2013-06


jongklomp

kuier by...

Christine Neser
christine neser
Christien Neser se jeugroman, Amper Einsten, vertel die verhaal van twee broers. Die jong karakter, Micha, is outisties. Franci Greyling het met die skrywer gesels oor die tema van die boek en haar belangstelling in die onderwerp.

Jong lesers het jou leer ken as die skrywer van Kondensmelk, Koshuiskoffie, Blou sjokolade en Rocksusters met Elle as die hoofkarakter. Jou jongste boek, Amper Einstein, is nie deel van die reeks nie. In Amper Einstein is die hoofkarakter, Leonard, se boetie outisties. Waarom het jy oor dié tema geskryf?

Ek het met ’n outistiese kleuter en sy gesin te doen gekry in my praktyk. Die unieke eienskappe van hierdie hoog funksionerende kind het my gefassineer. Ek het gevoel hy verdien ’n storie. Die mamma van hierdie kind wat die storie geinspireer het, het by die bekendstelling van die boek kom praat. Dit was aangrypend om die regte feite van hulle gesinsdinamika te hoor. Die karakter, Micha, is beslis nie hulle kind nie. Maar tog het ek vir Micha van daardie outjie se gedragspatrone gaan leen.

Leonard is in grad 10. Hy help sy ouers baie met sy boetie, maar is ook soms erg gefrustreerd met al sy verantwoordelikhede. Ken jy jong mense soos Leonard?

Ja! Ek het lank kategese gegee vir graad 10’s. Selfs kinders met doodgewone broers en susters voel soms uiters gefrustreerd met hulle huisgesinne.

Het jy ook ander romans gelees waarin outistiese karakters voorkom, bv. Raaiselkind van Annali Botes en The curious insident of the dog in the night time van Mark Haddon?

Ja. Ek het ook House Rules van Jodi Picoult gelees en 'Rain Man' gekyk. Raaiselkind was vir my ‘n openbaring. Daardie seuntjie was ‘n baie laagfunksionerende outis. Hy kon nie liefde wys of praat nie. Sulke kinders is die ergste deur die toestand geaffekteer. Hulle huisgesinne ook. Toe ek op Tuks as Spraakterapiestudent was, is daardie beeld as enigste vorm van outisme vir ons voorgehou. Sedertdien het die diagnostiese kriteria baie wyer gegaan. Kinders wat hoogs funksionerende outiste is, verskil dramaties van dié aan die onderkant van die spektrum. Dis belangrik om te weet dat outisme as die "Autism Spectrum Disorder" bekend staan. Outistiese kinders kan nie in een boksie geplaas word nie: daar is geweldige variasies moontlik, netsoos in neuro-tipiese kinders.  Die DSM 4 is tot onlangs as kriteria gebruik, maar die Amerikaners het pas die DSM 5 bekendgestel. Hiervolgens sal klassifikasies soos Asperger’s wegval, en alle kinders met outistiese eienskappe op een kontinuum geplaas word. Met die DSM 5 word beweer dat 1 uit elke 88 babas wat gebore word, op die ASD spektrum gediagnoseer sal word.

In Blou sjokolade maak Elle vriende met jong kankerlyers. het jy 'n besondere belangstelling in jong mense wat met probleme soos hierde te kampe het?

Ja. Ek weet dis klaar moeilik genoeg om ’n gesonde, normale tiener te wees: sit nou nog ’n siekte, skande of gebrek by, en dit raak mateloos ingewikkelder. Maar of jy nou siek of gesond is, ’n gewone gesin of ’n problematiese een het, ryk of arm is, elke tiener wil aanvaar word. Dis seker een van die mens se diepste behoeftes. Alhoewel ek met die boek ’n bewustheid van outisme onder tieners wil wakker maak, hoop ek tog dat die boek in die eerste plek ’n lekker storie is. Dit geld ook vir die reeks wat Lapa publiseer: in elke boek is daar karakters wat “anders” is: maar ek hoop nie dit voel vir die tieners dat hulle bepreek word nie.

In Amper Einstein wor heelwat inligting oor outisme verskaf. deur die loop van die verhaal leer Leonard, sy vriende, sy familie - en die lesers - meer oor hierdie toestand. Micha, die outistiese karakter het Asperger sindroom en is besonder intelligent. Bestaan die gevaar nie dalk dat dit vir party lesers 'n verkeerde indruk (of valse hoop) kan gee van outisme nie?

Ja, die gevaar bestaan dat mense mag dink dat alle outiste so interessant en intelligent soos Micha is. Dis waarom ek die inligtingstuk agter in die boek ingevoeg het. Maar glo my, selfs ’n hoogsfunksionerende outis is ’n opdraende stryd vir ’n gesin. Hulle is sosiaal geweldig laagfunksionerend: lomp, apris, ongeskik, rigied, onvoorspelbaar, ongevoelig... maar dit wissel van persoon tot persoon. Om as outisties gediagnoseer te word, moet die taal en  sosialisering aangetas wees en moet daar sprake wees van fiksasie of ’n nou band van obsessiewe belangstelling.

Wat is jou passie in die lewe? Behalwe skryf nou natuurlik.

Dis maar my gesin: man, drie kinders, honde en huis. Ook al die jongmense en kinders in my lewe: die terapiekinders, sondagskoolkinders (wat party al klaar studeer het!) en die kinders van ons vriende. En dan is daar Afrikaans as taal, waaroor ek baie rooi in die gesig kan raak. Ek baklei vurig vir moedertaalonderrig en praat gedurig met jong ouers om hul kinders in Afrikaanse onderrig te hou. Laastens is daar Frans: ek leer al Frans van ek 13 is! En steeds gaan ek elke week vir 'n les! Lees dit, kyk dit, praat dit.

Daar is heelwat jeugverhale waarin karakters aan orkeskompetisies deelneem. Leonard en sy vriende is die "klas-geeks" en hulle neem deel vaan 'n brugboukompetisie. Waar het jy op hierdie idee gekom?

Waaraan kan geeks alles deelneem? Die Wiskunde en Wetenskap-olimpiades en die Brugbou-kompetisie! Dit het geleentheid gegee om Micha se ontwerp-insig te demonstreer en was ook ’n lekker manier om die vier vriende saam in een vertrek te kry.

Wat se soort navorsing het jy vir die boek gedoen?

Buiten die feit dat ek self met outistiese kinders in my werk as spraakterapeut te doen kry, het ek wyd gelees. Ek het oor outisme en oor die brugboukompetisie gaan oplees.

Beplan jy ook om ander jeugromans te skryf waarin karakters met soortgelyke probleme 'n rol speel?

Ek het nog nie so ver gedink nie? Dalk skryf ek iets oor ’n dowe tiener. Net omdat ek so ’n lang pad met ’n baie spesiale dowe kind geloop het. Hy het tans twee koglea implantings en kommunikeer baie goed.

Die interessante voorblad beeld iets uit van die ontwikkelende, maar ook gemaklike, verhouding tussen Leonard en Hannelore. het jy as skrywer 'n inset in die ontwerp van die buiteblad gehad?

Ek het die voorreg gehad om te sê dat ek daarvan hou! Ek kon my eie voorstelle gee, maar dis die oulike ontwerpers by Tafelberg wat die voorblad ontwerp het. Ek dink hulle het die kol getref!

 

amper einstein

Onderhoud met Franci Greyling.

Junie 2013

Meer oor Christien

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2013