2014-04


jongklomp

kuier by...

Hans du Plessis
hans du plessis
Hans du Plessis is 'n woordmens van formaat: navorser, akademikus, digter, dramaturg, rubriek-, roman- en jeugboekskrywer. Chantel Robijn het as skryfkunsstudent met die gewese direkteur van die ATKV-Skryfskool gesels.

Die Akker is effens belig en ek voel die fluweel van die rooi stoele. Na twee en 'n half uur se sit is ek dankbaar dat ek die plek in Potch gekies het met die sagste banke. Ek suig die laaste bietjie van my melkskommelen Prof Hans vra vir my of daar nog iets is wat ek wil weet. Ek wil graag ja sê, maar ek twyfel of ek nog inligting kan inneem.

Om 'n onderhoud te voer met Prof Hans du Plessis, is soos om na 'n grammefoonplaat te luister, natuurlik 'n classic. Om hom vrae te vra is soos om 'n vuurhoutjie in 'n plas petrol te gooi, die antwoorde is onverwags, en baie.

Op 'n agt-en-sestigjarige ouderdom, is dit duidelik dat hy weet waarvan hy praat. Toe ek my vrae uitgewerk het, het ek geglo dat 'n uur genoeg tyd sal wees, maar die lewe, of te wel onderhoude is onvoorspelbaar, en in plaas van my 13 vrae, het ek sekerlik 26 gevra.

In hierdie verslag sal die belangrikste vrae en antwoorde bespreek word. Anders gaan ek ook sekerlik 'n boek moet skryf.

Dit wat hy al in sy lewe gedoen het as skrywer is ongelooflik uitgebou. Hy skryf van romans tot taalkunde boeke. Hy is mal oor veldwerk, en skryf net oor goed waarvan hy weet.

“Hoe het Prof begin skryf?” val ek weg met die eerste vraag. Die antwoord wat ek kry is onverwags, en lank, basies 'n geskiedenisles.

Hy het begin skryf as 'n jong seun, en toe 'n hele klomp goed geswot reg oor die wêreld, en toe, en toe, en toe kom die regte vrae.

“Vertel my asseblief meer van Prof se skryfproses?” Ek weet nie eers of ek eers só 'n vraag mág vra nie. Ek glimlag en kyk in sy oë, ek wonder by myself of hy my kan sien, of selfs herken.

“Elke een is anders.” Ek kon dit amper nie glo nie. Sekerlik moet 'n skrywer van die Prof se formaat 'n vaste sisteem hê. Hy gaan toe verder: “Party skryf jy hoofstuk  vir hoofstuk, ander skryf jy rond en bont, ander skryf jy die hele boek klaar, elke skryfstuk verskil.” Die skryfkunsklas in my eerstejaar duik by my op, die vyf stappe van skryf: stimulus, rowwe beplanning, skryf, redigeer, publiseer. Ek wil begin angstig raak, dit voel vir 'n oomblik of my wêreld uitmekaar gaan skeur. Alles wat ek geleer het, alles wat ek so hard probeer toepas. “Jy moet jou eie manier kry van skryf, niemand kan dit vir jou voorskryf nie.” Die ystervuis om my hart raak 'n bietjie losser, ek kan stadig maar seker weer asemhaal.

Ek stel meer belang in sy jeugromans, ons gesels oor ditjies en datjies en uiteindelik vra ek toe: “Hoe het Prof se lewe, Prof se skryfwerk beïnvloed? Meer spesifiek gekyk na Ditsem Dawid, want dit is 'n boek wat vir die seuns in my graad nege klas van groot waarde was.”

As ek die Prof se antwoord in een woord kan opsom, is dit observasie. Hy het na sy vier seuns gekyk, en geluister en so het Ditsem Dawid bestaan. Weereens is ek herinner aan 'n skryfkunsklas, twee woorde bly my by, observeer en absorbeer. Ek kyk na die Prof voor my, ek observeer hoe gewillig hy is om raad te gee, om leiding te gee, en ek absorbeer, of ek probeer, elke liewe woord wat hy sê.

“Wat is Prof se grootste kopseer in verband met publisering?”

Ek het verwag dat ek 'n les in een of ander ongesiende, onbewuste deel van publisering gaan kry, maar die antwoord was eenvoudig; “Bemarking.” Hy het aan my verduidelik wie en wat goeie uitgewers is, maar wat werklik merkwaardig was, is die feit dat hy gesê het dat 'n redakteur moet jou manuskrip behandel asof dit jou kind is, en ook gedeeltelik haar kind, die redakteur moet betrokke wees by elke liewe deel van die publisering, dit is eers dan, dat die skrywer en die boek die nodige aandag kry om goed te verkoop.

“Wat is die werke (letterkundig of kreatief) waarop Prof die trotste is, of waarvoor Prof skaam kry?”

Hy begin dadelik terug verwys na van sy vroeër werk, en hy praat nie oor dit waarop hy trots is nie, hy praat oor dit wat hy geleer het. Hy besef dat hy meer leiding moes kry: “Ek moes skryfkuns gehad het,” is sy eenvoudige gevolgtrekking.

“Hoe hanteer Prof keurdersverslae?”

“Keurders was nog nooit vir my 'n kopseer nie. Niks meer nie, niks minder nie.”

“Prof skryf beide akademies en kreatief, hoe het Prof die twee genres apart gehou? Het hulle mekaar tot 'n mate beïnvloed, want ek het Prof se Variasietaalkunde handboek gelees, en dit is een van die min handboek wat straight-forward en verstaanbaar is.”

Daar is vir hom nie 'n onderskeiding tussen die twee nie, “Sê wat jy wil sê!” Hy het vir my verduidelik met 'n glinstering in sy oë dat hy glo nie daarin om goed gekompliseerde voor te stel nie, dit mors eenvoudig tyd. Sy professors het natuurlik nie van sy eenvoud gehou nie, maar hy het homself uitgedruk soos hy wou. “Dit is ook belangrik” sê hy aan die einde van sy verduideliking, “Kry jou eie stem en hou dit, moenie dat enige iemand anders jou stem onderdruk nie.” Hy vertel my ook verder hoe sy veldwerk sy Griekwa Psalms beïnvloed het. Dit het alles beïnvloed: “Alles het te doen met die natuur, dis eenvoudig.”

En so kry ek toe sommer 'n brokkie goue raad van iemand wat weet, weet hoe die letterkunde en taalkundewêreld werk.

Tendense pla hom nie, hy skryf wat hy wil skryf. “Ek is te veel van 'n alleenloper,” is sy rede hiervoor. Dit laat my dink aan my identiteit, my skrywersidentiteit. Wat wil ek sê? Wat is die doel van mý as skrywer?

Ek loer na my boekie en kyk na die bietjie vrae wat oor is, ek sien Boegoe, die digbundel se interessante voorblad en strokiesagtige sketse flits deur my kop en dadelik kom 'n vraag; ““Hoe betrokke was Prof by die kabaret van Boegoe vannie liefde? Hoe voel dit wanneer 'n skryfstuk so opgevoer word, en basies van gedaante verander?”

“Vir 'n skrywer,” lag hy, “was ek báie betrokke!” Hy het gehelp om die akteurs uit te kies, ook om die digbundel oor te skryf, en soveel meer. “Maar dis moeilik, jy moet nie direk met die akteurs praat nie.” Hy verduidelik verder dat dit 'n uitsonderlike ondervinding is, om jou eie werk so te sien lewe kry.

“Wat is Prof se ondervinding met die keuringsproses?”

Hy haal asem, glimlag, en antwoord dan; “Met elke huis is dit anders.” Hy vertel van 'n paar nare ondervindings, asook die beste redakteurs in die Afrikaanse letterkunde, “Onthou net dat wanneer die redakteur saam met jou hierdie boek maak werk, het hulle net soveel om te verloor of te maak soos jy, dit hou hulle getrou.” Hy verduidelik dat jy gaan agter 'n uitgewer aan en nie agter 'n uitgewershuis nie.

Ek koekeloer weer na my vrae: “Wanneer ek kyk na die grafiese kuns wat in Boegoe vannie liefde is, moet ek erken dat dit die eerste ding is wat my na die boek aangetrek het. Wat is Prof se ondervinding van die grafiese uitleg, of kuns van u boek?”

“Dis eenvoudig,” antwoord hy, “Hoe mooier 'n boek is, hoe makliker verkoop hy. Van my boeke is nou al in hul hoeveelste druk, net omdat dit met die eerste druk mooi gelyk het. Mense wil nie lelike boeke koop nie, hulle bly net daar op die rak.” Dadelik begin ek aan my eie buiteblad dink, hy praat, maar ek luister nie meer nie, ek beplan in my geestesoog die voorblad van my eie jeugroman.

Hy hou skielik op praat, ek skuif so bietjie rond, die volgende vraag maak my op my senuwees. Ek weet nie lekker hoe om dit te benader nie, ek skraap al my moed bymekaar, ek haal diep asem en val amper oor my woorde. “Prof se sig is nie meer wat dit was nie, wat het dit veroorsaak, en hoe het Prof aangehou met skryf?”

Ek wou nog 'n vraag oor sy ondersteuningsisteem vra, maar hy antwoord dit sommer vir my, “Dit was omtrent 1993 toe ek nie meer 'n kar kon bestuur nie. Dis 'n genetiese siekte, en vandag het ek sowat 9% se sig oor. Soos jy daar sit, sien ek net jou buitelyne.” Hy verduidelik vir my van sy rekenaar wat sy die boeke se letters vergroot. Hy verduidelik ook dat opgee nie 'n opsie was nie, nooit nie. Stil sit ek bewonder die man voor my. Hy het soveel redes om nie te skryf nie, en nie te lees nie, maar hy steur hom nie daaraan nie. Hy het besluit dat dit is wat hy wil doen.

Verder het ons gesels oor die plaasroman, laster en vloekwoorde in boeke en 'n hele paar skrywers. Maar die merkwaardige woorde bly my die heeltyd by; “Kry jou stem, en hou hom.”

Op pad huis toe, luister ek weer na 'n gedeelte van die onderhoud. Ek verbeel myself dat ek die eerste boek wat ek skryf in my hande vashou. Die res van die dag voel so vaag, behalwe wanneer ek droom, en hoop.

 

Onderhoud met Chantel Robijn
Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).


Augustus 2013

Meer oor Hans du Plessis

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014