Werfjoernaal
 
2015-09

werfjoernaal
argief



'n ATKV-Woordveertjie vir Storiewerf

Tydens ’n luisterryke en feestelike aand van woorde en wenners, is die ontvangers van vanjaar se ATKV-Woordveertjies op Vrydag, 11 September by D’Aria in Durbanville aangewys. Die Woordveertjies is vanjaar vir die agtste keer aangebied.

Sewentien Woordveertjies is toegeken vir uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord.

woordveertjie

Die Toekenning vir Leesbevordering in Afrikaans gaan vanjaar aan Storiewerf - Prof. Franci Greyling. (Foto: Izak de Vries)

Storiewerf is ’n webtuiste vir die bevordering van Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur en jong skryftalent, met as bykomende doelstelling die bevordering van Afrikaans op die internet. Dit is sedert April 2000 aktief en is vanjaar 15 jaar oud.

Sandra Prinsloo was die gasvrou, saam met ’n groep jong en talentvolle akteurs, onder andere Cintaine Schutte, Carel Nel, Whaden Johannes, Greta Pietersen en Bianca de Klerk. Onder leiding van regisseur Hennie van Greunen, was die Woordveertjies meer as ’n gewone toekenningsgeleentheid - dit was toekenningsteater in die ware sin van die woord en ’n viering van die Afrikaanse woordkuns.

’n Spesiale ATKV-Woordveertjie is aan Litnet toegeken vir Uitnemende Bydrae tot die Woordkuns. Litnet is die oudste Afrikaanse virtuele gemeenskap - dis in 1999 gestig met Etienne van Heerden as stigter-redakteur en spog reeds met meer as 170 000 bydraes in die argief.

Die ATKV-Prosaprys se beoordelaars was Thys Human, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe met die wenner: Kamphoer - Francois Smith (Tafelberg).

Die kategorie Prys vir Liefdesroman se beoordelaars was Shireen Crotz, Carina Hanekom en Madri Victor met die wenner: Ewebeeld - Chanette Paul (LAPA Uitgewers).

Diana Ferrus, Margot Luyt en Bernard Odendaal was die beoordelaars vir die Prys vir Poësie met die wenner: Mede-wete - Antjie Krog (Human & Rousseau).

Die Prys vir Romanses se beoordelaars was Carol-Ann Johnson, Didi Potgieter en Kobie van Aswegen. Vanjaar se ATKV-Woordveertjie gaan aan: Ridder in ’n wit jas - Marie-Louise Steyn (skuilnaam: Amelia Strydom) (Hartklop).

Die kategorie Prys vir Spanningslektuur is beoordeel deur Sam Cooper, Dirk Jordaan en Kay Karriem met die wenner: Donker spoor - Martin Steyn (LAPA Uitgewers).

Shirley Ellis, Juanita Swanepoel en Wim Vorster was die beoordelaars vir die
Prys vir Dramateks met die wenner: Die dag is bros - Wessel Pretorius.

Die Woordwystoekenning vir Woordeboeke en Taalgidse is beoordeel deur Mariëtta Alberts, Leon de Stadler en Rufus Gouws met die wenner: Die Ju |’hoan Tsumkwe Dialect/Prentewoordeboek vir Kinders/Children’s Picture Dictionary (2014). Uitgegee deur die University of KwaZulu-Natal Press. Samestellers: Kerry Lee Jones en Tsemkgao Fanie Cwi met ’n redaksiespan.

Wenners van die ATKV-Kinderboektoekennings vir 2015:
In hierdie afdeling stem die kinders self vir hulle gunstelingboeke en illustrasies.

Voorleeskategorie: Graad RR - 1
Skrywer: Marita van der Vyver (LAPA Uitgewers) - Die coolste ouma op aarde
Illustreerder: Zinelda McDonald (LAPA Uitgewers) - Die coolste ouma op aarde

Selfleeskategorie: Graad 2 - 3
Skrywer: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) - Plons
Illustreerder: Arnelle Woker (LAPA Uitgewers) - Plons

Selfleeskategorie: Graad 4 - 5
Skrywer: Elizbè van der Colff (Tafelberg) - Nina en die funky eksperiment
Illustreerder: Chris Venter (Tafelberg) - Nina en die funky eksperiment

Selfleeskategorie: Graad 6 - 7
Skrywer: Jaco Jacobs (Tania Brink) (LAPA Uitgewers) - Wian Verwey het ’n crush op my

Selfleeskategorie: Graad 8 - 10
Skrywer: Marisa Haasbroek (LAPA Uitgewers) - Iewers vlieg daar fairy dust

Hennie van Greunen was die regisseur van die produksie. Dit was 'n besondere aand.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015