2008-10


jongklomp

kuier by...

Onderwêreld - Fanie Viljoen

Verbeel jou . . . ja, jy kan . . . verbeel jou jy is by 'n boekbekendstelling, in 'n oulike boekwinkel, glasie wyn in die hand, eetgoed eenkant op tafels. Om jou maal ander mense. 'n Onsigbare naelstring verbind almal in die winkel - julle is lesers.

In netjiese hopies staan die boek wat vanaand bekendgestel word. Hierdie een:

Voor die tyd vluglees jy die agterblad, dalk 'n paragraaf of twee iewers midde-in die storie. Jy bekyk die prys. En jy wonder - is dit die moeite werd? Jy meet die gewig in jou hande, kyk weer hoe dik die boek is. Mmm . . . dan is dit nog 'n boek wat duidelik op die voorblad in die jeuglektuur-kategorie geplaas word.

Terwyl jy die boek in jou hand het, stel iemand die skrywer voor en hy begin te praat oor lewe in die onderwęreld . . .

Die oorsprong van Onderwêreld

Die tema vir die 2007 Sanlam-prys vir jeuglektuur was tegnologie - 'n moeilike een vir my, want ek wou my doelpale skuif na BreinBliksem se publikasie in 2005.

Ek het begin rondkyk vir interessante temas in die wêreld van tegnologie. Ek is glad nie 'n deskundige met rekenaars nie, maar kan myself darem help met dit wat ek gedoen wil kry - net genoeg om my uit die moeilikheid te hou.

Toe kom ek af op die tema van hackers - of dan kuberkrakers.
Ek het dadelik geweet dit is die onderwerp van my volgende boek. Ek het die idee laat broei in my agterkop en meer en meer op die Internet gesoek na inligting. Gou het ek besef dit is ongelooflike fassinerende veld.

Nog navorsing het gevolg en hoe meer ek oor die kuberkrakers uitgevind het, hoe meer het ek agtergekom dat ek eintlik baie min weet van rekenaars. Kuberkrakers toor nie met rekenaars nie, hulle mors met hulle - en hulle kan hulle selfs heeltemal opmors.
Die navorsing het vir my gewys dat ek my storie sal moet ken as ek 'n boek sal wil skryf oor die skimme wat in die onderwêreld van die kuberruim rond beweeg.

Toe kom ek met 'n gelukskoot af op 'n artikel oor kuberkrakers, geskryf deur Justin Stanford, 'n Suid-Afrikaanse rekenaarspesialis. Ek het hom via e-pos in die hande gekry en hy was bereid om my te help met inligting. Deur Justin ontmoet ek vir Lance Micalson. Hy was betrokke by die opstel van die wet teen kuberkraking in Suid-Afrika. Hy was baie opgewonde oor die idee van die boek en gee my die besonderhede van twee regte kuberkrakers. Of dan ouens wat eens op 'n tyd kuberkrakers was.

So tuimel ek dieper die onderwêreld in. Ek stuur e-posse aan die kuberkrakers en vertel wat ek met die storie beoog. Hulle lewer kommentaar, maak verbeterings en gee voorstelle.

Nooit het ek die hele manuskrip vir een van hulle gestuur nie. Die paranoia het begin posvat. Die ouens was kuberkrakers . . . sê nou net hulle kom op my rekenaar, gryp die dokument en sit dit op die Internet.

Ek sit sleutelwoorde op my rekenaar en op die dokument self. Ek verander die sleutelwoorde op my Internetbank en sorg dat die virusprogram op datum is. Party dae wonder ek of ek skoon simpel is, want elke klein dingetjie wat op my rekenaar haak, laat my wonder . . .

In my navorsing gaan ek na webborde van Suid-Afrikaanse hackers. Ek skrik my koud as ek sien wat hulle doen. Hierdie is die plek waar hulle spog met hul prestasies. Een ou vertel hoe hulle war driving doen naby die Tygervallei-sentrum in die Kaap. Dit is wanneer krakers rondry met skootrekenaars en oop netwerke soek. Hulle vertel hoe hul 'n man dopgehou het terwyl hy sy e-pos aflaai. Toe is hy op die Internet. Hulle kon presies sien wat hy doen, waarna hy kyk . . .

Ek begin agterkom hoe hierdie ouens dink en stadig maar seker begin die kuberkrakers wat uiteindelik in my storie hul buiging moet maak, vorm kry.

Ek gaan na webblaaie wat jou op 'n veilige manier leer hoe om sleutelwoorde te kraak. In die werklike lewe begin ek goed raaksien wat krakers hul lippe sal laat aflek - sleutelwoorde geskryf in mense se dagboeke, sleutelwoorde geplak langs die rekenaarmonitor by 'n bank se inligtingstoonbank. Ek vra mense wat ek teëkom of hulle rekenaars se sleutelwoorde in woordeboeke verskyn. Baie mense s'n is daar. Dit kan slegte gevolge hê. Ek besef die kuberkrakers is reg: jou maatskappy se rekenaars kan die beste sekuriteit hê, die beste virusprogrammatuur, die beste rekenaarkundiges, maar die swak plek in die skakel bly die mense wat die rekenaars moet gebruik.
Elke rekenaar kan 'n teiken word. Almal is kwesbaar.

The adage is true that the security systems have to win every time, the attacker only has to win once.
Dustin Dykes


Karakter vs. Storie

Ek was twee jaar gelede by 'n bespreking van Deon Meyer en John Connolly waar hulle probeer uitpluis het wat eerste kom: die karakters of die storie.

Vir my is die karakters gewoonlik eerste daar. Hulle dikteer wat in die storie moet gebeur.

Met Onderwêreld was dit anders. Die twee elemente was baie vervleg, maar ek dink die storie was eerste daar.

'n Goeie verhaal is vir my omtrent die belangrikste element van 'n boek. Ek weet ek skryf vir 'n jeugmark, hoewel baie volwassenes ook my boeke lees. Ek moet die jeug se aandag kry, en dit behou, anders sit hulle die boek neer, en gaan kyk DVDs of speel Playstation.

Dit is hoekom ek ook deeglik beplan het aan Onderwêreld se verhaallyn. Ek wou 'n storie skryf wat meer kompleks was as my vorige twee jeugverhale s'n. Dieselfde karakters se verhale sou in twee verhaallyne vertel word, en teen die einde saamloop.

Dit het gevra vir baie beplanning. Ek het kaartjies gemaak vir elke hoofstuk, en die ontvouende gebeure soos 'n legkaart inmekaar probeer pas.

Eckardt, een van die hoofkarakters in die boek, se krakernaam is Ekk-0. Soos eggo. Eggo's speel 'n belangrike rol in Onderwêreld, en ek wou gebeure in die een verhaallyn laat eggo in gebeure in die ander verhaallyn. Dalk klein goedjies wat sommige lesers nie sal opmerk nie.

Die keuse van karakters was moeiliker as met my vorige boeke. Hulle wou hulself nie sommer net kom aanmeld nie. Ek moes hulle gaan soek - en ek het - in jeugtydskrifte. Ek het foto's gesoek wat my aandag trek, hulle uitgeknip en op stukkies karton geplak, soos hierdie:

Toe begin ek denkbeeldige onderhoude voer met die karakters. (Skrywers is soms bietjie mal.) So leer ek hulle ken. Nie net hoe hulle lyk nie, ook hul denkpatrone, hul emosionele onderwêrelde.

Natuurlik verander en vorm die karakters se antwoorde aan my storie. Maar so begin die jeugroman 'n lyf te kry. Die karakters word mense.

Ek plaas hulle in hul storiewêreld: Lawson Kollege, 'n prestige seunskool in die Drakensberg.

My twee hoofkarakters:

Greg Owen, die seun van 'n mediamagnaat. Hoofseun van Lawson Kollege. Eerste rugbyspanspeler. 'n Seun wat 'n donkerte met hom saamsleep . . .

En Eckardt Wilken. 'n Nuwe matriekleerder by Lawson. 'n Kuberkraker. Die ou wat vir Greg na die onderwêreld lei . . . Die ou wat een Donderdagoggend spoorloos verdwyn . . .

Sommer net vir interessantheid:

In die tyd toe ek Drakensberg toe is vir navorsing, was hierdie een oggend 'n koerantopskrif:

Kuier ook by Fanie Viljoen saam met Herman Eloff.
Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012