Werfjoernaal
 
2014-08

werfjoernaal
argief



Storierak nou ook beskikbaar op Android

NB-Uitgewers se gewilde Storierak-toepassingswinkel kan nou ook op Android-toestelle afgelaai word. Tot op hede was hierdie unieke Afrikaanse toepwinkel slegs toeganklik vir gebruikers met iPad en iPad-mini’s.

Storierak is in Desember 2013 bekendgestel en bied ’n opwindende verskeidenheid Afrikaanse kinderboeke vir 2 tot 8-jariges.

storierak

“Dis wonderlik om te sien hoe gemaklik ons stories en illustrasies van die een platform na die ander beweeg. Eers van papier na skerm en nou nog méér skerms, alles om kinders en ouers saam-saam aan die lees te hou!” sê Michelle Cooper, uitgewer van kinder- en jeugboeke.

Volgens digitale uitgewer Nèlleke de Jager het NB-Uitgewers ongelooflik baie navrae van boekliefhebbers gekry oor die beskikbaarheid van Storierak op Android-toestelle. Dit, saam met die feit dat die aanvraag na Android-toestelle plaaslik die afgelope jaar verdubbel het, het die besluit om Storierak vir Android te ontwikkel maklik gemaak. “Suid-Afrika is ’n groot teikenmark vir Android-toestelle. Dit sou onwys gewees het om nie hierdie mark te betrek nie. ”

Sedert Storierak in Desember 2013 vrygestel is, is die toep al meer as 3 500 keer afgelaai en meer as 1 200 boeke is verkoop.

Storierak op iOS het tot dusver ongelooflike positiewe terugvoer en ondersteuning van gebruikers ontvang. Die Android-weergawe stel ons nou in staat om hierdie unieke leesvervaring aan ’n groter groep verbruikers beskikbaar te stel,” sê Juan Kruger, besturende direkteur van Blue Line-sagtewareontwikkelaars in Kaapstad, wat die toepassing ontwikkel het.

Storierak bied ’n opwindede multimedialeeservaring vir jonk en oud.

  • Elke storie bevat ’n voorlesing deur ’n bekende stemkunstenaar soos Joanie Combrink of Johann Nel. Kinders kan dit self lees, of kies om deur die stem begelei te word.
  • Elke storie bevat twee soorte speletjies buite die raamwerk van die verhaal – flitskaarte en legkaarte – met verskillende moeilikheidsgrade.
  • Jy kan elke boek verpersoonlik: Dra die storie op aan jou kind of kleinkind en plaas sy/haar foto op die eerste bladsy.

Daar is tans 28 titels op Storierak beskikbaar en nuwe boeke en gunstelingstories uit gewilde omnibusse word gereeld bygevoeg.
Besoekers aan die Google Play Store kan die toepassing gratis aflaai, en die eerste titel word ook gratis aangebied. Pryse wissel tussen R25.00 en R120.00 per titel.

Die Android-toepassing werk vanaf Jelly Bean (4.1), wat na raming 74.4% van alle aktiewe Android-toestelle insluit. Die minimum skermgrootte is 1024 x 768 px.

Die skakel na die Google Play store is https://play.google.com/store/apps/details?id=nbuitgewers.storierak

Besoek http://www.nb.co.za/storierak vir meer inligting.

Om in te teken op Storierak se nuusbrief kan ’n e-pos gestuur word aan storierak@nb.co.za.

 

Persverklaring deur NB-Uitgewers
30 Julie 2014

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014