2013-07

jongklomp
kollig


 

Kollig ... toneel
Die middeljare
Jana Snyman

TONEEL: 14-16 jaar

KARAKTERS:

Ma: 'n Getroude vrou wat oor minder as  'n dag 50 jaar oud word, met twee kinders. Sy is mollig met lang vaal bruin hare. Sy is selfbewus oor haar ouderdom wat in kontras is met die van haar jong kinders. Sy wil graag weer haar jongdae ervaar, en is besig om deur 'n ontkenningsfase omtrent haar ouderdom te gaan.

Karissa: 'n Jong populêre meisie in haar hoërskooljare. Sy het glansende  hare wat altyd oor haar skouer hang. Sy is slank en lenig gebou en is baie selfbewus en modieus. Sy let baie op na wat sy eet sodat haar figuur nie skade sal ly nie.

Pieter: Karissa se broer, is 'n 14-jarige seun met kort rooi hare en 'n avontuurlustige geaardheid. Hy hou niks van sy ma se gereelde diëte nie, en is permanent honger. Hy sê wat hy wil, wanneer hy wil en gee nie om oor die opinies van ander nie.

Dominee: Baie konserwatief en netjies. Hy maak altyd seker dat sy gemeente op die regte pad bly en nie afdwaal nie.

Ruimte: In die kombuis

Dekor en Stelontwerp: Teen die agterste hoek van die verhoog is daar kombuiskaste. Voor die kaste in die middel van die kombuis is daar 'n kombuistafel, met 'n blik koekies daarop. Aan die linkerkant van die verhoog is daar 'n kombuisdeur wat direk na die voordeur lei. Agter die kombuisdeur staan daar 'n yskas. Die voordeur is deur die kombuisdeur sigbaar. Aan die regterkant van die verhoog is daar nog 'n stel van drie kombuiskaste. Langs die kaste is daar 'n stel van twee wasbakke met 'n venster bo dit. Daar lê ook 'n broodplank en mes op die agterste kombuiskaste.
(Die stel kan vereenvoudig word.)

Die middeljare

(Ma staan met haar rug na die gehoor en is besig om die agterste kombuiskaste skoon te maak. Sy het 'n stywe jean aan, met 'n hemp wat tot by haar naeltjie optrek. Haar hare is wanordelik bo-op haar kop gestapel en haar grimering is swaar aangewend.)

Ma: Die lewe is 'n lied, ja, dit is of jy voël is of mens… ( word op 'n hoë noot gesing en word vals oorgedra. Die liedjie gaan aan maar op 'n veel sagter noot sodat Karissa gehoor kan word. Ma beweeg haar heupe ritmies op die deuntjie.)

Karissa: Ag, Pieter, vergeet van Melanie! Sy sal nooit vir ʼn wortelkop soos jy gaan nie. ( Karissa se stem word vanaf die voordeur gehoor, terwyl sy Pieter uitdagend aankyk. Hulle kan duidelik deur die kombuisdeur gesien word.)

Pieter: Dis nie rooi nie! Ma sê dis 'n strawberry blonde. (Pieter klap die voordeur hard agter hom toe.)

Karissa: Sy moet dit sê man, sy is jou… (haar woorde verdoof en sy steek vas in die middel van die kombuisdeur met haar oë op haar ma.) Ma?

Pieter: Toe, gee pad man! (bots teenaan Karissa en mik verby haar. Erg geïrriteerd. Hy stap dadelik na die tafel, en gaan sit op 'n stoel met sy gesig na die gehoor. Gooi sy tas hard neer en trek die koekieblik nader  en begin daaraan peusel, onbewus van als.)

Ma: Uiteindelik! Waar was julle so lank? (Ma draai haar kop na Pieter sodat die oormaat grimering duidelik sigbaar word. Die klein hemp en jean word duidelik beklemtoon.)

Pieter: Dis Karissa! Sy en haar boyfriend het mekaar amper ingesluk na skool. Ma sal haar moet dophou, sy aard na die common kant van die familie. (mond vol koekies, wat plek-plek by sy mond uitval. Hy kyk Karissa uitdagend aan en steek vir haar tong uit.)

Karissa: (Onbewus van Pieter se aanmerking, met haar oë nogsteeds op haar ma gerig) Ma… is dit my jean daardie?

Ma: O, ag jy weet mos ek en jy is amper dieselfde grootte, toe dog ek dit sal my goed pas… ek het tog die ekstra bates daarvoor! (Kyk Karissa simpatiek aan) Toemaar my kind, jy sal nog in dit ingroei! (Ma haal die tamaties uit die yskas, haal die mes uit die laai en begin dit te sny.)

Karissa: (Doodkalm, maar duidelik ontsteld) Ma, daardie hemp het ek in graad 7 laas gedra, want hy was te klein vir my. (Sy gooi haar hande moedeloos in die lig op, en rol haar oë van ergenis.)

Ma: (Draai verbaas na Karissa, terwyl Pieter hulle stilweg beskou.) Maar my kind, het jy dan gewig aangesit dat die hemp nou nie meer pas nie? Ten minste pas hy my darem mooi né? (duidelik in haar skik begin sy die tamaties verder sny. Karissa beweeg stadig na die tafel terwyl sy haar nael kou. Sy gooi haar sak hard neer.)

Karissa: O, tog (Sy sak oorkant  Pieter in die stoel in, haar gesig nog sigbaar en begin teensinnig aan 'n koekie kou.) Wat gaan die mense sê?

Pieter: (Verstik amper aan sy koekie en praat met 'n mond vol koekies) Wat mompel jy nou al weer?

Karissa: (Duidelik vererg)  As jy ophou vreet, wortelkop, sal jy sien dat jou ma soos 'n tiener in 'n ouma se lyf lyk. (Karissa kyk weer na haar ma wat besig is om kos te maak en 'n rilling trek deur haar lyf.) Gross.

Pieter: (Hardop) Ma lyk al te pragtig vandag. (Hy glimlag sarkasties in Karissa se rigting en begin dan weer 'n koekie te eet. Karissa klap hom hard agter sy kop dat die koekies by sy mond uit trek.)

Ma: O, ja voor ek vergeet, dominee Marx kom vanmiddag. (kyk streng na hulle) Sorg maar dat julle netjies lyk. (Sit die slaai in die yskas en begin by die kombuisdeur uit te loop.)

Karissa: Die dominee? Wat sal die gemeente sê as hulle ma so sien? (Lig haar hand melodramaties na haar voorkop en maak haar oë toe)

Pieter: Hulle kan maar net bid. (Sedig, en naby aan lag)

Karissa: Jy dink dis 'n grap né? Wel terwyl jou 50-jarige ma soos iemand uit Pretty Women lyk, kan jy vergeet om vir Melanie te beïndruk.

Pieter: (Die koekie stop halfpad na sy mond, en hy raak ernstig) Jy is seker reg…

Karissa: (Val hom in die rede) Natuurlik is ek reg, die vraag is net wat het haar besiel? (Karissa staan van die stoel af op en begin op en af in die kombuis loop. Sy gaan staan voor die venster) Ek bedoel sy word môre 50, en nou wil sy skielik sexy word? Waar in die lewe kry jy 'n mens oor 40 wat sexy is? (Hewig ontsteld. Sy gaan na die yskas en haal 'n groot stuk sjokolade uit.)

Pieter: Ek dink daar behoort ʼn ouderdomsbeperking op sulke klere te wees. (Diep ingedagte)

Karissa: (Vat 'n groot hap van die sjokolade) Ek meen sy is al lankal oor die muur!

Pieter:  Muur? Watter muur? Waar?

Karissa: (Ongeduldig) Dis net figuurlik.

Die voordeurklokkie lui.

(Pieter en Karissa verstyf, kyk na mekaar en hardloop na die voordeur.(Hulle kyk na mekaar en maak teensinnig die deur oop.

Deur kraak oop.

Karissa: Dominee, wat 'n onverwagse verassing!

Dominee: Middag, dogter.

Pieter: Hallo, dominee.

Dominee: Hallo, Pietman.

(Ongemaklike stilte. Dominee maak keelskoon.)

Dominee: Nou ja, mag ek maar binnekom?

Karissa: Dominee sien… (aarsel) my ma is…is (kyk hulpsoekend na Pieter)

Pieter: … Op die toilet.

Karissa: (Merkbaar verlig, maar tog ontsteld oor die aanmerking.) Ja, dominee sien, hier is so ʼn aaklige maagvirus wat die ronde doen.

Pieter: Ja, en die hele huis is geïnfekteer met kieme. (Kry ʼn hoesaanval, waarna Karissa by hom inval.)

Dominee: (Ongemaklik)  Dalk moet ek 'n gebed vir julle doen?

Pieter: Ai, dominee u is nes die… die barmgatige Samaritaan. Om u gesondheid nou so vir ons te wil opoffer! (woordspeling op 'n barmhartige. Hy kyk die dominee grootoog en onskuldig aan. Karissa kyk gespanne van die een na die ander.)

(Karissa begin weer hoes, reg op die dominee se pak.)

Dominee: (Skielik haastig en ongewillig) Dis nes julle daar sê, dalk moet ek later terugkom.

(Karissa laat haar arm gedwonge, maar met liefde om haar broer se nek gaan.)

Karissa: Baie dankie dat dominee verstaan, Totsiens!

Dominee: Totsiens dan… (Nog voor die dominee klaar gepraat het word die deur toegeklap.)

(Saam stap hulle terug na die kombuis en val moeg in die stoele neer.)

Pieter: Van wanneer af lieg jy so?

Karissa: (Kyk onskuldig by die venster uit) Ek lieg nie… ek verdraai bloot die waarheid so bietjie. (Daar is ʼn ruk stilte)

Pieter: Jy weet ma verjaar môre?

Karissa: (Lê op haar hand en staar by die venster uit, diep ingedagte) Ja, so?

Pieter: Sy word 50…

Karissa: Ek kan wiskunde doen Pieter, al het ek wieletjie wiskunde! (Omgekrap)

Pieter: (Ignoreer die snedige aanmerking)  Wel Sarel het my vertel dat sy ma allerhande snaakse goed aangevang het toe sy 50 geword het…

Karissa: (Sit regop, duidelik meer geïnteresseerd) Soos wat?

Pieter: Sy het glo haar somersklere in die middel van die winter aangetrek omdat sy sulke… sulke hitte gloede kry, en ek het al gesien hoe sy sulke snaakse giere kry!

Karissa: En jy dink dit het iets met die 50-wording te doen? (Luister aandagtig)

Pieter: (Skielik opgewonde, en laat val sy koekie uit sy hand) Ja, man! Sarel sê mens noem dit iets soos men… meno,( kry nie die regte woord nie) Ag man, iets soos die middeljare!

Karissa: Natuurlik! (Spring opgewonde uit haar stoel. Dit val agteroor.) Sy gaan deur Menopouse…Sy is definitief oud genoeg.

(Duidelik minder ontsteld en dankbaar dat daar 'n verduideliking is vir haar ma se gedrag,  tel sy haar sak van die grond af op.)

Karissa: (Kyk alwetend na haar jonger broer, wat haar verward aanstaar.) Ag, toemaar dis nie 'n terminale aansteeklike siekte nie, dit sal oorwaai! Sy moet net tot by daardie selferkenningsfase kom. (Beduie melodramaties met haar hande op haar hart gerig.)

(Karissa haal haar sakspieëltjie uit haar tas en bekyk haar gesig krities. Sy maak dit weer toe.)

(Pieter se gesigsuitdrukking wissel van verbaas na verward en hy weet nie wat om te dink nie.)

Karissa: Nou, ja, dan sal ek seker my vriende vir eers iewers anders moet gaan entertain tot ma oor die… ding gekom het. (Sy gooi haar tas oor haar skouer en met 'n wuif stap sy uit die kombuis uit en by die voordeur uit.)

(Pieter sit vir lank alleen, met die ligte wat sy verwardheid uitbeeld. Hy dink terwyl hy aan 'n koekie knibbel. Ma kom die kombuis binne. Die broek begin al plek-plek te skeur en die toppie lig al hoe hoër op. Ma begin naarstigtelik na een van haar resepteboeke soek.)

Ma: Wie het vroeër die klokkie gelui?

Pieter: Ag, sommer so iemand wat vir die siekes bid. (bang om vir sy ma te jok.)

Ma: Wil seker net weer geld hê! Pietman het jy daardie Diëte wat werk boek van my gesien?”

Pieter: Nee glad nie ma, wat sal ek nou met dit wil doen? (Ontken dit hewig, maar voel duidelik skuldig oor iets.)

(Ma wil by die kombuisdeur uitloop.)

Pieter: Ma (Kyk aandagtig)

Ma: Ja, Pietman (draai om.)

Pieter: Ma hoe lank al terug is ma oor die muur? (Baie ernstig)

(Ma verstil merkbaar. Die ligte verdof.)

SLOT


Kopiereg: Jana Snyman

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Jana is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2013