2007-06


jongklomp

kuier by...

Leon de Villiers
Leon de Villiers se nuwe jeugboek, Toko, het in April 2007 verskyn. Ihette Jacobs het met Leon gesels oor die boek en die unieke ruimte, karakters en plot.

Waar kom die idee van so 'n boek vandaan? Die karakters en die ruimte, asook die uitbeelding daarvan is so sterk en uniek. Hoe ontstaan dit?

Die storie was vir my 'n groot verrassing. Nie een van my ander stories het so ontstaan nie. Dit is amper asof die storie diep in my onderbewussyn ontwikkel het terwyl ek op 'n bewustelike vlak aan heel ander storielyne gedink het. Ek het geworstel met idees vir 'n spesifieke tema en toe skielik is daar hierdie totaal en ander storie met milieu, karakters, ruimte, alles klaar daarin. Dit was die vreemdste kreatiewe ervaring wat ek nog ooit gehad het.
 
So, het die storie dus in sy geheel uit jou onderbewuste opgekom of het jy nog verder beplan daaraan?
Daar was nog een of twee alternatiewe waaroor ek moes besluit, maar toe ek eers begin, het die karakters se optrede die res van die storie bepaal.
Daar is 'n hele aantal karakters in jou verhaal met interessante en ingewikkelde verbintenisse met mekaar. Dink jy nie dat 'n familiestamboon voorin jou boek moontlike verwarring sou verhoed nie?

Daar was die oorweging om 'n stamboom in te sit, maar dit sal te veel van die storie weggee. Oomblikke waar familiebande ontbloot word, is ontknopingspunte in die verhaal.

Die ruimte, asook die tradisies van die karakters en hoe hulle leef, laat my aan 'n Afrika stam dink. Maar tog gebruik jy Blanke karakters in die boek. Hoekom?

Ek wou graag 'n Afrika atmosfeer in die boek skep. En ek wou ook 'n primitiewe ruimte skep. Al kom Blankes van Europa af, was EuropeŽrs ook op 'n stadium primitief. Buitendien, baie mense in die moderne samelewing se denke is steeds primitief, terwyl daar mense in primitiewe gemeenskappe is wat heel 'modern' oor menswees dink en gedink het.

Dit is vir die leser van 'n jeugverhaal belangrik om met die karakters te kan identifiseer. Dink jy dat die moderne leser ook met die karakters in Toko sal kan identifiseer? Of dink jy dat die buitengewone ruimte en leefstyl van die karakters dit sal verhinder?

Die boek gaan in die eerste plek oor menswees en die invloed wat mense op mekaar het, en dan veral ook oor families. Dus dit gaan steeds oor moderne temas waarmee die moderne leser sal kan identifiseer. Ek hoop ook dat die spanningselement in die boek sterk genoeg is om die leser geÔnteresseerd te hou en te laat aanhou lees.

Toko verskil baie van jou vorige jeugverhale, soos Die Pro en Groete van die HiŽna. Probeer jy doelbewus iets anders skryf met elke jeugverhaal?

Ek voel ek můťt elke keer iets anders skryf. Skryf moet vir my 'n uitdaging bly en herhalings is nie vir my juis uitdagend nie.

In Groete van die HiŽna
is daar baie absurde humor en in Die Pro weer donker humor. Het jy gevoel humor het nie 'n plek in Toko nie?

Ek beplan nie noodwendig bewustelik hoeveel en watter soort humor in 'n boek gaan wees nie. In Toko is die spanningselement so groot dat dit enige humor op die agtergrond skuif.

Daar is tonele in Toko waar 'n eksplisiete prentjie van die wreedheid tussen die karakters geteken word. Is dit moeilik om sulke tonele te skryf?

Ja, baie. Maar dit is vir my belangrik dat die wreedheid nie sinneloos moet wees nie. Die karakters wat so optree se wreedheid moet gemotiveerd wees, hulle moet mense wees met redes vir hulle optrede. En hulle optrede moet funksioneel wees ten opsigte van die storie.

Om aan te sluit by die vorige vraag, sou jy sÍ jy het van verskillende perspektiewe in die verhaal gebruik gemaak om die karakters se gedrag te motiveer?

Ja, ek wou daarmee wys dat baie keer is mense wreed en aggressief omdat die mooi van hulle eie lewe deur ander vernietig is. Dit word 'n bose kringloop. Soos met die karakter Sjal, deur ook sy perspektief te gebruik kan mens hierdie kringloop in die verhaal herken.

Die simboliek van die hare in die verhaal is baie interessant. Hoekom het jy besluit om dit te gebruik?

Ek vind die verskeidenheid rondom kulturetradisies baie interessant. Daar is soveel verskeie kulture, met heeltemal verskillende maniere van doen en wees. Daarom wou ek in Toko 'n groep mense skep met unieke tradisies. Die hare en die rituele rondom dit vorm dan 'n belangrike deel van hierdie tradisies. Hare is 'n baie persoonlike saak en baie belangrik vir mense, en ek wou dit inbring in die storie. Hare en haarmodes is 'n heel interessante deel van menswees.

Om te bou of om te breek aan iemand se karakter kom ook in Toko na vore. Probeer jy bou of breek met jou boeke?

Ek sal nie sÍ ek probeer doelbewus 'n boodskap oordra nie, maar ek hou niks van boeke wat afbreek maak deur doelbewus negatief of aspris skokkend te probeer wees nie.
Sou jy sÍ jy is 'n realis of 'n idealis?

Ek sien myself eerder as 'n optimistiese realis.
Wat het jy die meeste geniet van die skep van Toko?
Dat ek 'n heeltemal ander wÍreld kon beleef met eiesoortige karakters en taalgebruik.

Onderhoud met Ihette Jacobs -
Honneursstudent in Skryfkuns, Noordwes-Universiteit.
April 2007

Lees Leon de Villiers se onderhoud met Francois Retief - Junie 2000

Verdere inligting oor Leon de Villiers en sy boek

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012