Werfjoernaal
 
2016-02

werfjoernaal
argief



NB-Uitgewers bring hulde aan Leon Rousseau

Met die dood van Leon Rousseau verloor Afrikaans nie net een van sy groot uitgewers nie, maar ook ’n skrywer wat Afrikaanse kinders reeds geslagte lank aan die lees kry met reekse soos Fritz Deelman, Storieman en Storiemuis, sê Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers.

Rousseau is op 24 Februarie 2016 na ’n kort siekbed oorlede.

“As medestigter van Human & Rousseau saam met Koos Human in 1959 het Leon Rousseau baanbrekerswerk in die Afrikaanse uitgewerswese gedoen. Talle belangrike publikasies, waaronder groot werke van die Sestigers, het by dié uitgewery verskyn,” sê Wessels.

Human & Rousseau is in 1977 aan Nasionale Pers verkoop en leef vandag voort as druknaam van NB-Uitgewers. Van die vroeë publikasies deur Human & Rousseau – romans deur skrywers soos André P. Brink en Etienne Leroux – maak vandag steeds deel uit van NB-Uitgewers se publikasielys, sommige nou in digitale formaat.

Maar dit is as skrywer en samesteller van kinderboeke wat Rousseau waarskynlik sy grootste erfenis vir Afrikaans nalaat, sê Wessels. “Afgesien van die futuristiese Fritz Deelman-reeks waaraan Rousseau reeds in die vyftigerjare begin skryf het, het hy ook die leefwêreld van Afrikaanse kleuters en hul ouers verryk met die immergroen Storieman en Storiemuis.”

Ses Storieman-omnibusse is die afgelope drie jaar deur Human & Rousseau heruitgegee in ’n nuwe baadjie. “Meer as dertig jaar ná dit die eerste keer verskyn het, was die boeke steeds blitsverkopers, ’n bewys van Leon Rousseau se tydlose aanvoeling vir die leesbehoeftes van die jong Afrikaanse kind,” sê Wessels.

Storieman was die eerste kinderboeke wat verpak is met voorlesings – destyds op kasset en vandag op CD. Daar is ook verlede jaar begin met heruitgawes van Rousseau se ewe gewilde opvoedkundige Storiemuis-reeks vir kleuters.
“Leon Rousseau se werkywer en passie vir Afrikaanse kinderliteratuur was altyd 'n inspirasie,” sê Simone Hough, kinderboekuitgewer by Human & Rousseau. “Een van sy groot ideale was om sy Storieman- en Storiemuis-reekse weer gepubliseer te sien en daardeur kinders van jongs af aan te moedig om lief te wees vir lees; dit was ’n ware voorreg om vir soveel jare met hom te kon saamwerk en ook daardie droom van hom te verwesenlik.”  

Onder volwassenes is Rousseau bekend vir sy monumentale biografie van Eugène Marais, Die groot verlange (1974), wat in 1975 met die CNA-prys bekroon is. Die groot verlange was die duisendste boek wat deur Human & Rousseau uitgegee is en die uitgewery het daarmee ook sy vyftiende bestaansjaar gevier. Rousseau self het die boek as sy “eerste voetstap in grootmensliteratuur” beskryf.

In 2006 het Die groot avontuur wat handel oor die ontstaan en ontwikkeling van lewe op aarde verskyn. Hiervoor het Rousseau in 2007 die Recht Malan-prys vir niefiksie ontvang. 

“Leon Rousseau se uiteenlopende bydraes tot Afrikaans en die letterkunde dwing blywende respek af – of dit nou sy grootse biografie oor Eugène Marais is, die toekoms-aksie van die Fritz Deelman-reeks of die Storieman- en Storiemuis-boeke en -kassette en -CD’s,” sê Wessels.

“Ons innige meegevoel aan sy kinders en kleinkinders.”

storiemuisstorieman

leon rousseau
Leon Rousseau
(Foto: Michael Hammond)

 

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016