2010-12


jongklomp

kuier by...

Chris Venter
Chris Venter is die illustreerder van boeke soos Speurhond Willem op reis, Karla Krullebol en My boetie dink hy's Batman. Jaco Jacobs het uitgevra oor sy werk en siening oor kinderboekillustrasies.

Chris Venter (24) is 'n Kapenaar in murg en been. Hy sy graad in grafiese ontwerp aan die CPUT (Cape Peninsula University of Technology) verwerf. Chris sê hy werk meestal digitaal in PhotoShop, want dis vinniger. Maar sy gunstelingmedium is definitief enigiets tradisioneel. "Ek is veral lief vir 'n kombinasie van potlode, fineliner, pastel en/of olieverf. En ek hou daarvan om te eksperimenteer met nuwe mediatipes." Dié bloedjong illustreerder het reeds 'n hele paar boeke laat lewe kry met sy illustrasies, waaronder Speurhond Willem op reis (Elizabeth Wasserman, Tafelberg Uitgewers), Karla Krullebol (Theresa van Baalen, LAPA Uitgewers) en My boetie dink hy's Batman (Jaco Jacobs, LAPA Uitgewers).

Waar het jou belangstelling in kinderboekillustrasies begin?

Wel, ek het nog altyd belang gestel in kinderboeke. Dis danksy kinderboeke dat ek beter leer lees en skryf het op laerskool. Die prentjies het my nog altyd ingelok en as kind wou ek altyd my eie cool karakters ontwerp soos dié in my kinderboeke. Dit was eers in my tweede jaar van my studies dat ek begin dink het daaraan as 'n moontlike beroep. Die bekroonde illustreerder Piet Grobler is destyds aangestel as ons nuwe illustrasielektor. Deur sy invloed is ek blootgestel aan die kinderboekbedryf. Hy het my 'n bietjie onder sy vlerk geneem en so het ek by hom als geleer wat ek kon. Dit was eers toe ek vir 'n kort tydjie in sy galerytjie op Stellenbosch ge-job-shadow het dat ek besef het dis wat ek vir 'n lewe wil doen. Ek het totaal en al verlief geraak op die bedryf.

Is daar sekere boeke/illustrasies wat jy uit jou kindertyd kan onthou of wat 'n groot indruk op jou gemaak het?

Ag, daar's niks wat regtig uitstaan vir my nie. Ek was verslaaf aan enige prentjies in boeke, so ek het van enige boek gehou. Ek onthou toe ek in graad 7 was, het ek nog jong kinderboekies uitgeneem by die biblioteek net om na die prentjies te kyk. Ek weet ek was baie lief vir my Kinderbybel en sy kleurvolle prente. Ek het elke aand voor slapenstyd 'n paar Bybelstories deurgelees omdat die prente so mooi was. In graad 5 het ek my eerste leesboeke begin deurlees omdat ek van die omslae gehou het. Ek was veral mal oor Janie Oosthuysen se Ouma Hester-reeks. Heel toevallig was dit geïllustreer deur Piet Grobler.

Ek was nog altyd baie lief vir sprokies, soos die Grimm-verhale. Stories soos Rooikappie, Jan en die boontjierank, Gouelokkies en Die drie varkies was altyd lekker om te lees en ek het dikwels gekyk na die verskillende maniere waarop mense dit geïllustreer het. Een van my gunsteling-kinderboekies van kleintyd af is Mirabella Muis en die duisend-en-een huise. Ek wens daar was in my kleintyd so 'n groot verskeidenheid kinderboekies rondom my soos daar vandag is. En natuurlik Where the wild things are.

Watter illustreerders se werk bewonder jy?

Daar's baie. Piet Grobler is natuurlik op my topvyflysie. Niki Daly, Andy Riley, Katie Cleminson, Deborah Allwright, David Roberts, Russel Ayto, Oliver Jeffers, Jim Lee, Alex Ross, en nog vele meer. Ek ken nog nie almal se name nie

Hoe werk die kreatiewe proses vir jou vandat jy met 'n teks gaan sit totdat die eindproduk klaar is?

Dit hang natuurlik af van die tipe boek, maar dís min of meer my proses: Eers laat ek die teks 'n bietjie in my kop rondfladder vir 'n dag of twee (of langer). Ek sal dan beplanning doen met betrekking tot die hoeveelheid prentjies wat nodig is en waar als geplaas sal word regdeur die teks. Dan begin ek teken aan klein, vinnige thumbnail-sketsies en dan sal ek dit vergroot en kleur gee.
Soms praat sekere tekste meer met my as ander, en ek het al agtergekom hoe lekkerder ek werk aan 'n boek, hoe meer "kreatiewe moeite" sal ek insit. Dus sal die styl en media wat ek gebruik ook heeltemal afhang van die gevoel wat ek kry uit die teks.

Ek vermoed baie mense meen illustrasies is net 'n manier om 'n kinderboek "mooi" of "oulik" te maak. Maar wat dink jy is die funksie van illustrasies in 'n goeie kinderboek?

Dis definitief 'n manier om die teks te versier, net soos 'n fisiese liggaam daar is om 'n siel te huisves, maar terselfdertyd is dit soveel meer.

Tydens my B.Tech-studies het ek 'n tesis geskryf oor die kognitiewe groei van kinders en hoe dit verband kan hou met kinderboeke. Ek dink die belangrikste ding wat ek uitgevind het, is dat twee tools nodig is om kinders mee te leer: taal en fiksie/fantasie. Waar die woorde in 'n kinderboek natuurlik 'n kind se spraak-, lees-, dink- en skryfvermoëns kan verbeter, kan die illustrasies net so direk verband hou met kinders se abstrakte gedagtes (verbeelding). Geen kind wil sommer net 'n klomp woorde op 'n bladsy lees nie. Ek onthou as kind het my brein heeltemal toegeslaan wanneer ek 'n groot paragraaf moes lees of leer.

Prentjies is natuurlik daar om kinders in te lok. Piet Grobler het my altyd geleer dat die prentjie 'n storie van sy eie moet vertel parallel aan die teks. Wanneer die kind die prentjies lees (of probeer ontsyfer), sal hy iewers die teks begin raaksien en self begin lees.

Verder is prentjies daar om die gevoel, ritme, persoonlikheid, bui, geslag, ens. van die boek vas te vang. Elke liewe kinderboek het sy eie vingerafdruk danksy die prentjies en ek behandel elke kinderboek as 'n kunswerk. Daarom versamel ek tans kinderboeke as 'n stokperdjie. Prente is baie meer as net versiering. Definitief!

Wat gehalte betref, hoe dink jy vergelyk ons plaaslike kinderboeke met die oorsese mark?

Ek dink omdat daar 'n groter klem is op die ontwikkeling van opvoedkundige skoolboeke vir kinders in Suid-Afrika, ly die ontwikkeling of "evolusie" van die ander Suid-Afrikaanse kinderboeke daaronder. Daar is soms 'n bietjie minder "durf" in die plaaslike kinderboekmark. Ek dink Suid-Afrika is nog baie konserwatief oor wat sy kinders mag en nie mag lees nie. Dis vir my 'n bietjie hartseer. Ons illustreerders kan hulself nie altyd ten volle uitleef in styl soos oorsese illustreerders nie, want ons moet dikwels in gedagte hou waarvoor ons kinder reg is en waarvoor nie.

Ek dink partymaal dat oorsese kinderboeke beter hier verkoop as ons eie boeke, maar ek weet nie regtig of dit waar is nie. Persoonlik dink ek ons is nog 'n klein bietjie agter die klip, maar ons sal definitief eendag inhaal. Ten spyte van al die beperkings lewer skrywers en illustreerders in Suid-Afrika steeds 'n uitstekende diens in terme van gehalte. Ek bedoel glad nie om negatief te klink oor als nie, maar ek glo daar is nog baie ruimte om te groei en ek wil graag deel wees daarvan.

Wat is die grootste uitdagings van die Suid-Afrikaanse kinderboekmark vir 'n illustreerder?

Soos ek gesê het, die beperkings (of reëls) wat ons het, kan nogal moeilik raak om te volg. Verder het die staat ook 'n groter klem op opvoedkundige skoolboeke geplaas, wat beteken daar is minder geld om die "lekker" boeke mee te maak. Wat beteken die hoeveelheid "lekker" boeke wat jaarliks gemaak kan word, is baie min (teenoor oorsese standaarde). Dit beteken ook minder (groot en lekker) projekte vir illustreerders om aan te werk.

Wat is die beste raad wat jy vir 'n voornemende illustreerder kan gee wat in ons kinderboekmark wil werk?

Probeer 'n styl ontwikkel wat vir jou uniek maak en wat pas by die tekste wat jy illustreer. Wees bedagsaam en volg jou uitgewer se raad, want hulle weet meer as jy. Versamel jou gunstelling-kinderboeke en doen konstante navorsing om uit te vind waarvan kinders hou. Kindersielkunde sal jou definitief help in jou projekte, so doen 'n bietjie navorsing daaroor. Ek dink bo als is dit belangrik om jouself aanhoudend te druk om te weet wat jou vermoëns is en wat jy kan en nie kan hanteer nie. Bemeester verskillende mediatipes en eksperimenteer daarmee. Eksperimenteer met ander style soveel as wat jy kan, sodat jou kreatiewe denke en vermoëns vergroot kan word. Laastens, leer jouself ken en leer hoe lank jy vat met projekte. Niks is belangriker as goeie tydsberekening nie. Wanneer jy spertye mis, gaan dit teen jou tel. Altyd. Moet ook nie te veel projekte gelyk aanpak nie. Wees realisties. (Dis moeiliker vir kunstenaars om realisties te wees, maar dis definitief doenbaar!)

Dink jy illustreerders kry genoeg erkenning vir hul werk?

Eerlikwaar, nie regtig nie. Ek voel dat skrywers en illustreerders ewe belangrik is. Die oorspronklike gedagte vir 'n storie begin met 'n skrywer, maar dit eindig met die oorspronklike skeppingsvermoëns van die illustreerder - saam maak hulle een volledige kinderboek. Die teks maak die boek interessant en dit vertel 'n storie, maar die prentjies verkoop die boek meeste van die tyd en dit kan ook 'n storie saam met die teks vertel. Dis daar om die leemtes in te vul. Maar dit hang natuurlik af van watter soort projek ons praat. Ek dink eerlikwaar dat as 'n illustreerder regtig goeie werk gedoen het, hy erkenning moet kry daarvoor. Maar ek voel dat die skrywer altyd die stem sal wees van die teks en niemand anders sal daardie plek kan inneem nie.

As jy die kans kan kry om enige boek of storie te illustreer, wat sal dit wees?

Weet jy, daar is eintlik 'n paar. Ek wou nog altyd Bybelstories en bekende sprokies illustreer. Veral Jan en die boontjierank, Rooikappie of Die drie varkies. Maar ek dink vir enige illustreerder is Lewis Caroll se Alice in Wonderland die droomverhaal om te illustreer.

Onderhoud met Jaco Jacobs, Oktober 2010.

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012