2013-08

jongklomp
kollig


 

Kollig ... toneel
Dr. Aak
Charl Labuschagne

TONEEL: 16+

KARAKTERS:

Sielkundige: Dr. Aak. – Optimisties en geduldig

Pasiënt 1: Mnr. Esta Biel - Gaan deur middeljarekrisis

Pasiënt 2: Mej. Lisa Vlak - Tiener, selfbejammering, “depressief” en  populêr

Skildery: Gert - “The Scream - Edvard Munch” – Paranoïes, skrikkerig en het empatie met die pasiënte.

Bank: Sofie - Ondersteunend en sorgsaam, vervul die rol van sielkundige

Potplant: Ficus - Sarkasties en het 'n donker-/droë sin vir humor

PLOT:

Dr. Aak is 'n sielkundige wat twee pasiënte behandel, Mnr. Esta Biel is haar eerste pasiënt vir die dag.  Mnr. Esta Biel is 'n agt-en-dertig jarige professor wat deur 'n middeljarekrisis gaan. Mej. Lisa Vlak is Dr. Aak se tweede pasiënt, 'n Gr.12 meisie van Êrens Hoër, wat populariteit probleme het. As gevolg van die “stres” het sy “ingegee vir groepsdruk” en het begin rook. Haar ma dink sy moet 'n sielkundige sien want Lisa doen “die goed” as gevolg van die egskeiding. Lisa het in tussen depressie en  insomnia ontwikkel en luister nou na “One direction”.   

Tydens die dokter en pasiënt sessies, lewer die dekor kommentaar, maar net die gehoor kan hulle hoor. Die skildery, Gert, “The Scream” voel asof Dr. Aak met hom persoonlik praat en vind empatie met die pasiënte. Die Bank, Sofie simpatiseer met die pasiënte en met Gert en vervul die rol as “sielkundige”. Die potplant, Ficus lewer droë- en donker humor en verteenwoordig die “tipiese mens”

STEL:

Die toneel speel af in Dr. Aak se spreekkamer waar sy die pasiënte ontvang en behandel. Die jaar is 2013.

stel

Dr. Aak

(Gordyne maak oop. Dekor is op verhoog.)

Sofie: Goeie môre, vandag gaan ʼn goeie dag wees.

(Ficus rol sy oë en sug.)

Ficus: (sarkasties.) Is elke dag nie 'n goeie dag om dekor te wees nie.

Gert: Sofie, is jy seker dit gaan ʼn goeie dag wees? Wat as daar 'n psigopaat hier instorm en ons almal vermoor? Of “aliens” wat my kom wegvat na hulle planeet toe en daar mostert op my mors! Alien mostert!

(Ficus rol sy oë en sug.)

Ficus: (sarkasties.) Is elke dag nie 'n goeie dag om dekor te wees nie?

(Deur gaan oop... Gert skrik en gil.)

Gert: Aahhh!

(Dr. Aak stap deur die deur en tree op verhoog.)

Sofie: Goeie môre, Dr. Aak.

(Dr. Aak gaan sit agter haar lessenaar en skommel 'n paar papiere.)

Dr. Aak: Laat ons hier sien... tienuur. Mnr. Esta Biel.

(Dr. Aak staan op en maak koffie.)

Ficus: Ek dink daai man het te veel tik gerook op sy dae.

Sofie: Sies Ficus, jy kan nie dit sê nie!

Ficus: Hy was dan laas week 'n seerower en die week voor dit 'n spioen! Ek sê vir jou vandag gaan hy 'n alien wees.

(Gert skrik.)

Gert: 'n Alien! Sofie, hy gaan my na sy moederskip toe vat!

Ficus: Jy bedoel seker, sy moeder se skip. Dit is, seker waar hy nog bly.

(Dr. Aak gaan sit agter haar lessenaar.)

Sofie: Gert, moet nie vir Ficus luister nie, Ficus is net gevul met suurgrond.

(Klop aan deur. Gert skrik.)

Dr. Aak en Sofie: Kom binne!

(Mnr. Esta Biel tree op verhoog. Sy hare is terug gekam, met 'n sonbril op sy gesig. Hy dra 'n hemp wat se moue afgesny is, met die woorde ‘Rock n’ Roll’ op gedruk.)

Ficus: (Ficus giggel.) Goeie dag Mnr. Bon Jovi.

(Dr. Aak staan op en groet Mnr. Biel.)

Dr. Aak: Goeie dag, Mnr. Biel, hoe gaan dit vandag met u?

(Mnr. Biel sit sy een voet op die tafeltjie en maak asof hy ʼn ‘air’ kitaar speel.)

Mnr. Esta Biel: Soos 'n Led Zeppelin solo, Dok.

Ficus: (Sarkasties.) Natuurlik

(Dr. Aak wys vir hom hy moet sit. Mnr. Biel gaan lê op die bank.)

(Dr. Aak gaan sit op haar stoel.)

Dr. Aak: Ek is bly om te sien die seerower fase is verby, gee u om, om kommentaar daarop te lewer?

Mnr. Esta Biel: Die ‘chicks’ het nie die baard of die swaard ‘gelike’ nie.

(Dr. Aak skryf op haar papiere.) 

Ficus: Die ‘chicks’ was nie die enigstes nie.

Gert: Ek het van sy baard gehou, dit was so manlik

Sofie: Ek dink hy het agter sy baard weggekruip, hy het iets of sy gesig probeer wegsteek.

Ficus: Ek sou ook.

Gert: Ek voel ook asof ek iets wegsteek. Het enige iemand al gesien wat aan die anderkant van my is?

Dr. Aak: So Mnr. Biel waar het die ‘Rock n’ Roll’ “image” ontstaan?

Ficus: In die 60’s waar hy behoort.

Mnr. Esta Biel: Nou die dag toe ek vir goud gesoek het toe vind ek 'n ou AC/DC plaat.

Sofie: Klink soos A.D.D

Dr. Aak: Ek sien.

(Dr. Aak skryf op haar papiere.)

Dr. Aak: Wat wil jy bereik met die “image”

Ficus: Behalwe om vir gelag te word.

Mnr. Esta Biel: Ek wil 'n band begin.

Dr. Aak: Ek sien.

Gert: Ek wil ook ʼn band begin. “Gert en die gouache kolle”

Dr. Aak: Mnr. Biel, wat van u studente?

Mnr. Esta Biel: Drie van hulle gaan in my band wees.

Dr. Aak: Ek sien en die res van die klas?

Mnr. Esta Biel: Hulle kan net chill.

Dr. Aak: Mnr Biel, jy het Verworwe Identiteitsgebreksindroom. Ek stel voor jy neem die “Image” van 'n Professor aan en dan kyk jy hoe dit vir jou uitwerk. Dit is al tyd wat ons vir vandag het. Baie dankie.

Mnr. Esta Biel: Ek sal try, maar ek belowe niks. Dankie, Dok. Peace.

(Dr. Aak staan op en maak die deur oop vir Mnr. Biel. Mnr Biel. Groet die dokter en tree van die verhoog af.)

(Dr. Aak stap terug na haar lessenaar en begin 'n verslag te skryf.)

Sofie: Ek hoop daai man kom reg.

Ficus: Ek twyfel sterk. Volgende week is hy terug met 'n ander karakter.

Gert: Asseblief laat hy net nie 'n alien wees nie. 

(Telefoon lui. Dr. Aak antwoord.)

Dr. Aak: Dr. Aak goeie môre... Goeie dag, Mevrou Vlak. Ja... Ok... Ok... Ja... Ok... Dit is reg so... Totsiens.

(Dr. Aak sit die telefoon neer en kry haar papiere reg en stap na haar bank toe.)

Ficus: Lisa Vlak. As sy nog eenkeer haar chappie tussen my blare ingooi gaan ek 'n rank spruit!

(Klop aan deur. Gert skrik.)

Dr. Aak en Sofie: Kom binne!

(Lisa Vlak tree op verhoog. Jong, pragtige tienermeisie in skoolklere, besig op haar selfoon en sy kou kougom.)

(Dr. Aak staan op en groet Lisa.)

Dr. Aak: Goeie dag, Lisa, hoe is jou dag?

(Lisa kyk skaars op.)

Lisa: Almal haat my, Dokter, is dit omdat ek lelik is. Is ek vet? Al die meisies sê ek is. Ek dink ek is! Almal haat my.

Ficus: Natuurlik doen hulle, natuurlik is sy vet en ek is 'n appelboom.

Sofie: Shame, sy gaan deur 'n slegte tyd.

Gert: Ek weet hoe sy voel! Soms voel ek ook dat my strepe te vet is.

(Dr. Aak wys vir Lisa sy moet sit.)

Dr. Aak: Sit en dan praat ons oor dit. Hoekom sê jy dat almal jou haat?

Lisa: Want hulle doen, niemand verstaan my nie.

(Lisa gaan sit op die bank.)

Ficus: Duidelik nie. Sy is heeltyd op haar foon en praat met 'n mond vol chappie.

Gert: Sy is dan so mooi en hare so skoon, hoe kan iemand nie van haar hou nie?

Sofie: Sy soek net aandag, maar haar ouers is te besig, dan soek sy dit op verkeerde plekke by die verkeerde mense.

(Dr. Aak skryf op haar papiere.) 

Ficus: Ag die jeug, die toekoms van die mens, verdoem.

Gert: Gelukkig het haar ouers haar nie dadelik aan iemand probeer smous toe die verf droog raak nie.

Ficus: Hulle kon nie 'n koper kry nie, ek dink hulle het al probeer.

Dr. Aak: Hoekom verstaan niemand jou nie?

(Lisa begin te huil...)

Lisa: Want hulle wil hê ek moet goed doen waarvan ek nie hou nie. Goed wat my beperk, hulle wil nie hê ek moet kan vlieg nie! Ek moet kan vlieg, Dokter! Hulle sit my in 'n hok en tart my. Hulle haat my!

(Dr. Aak skryf op haar papiere. Gert begin ook te huil.)

Ficus: Dames en Here, die Oscar gaan na Mej. Lisa Vlak.

Sofie: Arme voëltjie.

Gert: Al wat ek ook wou gedoen het, is vlieg!

Dr. Aak: Watse goed moet jy doen, Lisa?

(Lisa skuif reg op die bank, blaas haar neus en maak haar keel skoon.)

Lisa: Hulle dwing my om my huiswerk te doen en my kamer skoon te maak. Ek moet als vir hulle doen, ek is hulle slaaf. Ek wil net wegloop en my eie ding doen.

Dr. Aak: Ek sien.

(Dr. Aak skryf op haar papiere.)

Sofie: Ek dink nie dit is die probleem nie, sy projekteer dit net op hierdie goedjies, soos kamer skoon maak en huiswerk doen. Ek dink dit is iets dieper.

Ficus: wat kan dit wees? (Sarkasties.) Dit is net hormone, die arme ding sit met tonne van dit, gelukkig het sy my nie hoor nie anders het sy gesê, ek sê ook sy’s vet.

Dr. Aak: Lisa, dink jy nie jou ma wil net hê jy moet jou kant bring nie?

Lisa: Dalk. Maar sy karring heeltyd, en ek is soms besig met my eie goed, dan kan ek nie dadelik nie.

Dr. Aak: Ek sien.

(Dr. Aak skryf op haar papiere.)

(Ficus sug en rol sy oë.)

Ficus: Watse goed nogal? Boy-friends, text messages en teepartytjies?

Gert: Klink vir my goed!

Dr. Aak: Lisa, jou ouers is baie lief vir jou, hulle wil net die beste vir jou hê. Een van die dae gaan jy Universiteit toe en dan kan jy vlieg, maar vir nou moet jy nog vasbyt.

Ficus: Ek dink sy doen genoeg vasbyt met al daai chappies!

Gert: Ek wil ook net vlieg. Ek verstaan jou, Lisa!

Sofie:   Ek dink sy moet net ontspan. Lewe is nie so ernstig!

Dr. Aak: Ek dink jy moet net ontspan Lisa. Lewe is nie so ernstig nie. (Sofie glimlag wyd) As jy vir jouself lief is maak dit dan nie saak of ander mense jou haat nie. En jy is nie vet nie, jy is pragtig. Dit is al tyd wat ons het Lisa. Sien jou volgende week.

(Lisa en Dr. Aak staan op. Dr. Aak loop saam met Lisa tot by die deur. Lisa gooi haar kougom in die plant. Gordyne maak toe met die geraas van Ficus, soos wat hy met Lisa raas oor die kougom.)

 

SLOT


Kopiereg: Charl Labuschagne

As jy dié stuk wil opvoer, stuur 'n e-boodskap aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.
Kopiereg behoort aan die skrywer.

Charl is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.

Terug na Kollig

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2013