2014-06

jongklomp

storienuus
oondvars
kuier by...
lusmakers
storiegedorie!
storiemakers
gril!grot
www
kollig
versfabriek
skryfgeheime
vonkelfiksie
lapastories
verinniewêreld
haasbekkies
letterpret
wedstryd

boeksoek

soek

posbus

 
na grootmense
 

kalahari

Lusmakerbrokkies uit nuwe boeke
brigadier

Brigadier en die raaiselponie

Marga Jonker

Tafelberg

“Flippen rý net, Bio-pappie, step on it!” sis Alexandra se stem in Ben se rigting. “Ek gaan mal word as ek nog ‘n oomblik langer hier moet rondhag!”
spasieDie Land Rover se deur klap toe en die logo MULTIMEDIA P teen die linkerkant van die voertuig word MULTIMEDIA PHOTOGRAPHY.
spasie“Gordel vas!” skree Christa van die stoep af waar sy onder Marius se arm staan.
spasie“Ja, ja, gordel vas,” beaam Ben. Hy loer oor sy skouer na Zahn, maar haar veiligheidsgordel is reeds vas.
spasieDie Land Rover trek vinnig weg, die perdesleepwa steunend agterna.
spasie“Ag, ek hoop tog net Marius skink gou vir haar iets vir haar senuwees.” Alexandra se stem klim ‘n oktaaf.
spasie“Hy sal darem seker. Hy lyk seker net so skaperig?” sê-vra Ben.
spasieZahn kyk terug na die kleinerwordende prentjie agter die Land Rover. Marius staan met sy arm styf om haar ma se lyf terwyl dié dapper vir hulle waai.

nova eindspel

Nova Eindspel

Fanie Viljoen

Lapa

“Nee, asseblief, moenie!” kreun Lucas Niemand. Hy stik en die spasmas ruk deur hom. “Bly weg! Nee!” ‘n Frons plooi op sy voorkop. Sy oë is styf toegdruk. Snymerke lê oor sy vuil gesig, kaal bolyf en bene. Op sy ken en by sy keel is persblou kneusplekke. “Asseblief!” Sy mond bly ooop toe hy dit sê. Daar is rou skaafmerke en klam bloed op die sagte vleis binne sy lippe.
spasieHy is vasgevang in ‘n droom.
spasieDis ook hoe alles vir hom begin het: met ‘n droom van ‘n ruimteskip. Hoe lank gelede nou al?
spasieDis moeilik vir hom om te sê. Hy het tred verloor met die tyd.
spasieMaar meer nog, hy het tred verloor met homself.
spasieDie Lucas Niemand wat nou hier lê – in die veld, ‘n paar kilometer weg van die geheimsinnige dorpie Nova – is nie meer dieselfde Lucas wat daardie eerste drome gehad het nie.
spasieDie lang gras buig oor Lucas se seer, inmekaargetrekte lyf. Dit ruis saggies. Bo die veld dreun die donderweer.
spasieWater – dit is wat hy nou nodig het. Sy tong skuur oor sy lippe en sy oë vertrek weer van pyn toe dit ‘n seerplek raak.
spasieLucas Niemand, sê ‘n stem binne-in sy kop. Lucas!
spasieLucas reageer nie. Hy lê net.
spasieLucas, Staan op!
spasieHy skud sy kop effens en hoor die grond in oorskulp ritsel.
spasie‘n Grys wese met ‘n klein lyf, groot kop en groot swart oë buk by hom.
spasieLucas wil instinktief wegruk van die aanraking aan sy skouer.
spasie“Nee, asseblief nie! Ek kan nie meer nie!” sê hy sag.
spasieLucas, jy is veilig. Jy is nie meer in die donker wesens se skip nie, sê die grys ruimtewese. Staan op, jy moet huistoe gaan. Die spel het begin. Jy is deel daarvan. Maar moenie bang wees nie. Ons is hier om jou te help.

oor 'n motorfiets...

Oor 'n motorfiets, 'n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word

Jaco Jacobs

Lapa

Almal dink dis oor ‘n hoender wat ek vir Drikus bloedneus geslaan het, maar dis nie regtig waar nie. Klarabel was nou wel een van my beste leghorns, maar ek’s nie die soort ou wat sommer aan mense slaan nie. Selfs nie oor ‘n hen wat met die vorige Bloemfomtein-skou ‘n derde prys gekry het nie.
spasieMy naam is Martin Antonio retief. Ek is dertien jaar, elf maande en twaalf dae oud. My ma noem my Martin, maar almal by die skool noem my Hoender. Selfs my suster en oom Hendrik noem my so.
spasieMy pa is dood toe ek elf jaar, drie maande en ses dae oud was. Hy was 43 jaar, sewe maande en twee dae oud. Langs hom op die sitplek was ‘n gevriesde snoek, want my ma het gevra hy moet by Pick n Pay stilhou op pad terug van die werk af en vir ons ‘n snoek vir aandete saambring. Die lorrie wat voor hom ingedraai het, het ‘n vrag met 30 nuwe Mecer-rekenaars gehad. Die rekenaars was oppad na ‘n skool in ‘n arm woonbuurt. Al die rekenaars is in die botsing vernietig en die verkeer in Nelson Mandelarylaan is vir meer as ‘n halfuur tot stilstand geruk. Ek weet dit, want dit is wat in die koerant gestaan het.  Ek weet nie of daardie arm kinders toe ooit nuwe rekenaars gekry het nie. My pa is sewe dae later begrawe, op ‘n Dinsdag. Daar was 62 mense op ssy begrafnis (as jy nie die dominee en die mense van Doves-begrafnisdienste bytel nie).
spasieEk hou daarvan om dinge te tel. Maar eintlik was ek besig om te vertel van Drikus.

thomas

Thomas @ vrees.net

Carina Diedericks-Hugo

Lapa

“Dit suig mielies!” Thomas plof op die rusbank neer.
spasie“En nou?” Thomas se pa kyk verbaas op van die tydskrif wat hy besig was om te lees.
spasie“Drie toetse! Drie! Op een dag! Dink die onderwysers ons is masjiene?” Thomas trek sy vingers deur sy donker hare. Soos hy nou voel, los hy sommer skool en gaan sny Nuweland se gras. Nuweland se Grassnyer.  Klink beter as Doodgewerkte Skooldude.
spasieThomas se pa glimlag. “Begin van voor af. Ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie Tom.”
spasieThomas sug. Hoe verduideik mens vir jou ouers dat dit vrek stresvol is om in die hoërskool te wees? Jy moet elke dag vroeg opstaan om vir ure en ure by die skool te sit, te luister na vervelige goed, pouses te keer dat jy jou naam met ‘n plank slaan, die hele middag rond te hol by rugby- of atletiekoefening, en in die aand kan jy nie eers TV kyk nie, want daar wag ‘n berg huiswerk vir jou. Skool is nie vir piesangs nie.

wraak

Wraak

Daniëlle Bakhuis

Lapa

“Jy wil my dump?”
spasieHenk kyk my aan asof ek pas voorgestel het dat ons ons tande met skeermesse moet borsel.
spasie“Ernstig? Jý? Vir mý?” vra hy.
spasieEk byt op die binnekant van my wang om nie iets terug te sê nie. Van die simpatie wat ek ‘n paar minute gelede nog gehad het, is net mooi niks oor nie.
spasieEk het opgesien daarteen om met hom uit te maak. Ek het selfs op die internet gaan kyk wat die beste manier is om dit te doen. Bly vriendelik. Hy of sy kry reeds swaar genoeg, was een van die wenke waarop ek afgekom het. Vet kans dat die skrywer van daai stukkie wysheid al ooit met iemand soos Hnek moes uitmaak.
spasie“Het jy regtig gedink iemand soos jý kan iemand soos ék dump, Kristie du Plessis?” gaan hy voort.
spasieHoekom sê mense altyd jou volle naam as hulle vir jou vies is?
spasieHenk gluur my aan. “Kom ons verstaan mekaar moi: As iemand hierdie verhouding beëindig, is dit ék. Dis lankal nie meer vir my lekker om met jou uit te gaan nie."
spasie“Oukei,” sê ek. “Fine. Dan is jy die een wat uitmaak. As dit die enigste manier is om jou ego te red, fantasties.”
spasieHy suig ‘n asemteug na binne. “My ego? Ek het lankal vergeet ek het iets soos ‘n ego, die oomblik toe ons met mekaar begin uitgaan het.”
spasie“Nou ja toe,” sê ek skerp. “wat is dan die probleem?”

gerook

Gerook

Eldridge Jason

Lapa

Die ou wat besluit het om hierdie plek Vaalberg te noem, het sweerliks iets gerook.
spasieCobie sit op die voorstoep van ouma Anna se huisie en kyk na die dorpie wat rustig in die oggendson lê en bak. Daar is nêrens ‘n berg in sig nie, en die dorp met sy bont vissershuisies is ook allesbehalwe vaal. Cobie grinnik. Miskien het die ou wat die dorp sy naam gegee het, bedoel die plek is vaal en vervelig. Dan was hy beslis reg.
Hier bly nie baie mense nie en soos dit vir hom lyk, is almal op die dorp op ‘n manier familie van almal. Dis ‘n niggie-trou-met-neef-dorpie dié.
spasieCobie strek hom uit en tuur na die visserrbootjies wat soos ‘n ry miere die seewater binnevaar. Dit is ‘n windstil somersdag. Die vissermanne gebruik vroegoggend die lekker weerstoestande om ‘n paar krewe te vang. Die buitebordenjins se gedreun kom oor die water aangesweef.
spasieCobie het maande lank uitgesien na die Desember-vakansie, maar om ‘n paar weke by oumie Anna aan die Weskus te kom bly, was beslis nie deel van sy vakansieplanne nie. Hy sit hier op Vaalberg terwyl sy ouers iewers vakansie hou. Hy is nie eers seker waarheen sy ma-hulle dié keer is nie, maar hy het die boodskap duidelik verstaan dat hy nie welkom is om saam te gaan nie.
Maar nou ja.
spasieSy protes is met meer as genoeg kroon gestil en hy moes maar sy lippe zip.

helenahoor

Om Helena te hoor

Carolyn Morton

Human & Rousseau

Maandae is soos wanneer jy gaan kamp en met ‘n leeu in jou tent wakker word. Al hoe jy kan oorleef, is om onder die beddegoed weg te kruip en daar bly lê sonder om enige skieklike bewegings te maak tot dit Dinsdag is. Want as jy probeer opstaan, loer Maandag vir jou en lek sy lippe af in afwagting.
spasieSoos vandag.
spasieMy selfoon se wekker lui, ek kreun en druk my gesig met my arms toe. Ek wil dit afsit, maar die foon het iewers onder die bed ingeval, en ek is nie lus om op te staan en dit te soek tussen al die klere wat ek te lui is om weg te pak nie.
spasieEk druk my kussing oor my ore om die wekker se geraas stil te maak en knyp my oë styf toe totdat ek iemand aan my beddegoed voel trek.
spasie“Opstaan, Helena! Ek het belowe ek sal jou by die skool kry.” My ouer broer, Henk, wat in matriek is in ‘n ander skool as ek, ignoreer my gebrom en pluk die verbleikte kombers uit my hande sodat ek moet opstaan.
spasie“Ek is siek,” kla ek en hoes oortuigend toe hy by my kamer uitloop. Dit was partykeer genoeg om my ma te oortuig ek moet by die huis bly, maar vandat sy moes begin werk het, ry sy en Pa al soggens voor ek opstaan.
spasie“Ek het koors,” roep ek flou agter Henk aan, en dan skree ek nog harder, ingeval hy nie gehoor het nie. “KOORS!”

duinebesies

Duinebesies

Christien Neser

Lapa

“Spookkrappe?” Elle klik vererg haar tong. “Spook soos in spookasem?”
spasie“K-k-korrek. Spookkrappe,” antwoord haar oom en druk sy bril terug op sy neus. “Oxypode cursor.”
spasieElle se oom Eddie is enig in sy soort. Hy is op ‘n manier superslim, maar op ‘n anderster, verstrooide manier. Die mediese naam vir sy toestand is Asperger-sindroom – ‘n ligte graad van outisme, sê haar pa.
spasieEddie werk in die dierkundelaboratorium by die universtiteit. Hy is gek oor als wat koudbloedig en grillerig is: van dodelike skerpioene tot harige spinnekoppe. Maar spookkrappe?
spasie“Komaan Eddie! Ek mag blond wees, maar ek ‘n paar breinselle. Wat gaan jy regtig in die woestyn maak?”
spasie“D-d-die spookkrappe van Skedelkus tel. F-f-feite! O-o-oxypode cursor  is die wetenskaplike naam!”
spasieHy glimlag skamerig maar vernaam. “Professor Hay het my gekies om die eerstejaars te lei.” Die sin glip vlot uit. Hy bloos. “En j-juffrou Geertsema gaan saam. Sy gaan my a-a-assistent wees,” kry hy dit uit met gloeiende wange.
spasieEddie se nuwe bril gly oor sy neus af. Sy vorige bril is vir maande lank met pleisters aanmekaar gehou.

dit vat guts

Dit vat guts

Annalie Ferreira

Human & Rousseau

Ek het dit glad nie verwag nie. Dis ’n snikwarm somermiddag in die Kaap toe ek en Isabel huis toe swoeg van die skool af met ons boeksakke wat stamp op ons rue.
spasieDie straat koes vir die son. Gordyne is toegetrek, blomme druk hulle koppe onder hulle blare in en nie ’n enkele hond bestorm ’n tuinhekkie nie, nie eens die twee Jack Russells in die siersteenhuis by wie ’n spook normaalweg nie sal kan verbysluip nie. Onder ons voete is die gras droog en geel.
spasie’n Ou met ’n matriekbaadjie brul op sy motorfiets verby en blaas ’n wolk  uitlaatgas in ons gesigte.
spasie“Dude! Koolstofvoetspoor!” spoeg Isabel agter hom aan terwyl sy dampe wegwaai.
spasie“Sou Pa vandag dokter toe gegaan het?” vra ek. “Hy en Ma het iets gepraat daarvan vanoggend.”
spasieIsabel frons. “Griepinspuiting? Jy weet hoe is Ma, dis nog Maart dan dink sy al aan sulke goed.”
spasie“Dalk, ja.” Ek lig my poniestert om my nek te probeer afkoel. Vir die laaste twee straatblokke stry ons oor wat die lekkerste is om te drink, koeldrank, milkshake of smoothies. (By die huis sal net boring vrugtesap wag, en natuurlik Ma se gunsteling, heerlike-water-uit-die-kraan.)
spasie’n Witkopdogtertjie en Maltese poedel verwelkom ons by die voordeur. Tes swaai ’n halwe sny pizza rond. “Kyk wat het Ma gekry!” Rakker slaan omtrent agteroor bollemakiesie soos hy ’n happie probeer score.
spasieYum, ons kry nie sommer pizza in die week nie.

Amper Einstein

Christien Neser

Tafelberg

Ek het begin sweet nog voor ek naby suster Pretorius se kantoor is, en nie net van die Kaap se Desemberhitte nie.
Leonard gooi die foon neer en storm voordeur toe. Hy val oor Ruby en stamp teen sy pa se rolstoel.
spasie" Sorrie, Pa. Dis Micha!"
spasie"Gaan help jou ma, Len," sÍ sy pa net rustig, al swaai sy rol- stoel wild agteruit. Ruby tjank verwytend.
spasie Leonard weet nie of hy wil vloek of huil nie. Sy flippen boetie het al weer aangejaag.
spasieDie buurvrou het pas gebel: Micha sit op die garage se dak. Kaalgat. "Ma! Maaaaaa!" gil Leobard by die hek uit. Sy ma is Írens in die kompleks op soek na Micha. Diť het 'n paar minute gelede net spoorloos verdwyn-iets wat hy baie gereeld doen.

b_leeus_met_letsels

Leeus met letsels

Fanie Viljoen

Human & Rousseau

Daar is bloed op Buyi se vuiste. En bloed op die ou voor hom se gesig.
Sy naam is Jonathan. 'n Klomp leerders drom saam om hulle in die skoolgang. Jonathan lê nog op die vloer. Hy kyk op na Buyi. Sy oë uitdagend. Hy glimlag toe hy die bloed van sy oogbank wegvee.
spasie"Lucky shot!" sê hy.
"You want some more then?" In 'n oogwink speel die vuishou wat Jonathan vloer toe gestuur het, oor in Buyi kop. Die spanning in sy spiere in sy spiere. Knersende tande. Die oomblik toe hulle oë ontmoet. Pyn skiet deur sy vuis en blits op met sy arm toe die hou val.
Die spul ouens en meisies om hulle is soos 'n trop hienas, steeds honger vir meer.
En toe kom die onderwyser.

Daar is moeilikheid aan die broei. Buyi weet dit net. Dae lank al voel hy dit aan. Dit stoot op deur die koue, nat strate. Oral waar hy gaan, asem hy dit in: die oorvol treine van die Londen Underground, klaskamers, die koerantstalletjie op die straathoek. Dit gaan nou al vir weke so aan. En dit maak hom bang.
Dit is laatmiddag. Vrydag. Hy vat die roltrap en uiteindelik ontsnap hy uit bedompige ondergrondse treintonnels. Agter hom hoor hy nog 'n straatmusikant se saksefoon. Die oggendreën lê steeds op die strate. Spikkels lig van die winkelvensters spieël op die nat sypaadjies, soos diamante onder die sole van die verbygaande.
Hy hoor mense se voetstappe en wonder skielik of hulle syne kan hoor, Hy wonder of hulle ooit luister, of hulle ooit omgee.
Natuurlik nie, dis Vrydag. Hulle wil so gou moontlik by die huis kom. Grys wolke hang swaar oor die stad. Dit gaan binnekort weer reën.
Moeilikheid, dink hy. Daar is beslis moeilikheid aan die broei.
Die benoude vrees maak dat hy sy pas versnel. Hy soek na troos in die warmte van sy baadjie, in die bekende omgewing, die mure oortrek met graffiti. Maar die onrustigheid bly op sy hakke. Dit jag hom soos 'n dier.
Terwyl hy loop, vang sy oog die weerkaatsing in 'n winkelvenster. Swart gesig, kake geklem van die koue. Die sny op sy lip.
En hy voel soos 'n vreemdeling.
Hoekom? Hy woon nog sy hele lewe lank in Londen. Hy bly hier saam met sy ma in 'n tweeslaapkamer-woonstel bo die bakkery. Hy gaan hier na 'n staatskool toe.
Maar op 'n manier ís hy 'n vreemdeling.
Buyisiwe. Sy naam eggo in sy kop. 'n Vreemdeling se naam. Hoekom nie James, Chris of Peter nie? Of dan selfs Jonathan? Hoekom nie enige ander naam soos die meeste ouens in die skool nie.

vorige pyl nog lusmakers
volgende

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015