2017-10


jongklomp

kuier by...

Christien Neser
christine neser
Christien Neser is bekend vir werke soos die Elle-reeks en Amper Einstein. Rouxné van der Westhuizen het as 'n skryfkunsstudent met haar oor haar skryfproses gesels en gehoor wat haar raad aan voornemende skrywers is.

Ek was vol opgewondenheid (en ’n bietjie senuwees, as jong aspirerende skrywer) oor die geleentheid om op 13 Augustus die gesogte jeugverhaalskrywer, Christien Neser, te kon besoek. Christien het ingestem het om laatmiddag op ’n Sondag, op my pad terug Potchefstroom toe van Witbank af, ’n onderhoud te voer.

Elke skrywer het, uit die aard van die saak, hulle eie storie om te vertel, ook ten opsigte van hulle persoonlike ervaringe met die publikasieproses van hul boeke. Christien Neser is bekend vir werke soos die Elle-reeks (Kondensmelk, Koshuiskoffie, Duinebesies, ensovoorts) en Amper Einstein. Saam met haar voltydse werk as spraakterapeut, skryf sy graag as ’n stokperdjie. Sy het al van agtjarige ouderdom af daarvan gehou om stories te vertel, meestal vir haar jonger sussie, maar het dit eers in 2007 - die jaar wat sy vyftig geword het - as ’n beroep ernstig begin opneem nadat sy ’n ATKV Romanse-skryfkursus op die NWU Potchefstroomkampus bygewoon het. Dit is ook tydens hierdie kursus waar sy die idee vir haar eerste Elle-boek, Kondensmelk, ontwikkel het.

Kreatiewe en skryfproses

Christien het al baie met stories en verslae gewerk as integraal tot die beroep van spraakheelkunde. Skryf het dus nog altyd maklik vir haar gekom. Sy het as student ’n jeugskryfkursus onder leiding van Marthinus Basson bygewoon by die Universiteit van Johannesburg, so haar eerste ervaring met skryf was met jeugverhale - daarvandaan, waarskynlik, haar aanklank by die jeug as lesers. Haar eerste boek, Kondensmelk, het ontwikkel as gevolg van ’n huiswerkoefening tydens die ATKV Romanse-skryfskool in Potchefstroom. Hierdie idee het sy gebaseer op ’n onlangse Botswana-vakansie as agtergrond en het die tieners wat saam met haar op die vakansie was, as karakterbasisse gebruik. Die boek is deur Lapa-uitgewers gepubliseer en dit was die begin van groot dinge vir die boek asook die res van die reeks wat daarop gevolg het.

Die idee agter Koshuiskoffie, die tweede Elle-boek, was amper logies: Elle sou uit haar vorige skool na ’n koshuis toe verskuif na afloop van hulle Botswana-vakansie in die eerste boek. Blou Sjokolade het uit Christien se eie ervaring in Frankryk gekom, waar sy self van die unieke sjokolade geproe het wat soos die Franse dorp waaruit dit kom, se dakteëls lyk. Hieruit het die idee vir Elle wat daarvan droom om die sjokolade te proe, ontwikkel, asook waar sy dan gedwing was om dit prys te gee vir ’n Otter-staptoer saam met kankerpasiënte (gebaseer op werklike kinders waarmee Christien in haar werk te doen gehad het). Dit handel oor die tema van iets wat jy begeer wat dan op ’n teleurstellende wyse weggevat word, en hoe ’n mens dit hanteer om uiteindelik ’n onvergeetlike ervaring daaruit saam te neem. Rocksusters handel oor die tema van vooroordele, en hoe mense gereeld agter maskers wegkruip. Duinebesies was ook geïnspireer deur Christien se eie ervaringe in Namibië. In Franse Vlegsel word die reis-element wat Christien dikwels as inspirasie gebruik, duidelik uitgebeeld deur Elle se reis na Parys.

Baie van haar storie-idees spruit dus uit werklike ervaringe, reise en interaksies met jongmense. Amper Einstein se outistiese karakter, Micha, is gebaseer op ’n spesifieke seuntjie wat sy in sy graad R-jaar gediagnoseer het en mee gewerk het. Haar ervaringe met hierdie kinders in die werklike lewe is dus iets wat sy in haar skryfwerk inkorporeer, en dit dien ook ‒ veral in Amper Einstein se geval ‒ as ’n vorm van bewusmaking oor hierdie sosiale kwessies. Kinders van vandag, volgens Christien, is meer ingelig oor ernstige onderwerpe as wat ’n mens verwag en kan bydra tot die gesprekke daaroor. Dit was vir haar ’n bevredigende aspek van die publisering van hierdie boek, aangesien sy glo dat die kinderleser nie onderskat moet word nie.

Haar drie kinders het ook ’n invloed gehad op haar skryfwerk vir jongmense. Toe sy aan die Elle-reeks begin skryf het, kon sy die verwysingsraamwerk gebruik van haar kinders se interaksies met mekaar: die rebelse aard van haar dogter, wat in ’n privaatskool was, en die dankbare, rustiger geaardheid van haar twee seuns, wat in die koshuis was. Die uiteenlopende geaardhede, wat gedurig op ’n stryd tussen privaatskoolleerder- en koshuiskind-sieninge uitgeloop het, was vir haar ’n bron van inligting ten opsigte van konflik tussen verskillende jongmense, die manier hoe hulle met mekaar praat en die verskille in hoe hulle mense hanteer. Die uitbeelding van die koshuislewe het haar meer geïnteresseer - vandaar die toneelskepping vir die Elle-reeks. Baie van hulle huishulp se dogtertjie, Rosie, se eienskappe is ook prominent in die karakter van Elle se kamermaat, Refilwe.

Dit is opvallend hoe Christien gereeld inspirasie en inligting uit die werklikheid en regte mense in haar lewe put om haar fiktiewe werk meer geloofwaardig en treffend te maak. Dit neem haar ongeveer ses maande om ’n manuskrip te voltooi, vanaf die eerste oomblik wat sy die idee daarvoor gekry het. Dit hang ook af van hoe ver haar gedagtes vir die werk ontwikkel is. Sy skryf nie voltyds nie, en moet dus tyd máák om te skryf. Volgens haar kan die kognitiewe proses vir ’n manuskrip maande vat - die gedagte-ontwikkeling agter ’n storie neem gewoonlik langer as die fisiese skryf daarvan. Dit vat tyd om ’n idee vas te vang, dit te verander en aan te pas, los drade in ’n storie vas te maak, hoofstukke te organiseer en uit te werk watter karakters waarheen gaan in die verhaal.

Ervaring van publiseringsproses en uitgewers

“Dit het net gebeur,” is Christien se woorde as sy laggend antwoord op die vraag oor hoe dit gebeur het dat die Elle-reeks goedgekeur is vir publisering. Sy het aanvanklik slegs ’n hoofstuk van die verhaal aan Lapa-uitgewers voorgelê, wat toe nie aanvaar is nie omdat hulle slegs volledige manuskripte aanvaar. Nadat sy die manuskrip in twee maande voltooi het (ná baie kere se oorskryf), het sy dit weer aan Lapa gestuur. Die manuskrip is uitgegee en sy het met Lapa ’n kontrak aangegaan om aan te hou skryf aan die reeks. Sy skryf nou al sedert 2007 (10 jaar hierdie jaar) en het nog elke jaar minstens een boek uitgegee. Sy het die gesig begin raak vir alle ouer, ‘laat’ beginners in die veld van fiksie-skryf, en ’n ambassadeur vir die filosofie dat dit nooit te laat is om te begin nie.

Haar kontrak met Lapa is van so ’n aard dat hulle haar na afloop van ’n suksesvolle boek aanmoedig om nog een vir die reeks te skryf. Sy word effens beperk deur die voorskrifte met betrekking tot die verhaallyn, byvoorbeeld dat Elle eerder nie te lank buite die koshuiskonteks geneem moet word vir ’n oorsese reis of iets van daardie aard nie. Die rede hieragter, soos wat sy dit stel, is dat Lapa hulle mark goed ken: hulle weet wat hulle lesers wil hê, en as skrywers is dit wys om soms ’n bietjie jou ego te kruisig (“Kill your darlings”) en te hou by wat hulle weet tot goeie verkope sal lei. Omdat skryf vir Christien slegs ’n stokperdjie is, soos wat koeksisters bak vir iemand anders is, is sy afhanklik van die uitgewer om haar boeke uit te gee en hou sy by hulle raad.

Sy het tot op hede nog nie, anders as hierdie effense kreatiewe beperking, enige negatiewe ervaringe met Lapa gehad nie. Sy het wel Amper Einstein vir een van Lapa se skryfkompetisies ingeskryf, maar dit het uitgeval aangesien hulle nie geglo het dat tiener-lesers sou identifiseer met die tema van outisme nie. Sy het dit daarna aan NB-Uitgewers voorgelê, en hulle het dit aanvaar vir publisering. Christien noem dat sy by NB-Uitgewers ervaar het dat hulle baie goeie ondersteuning ten opsigte van proeflees en manuskrip-ontwikkeling gebied het, terwyl Lapa baie goeie bemarking en markgerigte vaardighede vir verkope toepas. Sy het die Elle-reeks by Lapa uitgegee, Amper Einstein by NB, en verskeie kortverhale wat in bundels soos Sweef (ook deur Lapa) uitgegee is. Sy het tot op hede nog nie erge negatiewe kritiek op een van haar werke ontvang nie: kinders kan in vandag se lewe, volgens haar, baie maklik ’n skrywer in die hande kry om te sê waarvan hulle gehou het in ’n boek, en waarvan hulle nie gehou het nie. Party wil selfs oudisie vir sekere rolle indien die boek ooit in ’n TV-reeks of film omskep sal word! Tydskrifte en resensente het egter nog nie uit-en-uit negatief op enige van die boeke gereageer nie.

Uit die manier hoe sy haar ervaringe weergee, is dit duidelik dat sodra jy ’n kontrak met ’n uitgewer aangaan, jy aan sekere voorskrifte en verwagtinge moet voldoen, maar dat hierdie voorskrifte ook - as gevolg van die uitgewers se kennis oor hulle mark - sal lei tot meer verkope. Indien jy nie bereid is om jou “darlings” dood te maak en die raad van die uitgewers te volg nie, is dit beter om na ’n ander uitgewer te gaan of self jou boek te publiseer - ’n komplekse en duur affêre, veral as jy nie ervaring daarin het nie.

Die uitgewersbedryf is ’n persoonlike ding in Suid-Afrikaanse literatuur, volgens Christien. Om hierdie rede is jou menseverhoudings van uiterse belang: dit kan noodlottig wees indien ’n uitgewer om die een of ander rede, soos sy dit stel, “’n gly in jou gevang het!”

Raad aan voornemende jeug- en kinderboekskrywers

’n Mens kry soms negatiewe kritiek by uitgewers, veral wanneer hulle op die eerste weergawe van jou manuskrip reageer. Dit is egter belangrik om verby die opstandige gevoel en die reaksie om dit sommer dadelik te wil los, te veg. Die uitgewers doen dit waarskynlik omdat hulle boeke wil verkoop, en dit is belangrik om gehoor te gee aan hulle voorstelle. Christien noem dat sodra jy ’n manuskrip moet oordoen, is dit ’n goeie idee om hom vir ’n rukkie eers te los en later met nuwe oë daarna te probeer kyk (met die uitgewers of proeflesers se kommentaar in gedagte). Dit voel later, nadat jy oor en oor aanpassings moes maak, dat die verhaal nie meer joune is nie - maar dit is steeds! “So jy moet maar die punch vat. Wat het jy om te verloor?” As jy nog afhanklik is van die uitgewer om jou manuskrip te publiseer, dan wil hulle ’n produk skep wat by hulle beeld en mark sal pas - dan moet jy maar by hul plan inspring en dit doen!

Verdere raad wat sy vir kinder- en jeugboeksrywers bied, is dat dit ’n goeie idee is om persoonlik met uitgewers te gaan praat of ’n skryfkursus by te woon. Hulle sê gewoonlik sommer reguit watter tipe boeke hulle nooit weer wil hê nie. Die huidige Afrikaanse mark is, volgens Christien, op soek na oorspronklike boeke vir kinders, en dit gaan als oor die vloei en interessantheid van die teks, die verrassingselemente daaraan verbonde, die bemagtiging van die leser en die skep van ’n krisis waaruit daar ontsnap moet word. “Hoe meer druk daar op die taal geplaas word, hoe meer koop hulle boeke,” sê sy, met verwysing na Afrikaans as skryftaal. “Ligter en lekkerder” is volgens haar ervaring die nuwe tendens in jeugliteratuur.

Dit is ook belangrik om altyd aan te hou skryf - elke skrywer ontwikkel later ’n eie gevoel van ritme, en sy/haar eie manier van skryf.

“Een ‘nee’ moenie noodwendig vir jou al die deure toemaak nie. Probeer ’n ander mark, ’n ander plek.” Sy sê ook dat dit beter is om ’n ander hoofinkomste van geld te behou. Daar is in Suid-Afrika nie veel meer as tien skrywers wat dit voltyds kan doen - vir ander is dit meestal ’n stokperdjie. Die skrywer sal dalk baie harde bene moet kou om by die punt van suksesvolle publisering uit te kom, maar dit is belangrik om aan te hou skryf. Daar is altyd ’n mark daarvoor!

Christien se vriendelikheid en gasvryheid (sy het selfs koffie en mini-stroopwafels voorgesit vir die amper-uur wat ons in haar sitkamer gesit en gesels het) is iets wat my opgeval het tydens ons gesprek, en ek het besef watter voorreg dit was om die werklike ervaringe van ’n gevestigde skrywer soos sy te kon dokumenteer. Haar volledige verduideliking van haar kennis en ervaring van die skryf- en publiseringsproses is iets wat beslis van groot waarde is vir toekomstige jeugverhaalskrywers.

Onderhoud met Rouxné van der Westhuizen.
Rouxné is 'n Skryfkunsstudent by die Noordwes-Universiteit


Augustus 2017

Meer oor Christien

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016