2010-11

jongklomp
kollig


 

Kollig ... redenaars
So maak mens - Juniors
Christien Neser

Die volgende riglyne is opgestel na aanleiding van redenaarsrepliek. Dit is handig vir Ma wat moet gaan sit en toespraak skryf of wat later die klein redenaar moet afrig. Die kommentaar geld veral vir die ATKV se redenaarskompetisie, maar is natuurlik ook toepaslik op ander redenaarsgeleenthede.

JUNIORS

  • Alhoewel die gr i en ii leerders nog baie klein is, moet hulle en hul ouers reeds kennis neem van die formaat van 'n redenaarstoespraak. 'n Algemene tema word dikwels gegee, bv. "Kompetisie". Die tema klink dalk heel eenvoudig, maar elke kind moet nou (natuurlik met behulp van die ouers) sy eie onderwerp formuleer. Onthou ook: 'n redenaar moet altyd oor iets redeneer en nie bloot vertel nie. Wenk aan ouers: formuleer 'n vraag wat aansluit by die tema, en bou dan die toespraak daarom. Byvoorbeeld: "Vriende" is die tema; julle vraag binne hierdie tema kan dan wees: "Is vriende nodig?" "Word jy aan jou vriende geken?" "Hoekom kan vriende jou in die moeilikheid laat beland?" ens. Iewers binne die eerste twee paragrawe van die toesprakie, moet daar nou 'n vraag gevra word of 'n stelling gemaak word waaroor daar geredeneer kan word.

  • Hou die toespraak binne die leefwêreld van die kind - waak teen té verhewe aanhalings en hoogdrawende taal. Voorbeelde wat uit sy eie gesin/leefwêreld aangehaal word, is aan te beveel. Moenie bang wees om eie ouma, pa of oom aan te haal nie. Dit hoef nie Winston Churchill of Bill Gates te wees nie.
    Hou jou oë oop vir koerantberigte wat kan aansluit by julle tema. Dis altyd 'n goeie verwysing. Die juniors sal selde iets sê soos: "Ek lees in Beeld van 10 Oktober..."; nee, dan eerder "My ma lees nou die dag vir my in Beeld van 10 Oktober dat..." Ouer leerders sal natuurlik self die koerant gelees het (hopelik!)

  • Moenie bang wees vir 'n bietjie humor nie! En moenie bang wees vir ware situasies uit julle eie huis nie. Dis altyd oorspronklik en genotvol. Maar onthou: die insident is altyd net 'n aanknopingspunt. Moenie 'n ellelange storie vertel nie.

  • Aanhef: Die toesprakie begin NIE met die tema nie, bv "Hallo, my naam is Pietie en ek praat oor Respek" nie. Aanhef kan bv wees:
  • Goeienaand voorsitter en maats, ek is mal oor speel, en julle?
  • Voorsitter en maats, ons land is vol ongeskikte mense wat geen respek by die huis geleer het nie.
  • Geagte voorsitter, wie sal die planeet bewaar as ons dit nie nou doen nie?
  • 'n Aanhaling, rympie,grappie of liedjie mag selfs die toesprakie inlui.

  • Dit is tradisie/gebruik dat die voorsitter erkenning kry (nie die beoordelaar nie!) Die ouer kinders spreek wel die gehoor aan as "Dames en here", maar die kleintjies kan maar gerus na "maats" verwys.
  • Gehoorkontak is belangrik. Dit is nuttig om 'n vraag te stel of aanvegbare stelling te maak - sodoende bly die gehoor betrokke by die argument. Humor wat die gehoor laat skater is vir die beoordelaar 'n teken dat die gehoor die toespraak geniet. Nie dat 'n grapppige toespraak noodwendig die beste een is nie! En niemand hoef "Dankie" aan die einde te sê nie: eindig net met 'n lekker sterk slot. "End it with a bang, and not a whimper!"

  • Gehoorkontak word ook bewerkstellig as volg:
    • Oogkontak - kyk na die gehoor, en moenie net die beoordelaar aanspreek nie. 'n Goeie spreker sal die rustig sy oë oor die gehoor laat dwaal, soms na een persoon spesifiek kyk en 'n stelling maak, dan weer die oë terug na die middel laat beweeg. Die essensiele is dat dit NATUURLIK moet lyk, asof die spreker met die hele gehoor wil gesels.
    • Praat hard en stadig genoeg, sodat die gehoor elke woord kan hoor
    • Pouseer - skep stiltes of wissel tempo af, sodat die toespraak nie temerig raak nie. 'n Pouse kan spanning skep, bv nadat 'n vraag aan die gehoor gevra word, eers 'n pouse, dan die antwoord.
    • Nota's is net 'n hulpmiddel - dit kan 'n skeidingsmuur raak tussen die gehoor en die spreker. Party blaai verwoed deur die nota's en maak die gehoor eintlik angstig. Ander raak weer so notagebonde dat die toespraak gelees en nie voorgedra word nie.
    • Tempo: 'n spreker wat gespanne is en te vinnig praat, maak die gehoor ook gespanne. Selfs 'n puik toespraak gaan so verlore.
    • Hande wat vroetel - as jy nie kaartjies het om vas te hou nie, hou gerus jou hande agter jou rug vas of ontspanne langs jou sye.
    • Gebare: gebare kan baie effektief of steurend wees, afhangende van hoe gepas dit in die toespraak gebruik word

Kopiereg behoort aan die skrywer: Christien Neser.

November 2010

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012