2007-06-03


jongklomp

kuier by...

Anzil Kulsen
Die debuutroman van Anzil Kulsen, vertel die storie van Zita. Anneretha Combrink het saam met Anzil gekuier en gesels oor die uithou en aanhou van skryf.

Hoekom skryf jy?

Ek dink ek sal mal raak as ek nie skryf nie. Ek druk myself beter uit op skrif, raak te emosioneel oor goed . . . Ek skryf oor dit my 'n mate van skeppingskrag gee. Skryf oor dit die enigste plek is waar mens kan lieg en skinder sonder dat dit sonde is.

Wanneer het jy begin skryf?

Vandat ek kan onthou. In die laerskool het ek goed gelieg en goed opstelle geskryf. Op hoërskool het ek baie gedroom . . . Ek het my eerste briewe vir uitgewers in my matriekjaar gestuur. Ek verstaan nou eers watse ding genres is. Het altyd alles probeer meng.

Wanneer en hoe skryf jy? Vertel van jou skryfproses.

Op hierdie stadium het ek nie 'n vaste patroon nie; ek skryf as ek die gier kry, maar ek dink voortdurend oor my verhaal en leef feitlik soos my karakter. My man vat gewoonlik die kinders na 'n parkie om my tyd te gee om te skryf, of hulle ky vir Mama Jack - eers was dit Mr. Bean ...

As ek 'n idee kry, tik ek eers die eerste raamwerk basies. En dan, soos hy vorder . . . ek het nie regtig 'n lêer waarin ek alles hou nie. Okei, ek het 'n kabinet waarin ek alles sommer net los ingooi, dan werk ek weer daardeur, dan kry ek weer idees waaraan ek kan verder werk. Maar ek dwing my nooit fisies om te skryf nie. As ek besig is met 'n stuk verhaal, en ek kry 'n idee vir iets nuuts, dan gaan tik ek dit, ek save dit op my rekenaar. En as ek weer 'n nuwe idee kry, al maak dit nie sin nie, al is dit onsamehangend, dan tik ek dit. Ek sal byvoorbeeld 'n hoofstuk wat eerder die laaste hoofstuk moet wees, gaan klaar skryf, al het ek nog net met hoofstuk 1 begin. So dan is die hele inhoud van die boek is nog nie gedoen nie. Maar net om daai idee vas te vang, en om dit nie verlore te laat gaan nie.

Wat skryf jy?

Ek het in 2001 besluit ek kan my skryfdroom laat waar word. Ek het 'n kursus gedoen en die opdrag was om tydskrifte te nader vir vryskut joernalistieke werk. Ek het toe die storie van Magda Mans vir De Kat geskryf. En sedertdien het ek enigiets probeer - briewe vir tydskrifte, dagstukke, gedigte. Kortverhale, enigiets. Ek het altyd gesê dat ek na so vyf afsêbriefies sal ophou skryf. Ek is nie 'n mens wat hou van sukkel nie, maar ek het al ophou tel - maar ek is seker ek trek al knap naby twintig van hulle. Soms het ek gedink ek gaan moed opgee. Maar as die mense om my my nie wil verstaan nie, dan skep ek eenvoudig mense om my te verstaan.

Oor uitgewers en afsêbriefies:

Vir my is skryf soos vitamines, dit gee my daai hup in my stap. En as ek nie voor 'n kar inloop nie, gaan dit my bietjie langer laat leef ook. En die skryf van iets, veral as jy in iemand anders se lyf inklim, is maklik . . . Ek het 'n verhouding met elke hoofkarakter in die stukke wat ek aanpak. En elkeen van die manuskripte wat in my kas lê en stof vergaar, verteenwoordig 'n sekere fase in my lewe. Zita is uitgegee, omdat ek vir die eerste keer kon uitfigure hoe en hoekom 'n mens moet oorskryf. Ek stem nie uit die staanspoor saam met wat 'n uitgewer of keurder vir my sê nie, en dis hoekom ek nooit oorgeskryf het nie. Maar nou, ná die hele proses met my eerste boek klaar is en ek weer deur alles gegaan het, verstaan ek beter. Ek sukkel om 'n keurverslag te lees. Dis nie soos 'n kettingbrief of 'n mooiweers-email wat jy net so liggies scan nie, dit . . . ek lees gewoonlik die uitgewers se kommentaar so ses, sewe keer voor ek verstaan wat hulle wil hê. Dan laat lê ek die manuskrip. End an tob ek, weke lank, oor die voortbestaan van die storie.

Ek het so vier manuskripte, en ek hoop om eendag weer die moed te hê om aan hulle te werk. As ek nog eerliker wil wees, moet ek sê dit tap mens emosioneel om weer al daai wonde, wat jy probeer gesond dokter met die skryf van 'n verhaal, te gaan oopkrap, oorlees en oorskryf.

Vertel van jou bestaande werk, en die groeiproses waardeur jy die afgelope 10 jaar gegaan het. Wat het jou laat aanhou probeer?

Okey, die aanhou probeer is bloot die feit dat die meeste uitgewers vir my gesê het dit wat ek skryf werk nie, maar hulle het altyd gesê daar is talent. Ek het daai "iets" wat nodig is, daai verbeelding, daai skeppingsvermoe met woorde. So dit was altyd vir my daai vonkie hoop. Dis al wat ek nodig gehad het om aan te gaan.

As ek nou van my werk oorlees wat reeds gepubliseer is, dan dink ek ek was in 'n ander dimensie toe ek dit geskryf het. Rêrige goed, mense se issues, maak my kriewelrig. Ek wil probleme oplos wat nie myne is nie. En in my privaatlewe kom ek gewoonlik in die moeilikheid oor ek my inmeng waar ek nie hoort nie. Dis hoekom ek eerder moet skryf oor 'n man met diabetes, of oor heldinne met groot ore. Die goed word natuurlik nooit aanvaar nie. En ek dink dis so onregverdig dat daar nie 'n plekkie in die son is vir sulke goed nie, maar intussen kry ek oefening.

Ek wil graag nog my eie geestelike dagstukkieboek uitgee, en ek wil nog 'n spaceship-storie skryf. En alle halwe goed of afsêgoed wat ek het wil ek nog laat uitgee. Miskien, eendag.

As mens en as skrywer, wat het jy geleer in hierdie hele proses?

Aanhou. En as dit wat jy doen nie werk nie, moet jy dalk 'n ander aanslag probeer vind wat miskien kan werk. Want ek het verskillende tipe goed gedoen, en my liefdesverhale het byvoorbeeld nie gewerk nie. So ek moes bereid wees om anders te dink, om bietjie uit die boks te dink.

Oor Zita: Geniet bruin kinders die boek meer as wit kinders?

Nee, weet jy, almal wat hom gelees het, het vir my gesê hulle het hom geniet - bruin en wit, grootmense, kinders. Nog niemand het nog regtig vir my gesê dit het nie gewerk nie. Ek dink elkeen leer iets daaruit. Die bruin kind leer dalk om te sê, hy het dalk gedink die wit kind het alles met die lepeltjie gekry, alles op die skinkbord gekry - en nou besef hy hy moet ook werk daarvoor. Elke kind moet werk vir wat hy wil hê. So, ek dink elke ou kan iets daaruit leer.

Waar het jy grootgeword? In 'n soortgelyke gemeenskap, of het jou agtergrond heeltemal verskil van Zita s'n?

Nee, heeltemal normaal. Ek het in 'n huis grootgeword, in 'n Kleurlingwoonbuurt. Ek het in 'n Kleurlingskool skoolgegaan, ek was nooit by 'n blanke skool gewees nie. So, heel doodnormaal. Ek het nie die probleme gehad wat sy gehad het nie. Ja, ek moes fisies gaan navorsing doen oor die gebied. Maar dit was vir my maklik, omdat ek in 'n Kleurlingwoonbuurt grootgeword het. Ek was gedurig tussen Kleurlinge van alle kleure en geure. Dit het dit maklik gemaak.

Het jy 'n teikenleser in gedagte gehad?

Nee, glad nie. Ek wou altyd maar vir grootmense skryf, en ek dink Zita is nie noodwendig vir jongmense nie. Ek dink ma's, enkelouers, getroude ouers, mans wat nie hulle kinders die nodige aandag gee nie - ek dink elke ou kan iets daaruit leer. So . . . ek het sommer vir almal geskryf.

Waaroor gaan jou nuwe storie?

Dit gaan oor 'n matriekmeisie wat ge-date rape is. En of hy gaan verskyn, weet ek nie - want dis op hierdie stadium vir my baie diep, baie moeilik. Ek het baie navorsing gedoen, baie feite ingewerk, en nou moet ek weer begin werk aan die emosie. Jy weet, om die menslikheid in die verhaal terug te sit.

Dink jy daar behoort nog soortgelyke verhale te verskyn, verhale wat 'n spesifieke gemeenskap uitbeeld, wat baie eie is aan 'n gemeenskap?

Ja, want soos ek gesê het, ons besef nie dat in 'n hool, of in 'n plakkerskamp, of in 'n Hillbrow, sit iemand met soveel potensiaal - en as iemand dit nie gaan uitlig nie, as iemand wat in Hillbrow byvoorbeeld bly nie 'n storie skryf oor daai gemeenskap nie, of iemand wat in die Namakwaland bly, dan gaan jy nie besef daar's ook kinders met potensiaal, kinders wat kan groei nie. Ons maak baie keer gemeenskappe af as "daar's nie hoop nie". En dis my bewusmakingsproses hierdie. Ek gaan nog baie sulke boeke skryf, al moet ek gaan navorsing doen, of 'n tyd op 'n plek gaan bly om die gemeenskap te leer ken. Maar ek hoop om dit reg te kry.

Dink jy dis belangrik vir lesers, vir jonger lesers veral, om met karakters te kan identifiseer?

Weet jy, die karakter in die boek gaan miskien nou nie dieselfde omstandighede as die leser hê nie. Ek meen, hoeveel Kleurlingkinders lees boeke oor wit dogtertjies - en tog lees hulle dit, en hulle vind dit amusant en hulle leer iets daaruit. So die omstandighede en die herkoms en so hoef dalk nie dieselfde te wees nie. Maar daar's 'n "iets", 'n menslike faktor in elkeen van ons waarmee jy kan identifiseer. Ek dink as die boek goed lees gaan jy nie regtig iets van jouself in hom soek nie. Jy gaan 'n boek lees omdat hy lekker lees.

Wat dink jy kan gedoen word om kinders en jongmense meer te laat lees?

Om hulle meer te laat lees, moet 'n ou in die taal skryf wat hulle praat. Die hoogdrawendheid - dit stimuleer tog iets in hulle brein, dis tog goed vir hulle, maar ek dink as mens in hulle eie taal skryf, gaan hulle meer lees.

Watse raad het jy vir jong skrywers / mense wat nog nie gepubliseer het nie?

Skryf, skryf, skryf! Ja, deursettingsvermoë en die vermoë om iets anders te probeer as dit wat jy probeer het nie werk nie. Maar om nie op te gee nie, want ek glo ons het 'n behoefte aan goeie jeugverhale en kinderverhale, veral in Afrikaans. En ja, ek dink the sky is the limit . . .

Onderhoud met Anneretha Combrink. Anneretha is besig met haar PhD in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Maart 2007.

Meer oor Anzil Kulsen.

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012