by junior debat. Die rol van die middelste spreker word egter tussen die eerste en laaste spreker verdeel. Dit beteken dat die sprekers dalk twee hoofpunte in hulle toespraak gaan bespreek, in plaas van net een. In terme van die inleidende span, lê dit in die hande van die tweede spreker om alle vrae van die opponerende span te beantwoord. In die opponerende span is beide sprekers verantwoordelik hiervoor.

Die eerste spreker is verantwoordelik daarvoor om ‘n duidelike inleiding te stel, belangrike vrae aan die opponente te vra en met die eerste hoofpunte van die argument te begin. Die tweede spreker val meer aan aangesien hy/sy moet reageer op alles wat deur die ander sprekers gesê word.

Verdere elemente van debat

Debat verskil verder van redenaars deurdat daar meer elemente daaraan verbonde is. Die gesprek eindig nie as die toesprake verby is nie. Daarna volg ‘n debatsgesprek wat soos ‘n kruisverhoor is. Elke spreker kry die geleentheid om ‘n opponent van die ander span ‘n vraag te vra. Die spreker wat ondervra word, moet die vraag beantwoord, maar daarna hou die gesprek vir twee minute per vraag aan en al die lede van die span mag deelneem. Dit is belangrik dat die persoon wat die vraag vra die argument moet lei en ten alle tye beheer oor die gesprek moet hê. Die span wat ondervra word, moet verseker dat alle vrae deeglik beantwoord word. Dit is belangrik dat die vrae wat gevra word uit die opponente se toesprake kom en relevant tot die onderwerp is. Die vrae moet goed geformuleer wees, ‘n vraag soos “Watter bron het jy gebruik?” is byvoorbeeld nie ‘n goeie vraag nie.

Die debatsgesprek word gevolg deur ʼn kort pouse waarin die spanne kan vergader en ‘n repliek skryf. Enige lid van die span kan die repliek lewer, maar dit word gewoonlik deur die laaste spreker gedoen. Die repliek is nie bloot ‘n opsomming van die gesprek nie, maar moet wel die span se argument herhaal en as korrek bewys deur die ander span se hoofpunte verkeerd te bewys. Dit word gedoen deur na enige swakpunte binne die opponente se toesprake, vrae tydens die debatsgesprek ensovoorts te verwys. As die opponente nie ‘n vraag behoorlik kon beantwoord nie, is dit byvoorbeeld goed om hierop klem te lê. Die repliek kan daarom nie vooraf geskryf word nie, maar eers aan die einde van die hele proses. Natuurlik kan die raam van die repliek vooraf bepaal word, maar dit is belangrik om die hele gesprek (die opponente se hoofpunte en antwoorde tydens debatsgesprek) in ag te neem.

Debat is baie lekker aangesien leerder in ’n groep kan werk en die werk tussen mekaar kan verdeel. Dit is ook meer interaktief, aangesien die twee spanne met mekaar in gesprek kom en die gesprek nie bloot van toesprake afhang nie. Debat leer ’n mens ook om op jou voete te dink as iemand van die ander span jou vas probeer vra. ’n Bonus is dat spanmaats mekaar altyd ’n bietjie kan help indien iemand vassteek.

Kopiereg behoort aan die skrywer: Sjané Colin

Maart 2018

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns, Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit

(C) Franci Greyling 2000-2018