2013-12


jongklomp

kuier by...

Skrywers - Galop
galopboek
As jy hou van perdestories gaan jy mal wees oor Galop - 'n nuwe bundel met perdestories wat jou gaan laat lag en laat huil, bietjie bang gaan maak of op wonderlike avonture neem. Maar die belangrikste is dat die perde uiteindelik soos jou vriende gaan voel.
Fanie Viljoen het 'n paar jaar gelede 'n Engelse boek met perdestories gelees en nie baie daarvan gehou nie. Hy het gedink ons kan beslis beter stories in Afrikaans skryf. Galop was die resultaat.

Fanie het met die skrywers gesels om so "uit die perd se bek" te hoor wat die skrywers oor perde te sê het.

Annelie Ferreira

Fanie: Jou kortverhaal vertel die wonderlike storie van ’n seun en ’n perd wat albei seergekry het. Dink jy mense en perde verstaan mekaar se seer?

Annelie: Ja, ek dink mense en perde verstaan mekaar se seer. Perde word lankal gebruik vir fisieke terapie vir gestremde mense, en word nou al hoe meer ingespan vir sielkundige terapie ook. Omdat perde sulke sensitiewe diere is, kan jy nie jou gevoelens vir hulle wegsteek nie, al probeer jy ook. Hulle leer jou hoe om eerlik te wees, en dat jy sterk kan wees, al is jy ook sensitief.

Jaco Jacobs

Fanie: Jy is onder andere bekend vir jou Stalmaats-reeks wat jy onder die skuilnaam Lize Roux skryf. Wat is die vreemdste ding wat iemand al vir jou oor perde of perdeboeke gevra het?

Jaco: 'n Keer of wat het mense my al via Stalmaats se Facebook-groep gekontak om te vra vir raad oor perde met beserings. Hoewel ek mal is oor perde, is nie ek (of Lize Roux) in staat om kundige raad oor perdegesondheid te gee nie. Dit is raadsaam om eerder met 'n veearts te gesels. Mense vra ook soms vir my of my uitgewer asseblief foto's van hul perde voorop die nuwe Stalmaats-boeke kan gebruik. Ongelukkig is dit ietwat duur en tydrowend om professionele foto's spesiaal te laat neem vir die omslae – die ontwerper koop sommer foto's by 'n databasis.

Elizabeth Wasserman

Fanie: ’n Storie oor ’n gestreepte perd? Waar kom daaraan?

Elizabeth: Kulturele verwarring onder diere is sekerlik iets waarmee ons kan assosieer. Op my broer se plaas in die Bosveld is daar 'n mak zebra wat saam met die perde loop. As ons gaan ry, draf hy oral saam. My “perd van 'n ander kleur” dink weer hy is 'n zebra, en die dogtertjie in die storie probeer hom help deur hom vol strepe te verf.
(My suster het weer 'n volstruis gehad wat gereken het hy is een van die hoenders.)

galop
Só lyk Strepie die zebra wat dink hy is ’n perd.

Christien Neser

Fanie: Jy reis graag na ander lande. Watter land het die mooiste perde? Het jy dalk ’n mooi staaltjie oor perde in ander lande?

Christien: Ek was al in baie lande, maar die mooiste perde bly vir my die Lippizaners. Hulle kom oorspronklik van Hongarye en Oostenryk. Hulle ongelooflike gevoel vir ritme, vir harmonie van beweging en aanvoeling vir hul ruiters se wense, laat mens verstom. Baie, baie jare gelede het ek ’n boek gelees, Airs above the Ground, deur Mary Stewart. Dit was ’n misdaad-riller met ’n ou Lippizanerperd as deel van die speurspan om ’n moordenaar te vang.  Oi, ek het daardie boek voos gelees! Die bewegings van die Lippizaners word so genoem: airs above the ground. Dis asof hulle vir ’n paar sekondes die swaartekrag van die aarde kul en gewigloos met al vier pote in die lug kan hang. Mens se hart mis ’n slag of twee! By Kyalami, buite Bryanston, is ’n Lippizanerskool. Op ’n Sondag kan mens na hulle gaan kyk: spierwit met hul ruiters in rooi baadjies. Hierdie perde word ook vir hipoterapie gebruik. Dit is die terapeutiese waarde wat perde vir mense het: na gees en na liggaam. Klein gebreekte ou lyfies word op die perde getel, net om met stralende gesiggies later weer afgetel te word. Saam-saam word kind en perd ’n span wat regkry wat medisyne en dokters nie kan nie. Dis dókter Perd vir jou, my ou!

Nelia Engelbrecht

Fanie: Het jy al ’n spookperd gesien? Dink jy perde kan regtig spook?

Nelia: Ek het nog nie self 'n spookperd gesien nie, maar as mense kan spook, kan diere beslis ook. Dink net hoe vreesaanjaend so 'n perd kan lyk: vonke wat uitslaan waar sy hoewe grondvat, sy oë wat vurig glim en neon-agtige wolkies wat by sy neusgat uit stoom.... Glo my, as ek die dag self so 'n spookperd in 'n donker woud raakloop, sal ek my skoon in ’n ander (spook)wêreld in skrik.

Solet Scheeres

Fanie: Jy bly ver oor die see in Brabant. Is kinders daar net so mal oor perde?

Solet: Kinders in Nederland is gek op perde! Hier in ons dorp is daar ʼn baie aktiewe Pony-club, Duinrakkertjes, en laatmiddag sien jy altyd hoe die kinders met hulle ponies in die fietspad aanstap klub toe. Ek dink perde het ’n koninklike lewe hier in die Lae Lande. ’n Mens sien hulle oral: die polisie maak dikwels van perde gebruik in stede, hier in Brabant ry baie mense op Sondag nog met sulke oulike perdekarretjies en op elke weiveld staan daar gewoonlik een of twee perde tussen die beeste. Het jy geweet dat die grootste trop wilde perde in wes-Europa op die Oostvaardersplassen leef? Daar kom natuurlik ook ’n baie bekende perderas uit Friesland. Ai, min perde is so mooi soos ’n gitswart, volbloed Friese Paard! Die beroemdste perd van Nederland, Salinero, het vanjaar gesterf en dit was ʼn droewige gebeurtenis. Sy dood het selfs die hoofnuus op TV gehaal.  Salinero was natuurlik Anky van Grunsven se dressuurperd waarmee sy twee keer ʼn goue medalje by die Olimpiese spele gewen het. Salinero het ʼn volle 17 jaar oud geword!

Marita van Aswegen

Fanie: ’n Klomp van jou kleinkinders bly in Suid-Afrika en oorsee. Kan hulle perdry en het jy hulle geleer?

Marita: My drie Amerikaanse kleinkinders ry baie goed perd.  Hulle ma het hulle geleer. Ek het saam met hulle ma gery toe sy ’n klein dogtertjie was.  Wanneer hulle gesin op die plaas by ons kom kuier, gaan hulle mal op die perde.  Ek het die idee vir my storie by hierdie drie gekry. Die karakters in die verhaal het baie van hulle eienskappe.  (Hulle name: Marita, Ané en Gavin Johnson)

galop2
Hier staan Marita se kleinkinders wat in Amerika bly.

Marietjie Vos

Fanie: Het jy as kind perd gery nes die hoofkarakter in jou verhaal?

Marietjie: Ek het as kind 'n bietjie perdgery, maar ek was eintlik redelik bang vir die groot diere. My sussie, Anja, is die groot ruiter in die familie, so ek luister na haar as dit oor perde-dinge gaan.

Marga Jonker

Fanie: Ry jy al lankal perd? Vertel ons van al jou perde. En wil jy weer een hê?

Marga: My eerste perd wat my pa vir my, my broer en my suster gekoop het, se naam was, Daisy. Sy was 'n bietjie lui, maar het 'n wonderlike aptyt en persoonlikheid gehad. Ek het my eie perd van hoërskool af gehad, sy naam was Bokveld. Eintlik was sy naam Charming, hy was die pragtigste blinkvosperd wat jy kon kry. Toe hy nog 'n vulletjie was, was hy baie siek en is amper Bokveld toe, die stalbestuur het hom dadelik Bokveld herdoop. Hy was my hart se punt vir jare. Hy is nou al lankal dood en dit was baie sleg vir my. Ek het ook vir Little Shoes, Easter Girl, Dyna, Dik Anna, Stella, Poppie, Boy, Clint, Joe Joe, Black Jack, Duke, Daisy, Neetling, Soldaat, Soutvis, Baby Blue en vele ander perde op ons plaas gery, maar ek en Bokveld het die beste oor die weg gekom. Ek was bitter lief vir daardie perd van my.

Ek het nou onlangs die voorreg gehad om vir 'n jaar op Phat Joe te kon ry as of hy my eie was. Dit was wonderlik. Hy het my baie aan Bokveld laat dink, want hy was ook so bekoorlik, 'n vosperd en 'n vriend.

Ek sal baie graag eendag weer my eie perd wil hê. Ek sal wil deelneem aan uithouritte.  Ek sal 'n Nooitgedacht ponie wil hê van die http://www.nooitgedachthorsestud.com/  stoet. Verkieslik 'n blou skimmel of 'n blinkvos, reunperd. Ek sal hom Jack noem, na my eie weergawe van: Jack of all trades, master of fun.

galop3
 Marga op Phat Joe se rug.

Rosa Vermeulen

Fanie: Jou eerste kortverhale verskyn in Galop. Dis baie opwindend, nes jou werk – jy werk elke dag met perde. Vertel ons meer!

Rosa: Ek het die voorreg om bestuurder te wees by 'n ontwikkellende Appaloosa-stoet en -ryskool. Ons doen “trail rides”, gee rylesse, leer perde, en rehabiliteer ook mishandelde perde. Dan is ek natuurlik ons Appaloosa-hings se gewillige persoonlike lyfkneg. Appaloosas kies jou en maak jou vir hulle werk. Dis die wonderlikste perde onder die son! Ek krap ons s'n se jeukplekkies vir hom, maak hom skoon, dra kos en water agter hom aan. In ruil daarvoor kry ek nekdrukkies en laatnag kuiertjies as hy besluit hy kom maak 'n draai by die huis net om hallo te se. Hy is nou maar vyf jaar oud en ons het hom van Maartmaand af. Ek het die voorreg om hom onder saal te kon sit, te skool en het onlangs my eerste skou met hom gedoen. Dis baie opwindend! Ek was bitter op my senuwees, en het al die Rescue Remedy gedrink wat hy vir sy senuwees moes kry! Hy was glad nie op sy senuwees nie! Hy was net ongelooflik verspot. Toe ons in die arena voor die beoordelaar staan, het hy (wat nooit byt nie) my vingers gestaan en hap en behoorlik gelyk of hy lag! Ons het nie 'n plek gekry nie, maar net die gevoel om met daardie pragtige perd voor almal te kan verbydraf in ons skouklere was ongelooflik. Ek het amper gehuil. En Sensation het geweet ek is trots op hom. In sy hart, en myne, het ons gewen. Ek kon nie ophou om hom drukkies te gee nie! Ons maak tans reg om te begin met ons stoetregistrasie en die aankoms van ons eerste vulletjies. Ons maak ook gereed vir volgende jaar se skou wanneer ons gaan inskryf vir 'n paar western- en springklasse! Ons is veral opgewonde oor die western-ryklasse, aangesien ek en Sensation besluit het ons wil cowboys word!

galop4
Hier is Rosa en haar vurige strydroshings vas aan die slaap met sy kop op haar skouer. Sy kop en nek se volle gewig is alles op haar! Rosa is oortuig daarvan dat hy foto's haat.

Onderhoude met Fanie Viljoen

November 2013

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2013