2012-01

jongklomp

storienuus
oondvars
kuier by...
lusmakers
storiegedorie!
storiemakers
gril!grot
www
kollig
versfabriek
skryfgeheime
vonkelfiksie
lapastories
verinniewêreld
haasbekkies
letterpret
wedstryd

boeksoek

soek

posbus

 
na grootmense
 

Lusmakerbrokkies uit nuwe boeke

Blou sjokolade

Christien Neser

LAPA

Elle se viooltas kap liggies teen haar bobeen. Sy is laat vir die oefening en sy draf so vinnig as wat haar skoolskoene dit toelaat. Sarkoff het 'n buitengewone oefening vir vanmiddag gereël, sommer per SMS. Hulle eksentrieke Russiese orkesdirigent het nog nie voorheen so iets gedoen nie. Sy wonder vaagweg wat so belangrik is. Seker reëlings vir hulle toer. Al vier buurskole - Gravitas-seunskool, Gravitas-meisieskool, St. Dominique's en St. Stephen's - speel in een groot orkes. Dit maak seker sin om almal weer bymekaar te kry sodat hulle die orkestoer kan finaliseer, dink Elle gelukkig.
Sy sien haar skaduwee op die lang muur wat na St. Dominique's se groot hekke lei. Haar bos krulhare wapper soos linte in die wind en haar skoolserp waai soos 'n vaandel agterna. Haar bene lyk verspot lank soos wat die laatmiddagson die skadu's rek.
"Hei, ek lyk soos 'n supermodel!" juig sy en skree haar nuutste Franse uitroep: "Formidable!" Sy dink dit beteken iets soos supermegawonderlik.
Sy is juis laat oor sy eers ekstra klas by juffrou Du Plessis gehad het. Dis haar Franse onnie en nommer een op haar lysie gunstelinge by die skool. Sy is steeds myle agter die res van die klas. Sy kan darem al vir Alex beïndruk met 'n Franse SMS so nou en dan. Vandag s'n was: Tu es mon petit cochon. Gelukkig het hy nie 'n idee dat dit "jy is my klein varkie" beteken nie. Sy lag sommer hardop. Vanmiddag voel sy so dolgelukkig, sy't sommer haar hele pak Fritos vir 'n straatbedelaar gegee. Sy glimlag vir die motors wat verbyry, waai vir wildvreemde ouens op fietse. Sy kry almal jammer wat nie vanmiddag Elle-Belle is nie. Want:

Permanente ink

Carina Diedericks-Hugo

LAPA

DIE OGGENDBLAD

Romeo-en-Juliet-reeksmoordenaar slaan weer toe VERSLAGSPAN

Kaapstad

Die sogenaamde Romeo-en-Juliet-reeksmoordenaar het weer toegeslaan.
Die 16-jarige Michelle van der Merwe van Seepunt en haar 17-jarige kÍrel, Johannes Harmse, se lyke is gister teen die hange van Tafelberg gevind.
Volgens die polisie het stappers, wat anoniem wil bly, ongeveer 16:00 op die grusame vonds afgekom.
Me. Van der Merwe het 'n steekwond in haar bors gehad wat moontlik tot haar dood gelei het. Na bewering is daar nie ooglopende beserings aan mnr. Harmse gevind nie. Die polisie het aangedui dat 'n verklaring uitgereik sal word sodra die nadoodse ondersoek afgehandel is. Hulle kon nog nie bevestig dat die moord die werk van die Romeo-en-Juliet-reeksmoordenaar is nie. Die Romeo-en-Juliet-reeksmoordenaar teister Kaapstad en die omliggende suidelike voorstede reeds die afgelope vyf maande. Ses tieners, almal paartjies tussen die ouderdomme van 15 en 18, is op dieselfde gru-manier vermoor. Die meisies is met 'n noodlottige steekwond in die bors gevind en die seuns is met 'n onbekende mengsel vergiftig. Die lyke is langs mekaar neergelÍ en hul hande is post mortem inmekaargevleg.
Polisiekommissaris Jakes Tshabalala het gesÍ die polisie doen alles in hul vermoŽ om die reeksmoordenaar vas te trek. Hy het ouers gewaarsku om te alle tye bewus te wees van hul tieners se bewegings. Skole moet 'n beroep op hul leerders doen om weg te bly van afgeleŽ plekke af.
Enigiemand met inligting kan inspekteur Liebenberg van die Mouillepunt-polisiestasie kontak.

Kondensmelk

Christien Neser

LAPA

Zut! Zut! Zut alors!
Elle wens sy het nog Franse kragwoorde gehad om haar frustrasie mee uit te druk.
Zut is maar so effentjies soos vervlaks. Sy het baie krasser taal nodig maar dis al wat hulle laas jaar by madame Faure geleer het. Die afgelope paar dae het sy haar voorraad Afrikaanse en Engelse vloekwoorde uitgeput. Niks klink meer intens genoeg as sy in stilte sit en swets nie.
Sy kyk na haar vuil tone. Elke toonnael is geskulp met 'n dik rand swart gemors. Laas maand se pedikuur voel onwerklik en baie lank gelede. Hoe het sy haar laat ompraat om saam te kom? Maar hier sit sy: 'n slagoffer van 'n kampeervakansie. Korreksie! Vakansie en kampeer is wedersyds uitsluitend: of jy hou vakansie, of jy kampeer. Kampeer is iets wat jy saam met jou ma en pa en die hele hiep-hiep-hoera-brigade doen totdat jy so twaalf is. Daarna begin jy vakansie hou soos 'n beskaafde mens: naby 'n selfoontoring. Elle se selfoon kyk dae lank al met 'n niksseggende swart gesig na haar. Sy probeer nogtans kort-kort 'n sein opvang. Maar die werklikheid is wreed - hulle het die laaste mas so driehonderd kilometer terug agtergelaat. Sy is van die radar af, iewers in die diepste bosse van Botswana. Vergete...

Liefde is ...

Nerine Ahlers & Alet Steenkamp

LAPA

"Hoekom is jy vanmiddag so op 'n ander planeet?" vra Gerber toe die bondel drawwers begin spoed kry. Hy val langs Karli in. Hulle voete klap ritmies op die teerblad agter die pawiljoen verby. "Jy is tien minute laat - ek het amper gedink jy kom nie meer oefen nie."
"Jy wil nie weet nie," sê Karli en draf stadiger sodat die gaping tussen hulle en die ander atlete groter word. "Ons groep was vir redenaars by juffrou Davel."
"Het julle toe op 'n onderwerp besluit?"
"Ons praat oor ... wag daarvoor verhoudings!"
"Verhoudings? Soos in ouens en meisies?" Gerber grinnik. "En die ander praat oor misdaad en armoede en mense wat die land verlaat. Wel, wel." Hy lag vir haar suur gesig. "Dit kán seker cool wees!"
"Dis juis die ding." Karli klink moedeloos. "Die ander groepe wat aan die kompetisie deelneem, het ernstige onderwerpe en hier kom ons met: Moet 'n meisie op sewentien 'n ou hê?"
"Jy klink nie baie gelukkig nie."
"Ek is nie. Ek het nog nooit redenaars gedoen nie, en nou - om die juffrou uit te help - moet ek oor iets simpel praat."
"Ag, dis nie so erg nie."
"Jy weet nie wat mú deel van die onderwerp is nie," sê Karli omgekrap. "My toespraak is téén vas uitgaan. Ek moet sê dat 'n mens ouens moet ..."

My Hart is vol Graffiti

Tania Brink

LAPA

Op Maandagoggend behoort Vanessa 'n bordjie om haar nek te dra wat sê: Pasop vir die omgekrapte graadtien!
Sy wag vir my op ons gewone plek by die skool se rotstuin.
Ek kan nie help om te glimlag toe ek haar sien nie. Op haar voorkop is 'n diep frons en haar kort haarvlegseltjies staan woes om haar kop. Vir ander mense lyk dit seker of Vanessa se hare net deurmekaar is, maar ek weet dit vat elke oggend 'n hele spul haarknippies en heelwat tyd om daardie kapsel van haar so te kry.
"Wees gewaarsku, Lara," brom sy sonder om te groet. "Michael dra vanoggend 'n bos blomme rond wat groot genoeg is om die helfte van die skool hooikoors te gee."
Ek lag. "Goeiemôre. Jy lyk vrolik vir iemand wat Saterdag as een van die beste jong joernaliste in die land aangewys is."
Ek kan steeds nie glo wat Saterdag gebeur het nie...

Woestyngevangene

Andrea Abbot

Tafelberg

Leo trap amper op die skerpioen voor hy hom raaksien. Die gedierte, langer as sy hand en oranjerooi soos die woestynsand oral om hom, skuil in die skraal skadu van 'n verskrompelde bossie. Hy het geskrik toe Leo naby hom van die rots af spring, en toe homself weggegee deur vinning om te draai. Met sy stert krom hoog bo sy lyf, kyk hy die seun onheilspellend aan. Die waarskuwing is duidelik; Kom nader en jy's dood!
Leo versteen. Die skerpioen se stert is dik met 'n haakvormige angel aan die punt. Daarteenoor lyk sy knypers dun en swak.
Dis nie 'n skerpioen waarmee jy mors nie.
Dik stert en dun knypers beteken sterk gif. As daai soort skerpioen jou steek, is dit verby met jou. Dis die raad wat Dawie aan Leo gegee het toe hulle twee weke gelede in Nambië aangekom het vir die Sterrekundeklub se jaarlikse Stertrek.
Leo is twaalf en 'n half, en nie onnosel nie. Hy gee 'n tree terug. "Oukei, laat sak daai stert. Ek sal padgee." Hy klim op 'n rots en kyk hoe die dodelike gedierte sy stert laat sak en dan oor die sand wegskarrel en by 'n gat in verdwyn.
Bokant hom bak die middagson neer uit die wolklose lug. Dit brand die agterkant van sy nek, sy arms en bene, en versmoor die landskap met genadelose vuurkrag. Niks beweeg nie. Die enigste klank wat die stilte onderbreek, is sy asemhaling. Die lug het ook moed opgegee; dis so stil soos klip, en kon net sowel dood gewees het. Alleen in daardie groot stilte aan die onderpunt van daardie rooiwarm koppie in die middel van die Namibwoestyn, voel Leo of hy die laaste lewende ding op aarde is.
Dit laat hom ril.

Nova -Vuurdoop

Fanie Viljoen

LAPA

Dit voel soos 'n lem in Lucas se bors. die skerp koue skiet deur sy lyf. Sy asem ruk.
"Uhm, 'skuus, is dit 'n bietjie koud?" vra dokter Moja. Hy glimlag asof dit sy private grappie is om mense te laat skrik as hy die stetoskoop op hul vel druk. "Asem in ... uit ... hmmm ..." Dokter Moja skuif die stetoskoop oor Lucas se borskas. Lucas wens hy wil nou klaarmaak. "Sit vorentoe. Asem in ... uit ... weer ..."
"Alles reg, Dokter?" vra Lucas.
"Ek sien geen fout nie, Luc. Jou ma is verniet bekommerd." Lucas skud sy kop "Dis wat ek haar gesÍ het, maar sy gaan mos ballistic oor alles."
"Dis wat ma's doen, Luc." Dokter Moja gaan sit agter sy lessenaar en begin iets skryf in die lÍer voor hom. "Ek sou ook bekommerd gewees het as my kind deur ruimtewesens ontvoer is."
Dit klink nog so onwerklik - dat ruimtewesens Luca en sy vriende ontvoer het - maar gelukkig is dit nou verby. Hier sit hy in die spreekkamer, perdfris en gesond.
Dokter Moja skryf steeds. Lucas loer na die verslag, maar die dokter se skrif is so lelik, hy kan niks uitmaak nie.
"Kan ek nou maar my klere aantrek?" vra Lucas.
"Ja, ons is klaar."
'n Rukkie later stap Lucas uit die spreekkamer na die ontvangsarea.
"En?" vra sy ma toe sy opstaan van die stoel. 'n Diep frons plooi haar voorkop.
"Die dokter sÍ ek is oukoei, Ma. Daardie aliens kan nou maar kom, ek sal hulle diť slag platklap."
"Moenie spot nie, Luc."
Lucas glimlag skeef en trek sy vingers deur sy blonde hare. "Hoe lyk dit, gaan Ma my nou stick vir 'n Coke?"
Sy ma skud haar kop. "Selfde ou Lucas, die kansvatter. Ek wens daardie ruimtemannetjies het vir jou ..."

Thomas@rock-ster.net

Carina Diedericks-Hugo

LAPA

Ek hou van duik op my eie!
In my cool swart duikpak!
Want ek hou nie van preie!
Julle almal is 'n lamsak!

Thomas kreun en sit versigtig sy nuwe selfoon langs hom op die bed neer. Hy frons en druk sy ore toe.
"Flippen hel, jou loser! Wat doen jy?"
Hannes lyk asof iemand hom uit 'n diepe slaap wakker gemaak het. Hy skud sy kop 'n paar keer en kyk vies na Thomas.
"Uhm, hallo! Ek's besig met my rock song. Kan jy nie sien nie? Dis eintlik Karen Zoid se Kaapstad, maar ek het my eie lirieke geskryf. Ek dink dis cooler."
"Sal jy ophou? Jy's irriterender as Hannah Montana!" Thomas kyk vies na Hannes. Sedert Hannes sy been gebreek het tydens die rugbytoer in NamibiŽ, maak hy almal mal. Hy kan nie vir tien sekondes stilsit nie. Hannes kyk verbaas na Thomas. Sy kruk is halfpad in die lug - op pad om weer teen die kasdeur in sy kamer te kap.
"Watsit nou? Dis 'n vry land. Ek kan doen wat ek wil!" stry Hannes en beduie woes met die kruk.
"Ja sure! Jy slaat die hele flippen tyd met jou kruk teen die kas en jy maak onaardse geluide! Jy gaan my nuts maak!" Thomas staan op en trek sy vingers deur sy donker hare.
"Thanks, jy's 'n fantastiese pel, my blaar," mor Hannes en sukkel regop. "Ek het net een been omdat ek dit moes opoffer toe ons die dinamietsmokkelaars in Kolmanskop gevang het. Nou's ek die een wat nie kan loop nie, ek kan nie rugby speel nie en weet jy hoe mal is chicks oor 'n ou op krukke? Soos in glad nie, my blaar. Glad nie!"
"Dis nou nie asof hulle tougestaan het vuur jy jou been gebreek het nie," mompel Thomas en tel weer sy selfoon op.
Hannes trek 'n skewe gesig.
"Whatever. Maar ek's bly ek het my been gebreek, want anders sou ek nooit besef het dat ek soos in ernstige talent het nie."
"Watse talent?

Speurhond Willem en die wilddiewe

Elizabeth Wasserman

Tafelberg

Ek kan sien iets is aan die broei.
Die middag toe ek by die huis kom van die skool af, wag my ma vir my met my gunstelingmiddagete: 'n wegneemhamburger en 'n groot hoop aartappelskyfies. Die rooi-en-geel verpakking lyk skoon uit sy plek in die middel van ons netjies gedekte tafel.
Sy het so ewe 'n potjie met blommetjies ook reggesit.
"Is dit nie ongesond nie, Ma?" vra ek versigtig.
"Ja, dit is seker," sÍ sy, "maar dit is nie asof jy dit elke dag eet nie, ne?"
Ek verorber my middagete so vinnig, ek vergeet amper om te wonder hoekom ek so bederf word.
My ma fluit 'n lawwe deuntjie daar van die opwaskamer se kant af.
Onder die tafel druk Willem sy nat snoet teen my been.
"Jy kan nie hiervan kry nie, Willem!" raas ek. "Jy is reeds oorgewig!"
Willem sug. Hy stap weg en gaan lÍ op sy geliefkoosde plek: die groot leunstoel waar my pa graag soggens sy koerant sit en lees oor 'n koppie koffie.
Ek wonder of die mense by die werk soms opmerk dat my pa se agterstewe gedurig vol wit-en-swart brakhare is.
My ma kom in die eetkamer in. Sy vee haar hande aan 'n vadoek af en glimlag breed.
"Is dit lekker skattie?"
Nie "Hoeveel huiswerk het jy?" of "Het jy al begin leer vir jou aardrykskundetoets?" of "Jou sokkies het al weer op die badkamervloer gelÍ nie.
Ek gluur haar skeef aan. Daar is definitief ...

Skaduwees, skatte en skelmstreke

Nerine Ahlers & Alet Steenkamp

Lapa

"So 'n slymerige slak!" sis Andrea woedend.
In stilte staar ons na meneer Jacques Gouws. Sy seekat-arms is om 'n blonde vrou gedrapeer en hulle is duidelik deur die oop venster van een van die seunskool se musiekklasse sigbaar.
"Hy vreet haar op!" sÍ Gina geskok en druk die blare van die struik waaragter ons staan eenkant toe.
"Gross!" Andrea staan op haar tone om beter te sien.
"Om te dink hy het gisteraand by ons juffrou Toerien in haar sitkamer gesit en koffie drink en haar hand vasgehou," fluister ek vies.
"En hier staan hy nou sowaar en soen daai blondine," voeg Gina by.
"Ja, asof hy nie al drie weke lank by juffrou Toerien kuier nie. Asof sy niks meer beteken nie," sÍ Andrea bitter.
"En kyk, hulle hou nie op nie." Gina skud haar kop in afgryse. "Moenie dink ek ry saam met hom terug skool toe nie," sÍ Andrea ontsteld. "Ek loop liewers."
Ek, Andrea en Gina staan buite die musieksentrum by Bergrif-Seunskool en wag vir Talita om klaar te maak. Sy oefen saam met die seunskool se band vir 'n gig Saterdagaand. Hulle drummer is na 'n ander skool toe en Talita het al voorheen saam met hulle gespeel.
Vies loop ons terug saal toe. Dit was sowaar die laaste ding wat ons verwag het om te sien toe ons meneer Gouws gaan soek het!
Talita en Pierre, wat baskitaar speel, kom by die saal se trappe afgeloop.
"Is julle klaar?" vra Gina.
"Ons wil loop."
"Maar neem meneer Gouws julle dan nie terug nie?" vra Pierre.
"Ek ry nie saam met so 'n ...

vorige pyl nog lusmakers
volgende

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015