2018-06


jongklomp

kuier by...

Annabel Allers
annabel ahlers
Annabel Allers het haar debuutroman, Kupido.com, in haar vierde jaar as student aan die Noordwes Universiteit geskryf. Sjané Colin gesels graag met haar daaroor.

Kupido.com is Annabel Allers se debuutroman wat in September 2017 gepubliseer is. Die jeugroman handel oor ‘n tienermeisie wie se vriendinne vir haar ‘n valse profiel op ‘n aanlyn-kletskamer skep. Annabel het dit reg gekry om die kuberwêreld met fiksie te vermeng en ‘n vermaaklike verhaal daaruit te skep.

cupido

Ons voer graag ‘n onderhoud met díe jong skrywer om uit te vind waar sy aan haar idees kom en wat sy vir die toekoms beplan.

Annabel is gebore in Pretoria, Gauteng en het al van kleins af ‘n liefde vir skryf. Sy is ook mal daaroor om te lees, kitaar te speel en te teken of skilder. Haar gunsteling boeke sluit in To kill a mockingbird deur Harper Lee en Withering Tights deur Louise Rennison.

Annabel noem dat alhoewel sy nog altyd stories skryf, Kupido.com haar eerste poging tot ‘n vollengte roman was. Haar motivering om die roman te voltooi, het gekom van haar besluit om vir Lapa se jeugromankompetisie in te skryf. Die roman het begin as ‘n mengsel van ‘n klomp onvoltooide stories wat sy reeds geskryf het. Haar niggie het haar die idee gegee om die stories te meng en om hierdie rede het Annabel die boek aan haar niggie opgedra.

As dit by die skryfproses kom, beplan Annabel altyd vooraf. Sy noem dat sy vashaak as sy net begin skryf sonder om te weet waarheen die verhaal op pad is. Gevolglik skep sy ‘n geraamte en bou daarop deur aan te hou skryf en herskryf. Sy sê ook dat al haar karakters uit verskillende dele van haar persoonlikheid - of die persoonlikhede van mense naby aan haar - kom. Sy glo dat haar karakters daarom lewensvatbaar is en dat jong meisies maklik daarmee kan identifiseer. 

Annabel (die jong skrywer wat nie Astos of M&Ms kan eet sonder om dit volgens kleur of aantal te sorteer nie)  sê dat sy nie binnekort beplan om op te hou skryf nie. Sy glo dat daar nou – meer as ooit – ‘n aanvraag en mark vir Afrikaanse fiksie is. Ons hoop daarom dat ons nog baie van Annabel in die toekoms sal lees.

 

Onderhoud met Sjané Colin.
Sjané is 'n Skryfkunsstudent by die Noordwes-Universiteit


Junie 2018

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns, Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit

(C) Franci Greyling 2000-2018