2010-12


jongklomp

kuier by...

Maja Sereda
Maja Sereda is die illustreerder van boeke soos Liewe land, 'n olifant!, Nuwe Kinderverseboek en Sprokies en ander gunsteling-stories. Jaco Jacobs het bietjie met haar gesels oor haar werk en haar idees oor kinderboekillustrasies.

Die Johannesburgse kunstenaar Maja Sereda (31) het B.A. Inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Sy het al 'n hele rits boeke geïllustreer, waaronder Liewe land, 'n olifant! (Jaco Jacobs, LAPA Uitgewers), Sprokies en ander gunsteling-stories (Wendy Maartens, LAPA Uitgewers), Nuwe Kinderverseboek (Tafelberg Uitgewers) en Hoekom praat grootmense so snaaks? (Keina Swart, Protea Boekhuis). Sy het ook al twee boeke van haar eie gepubliseer: My eerste 5 jaar - 'n babajoernaal en My eerste woordeboek (albei deur LAPA Uitgewers uitgegee). Haar gunstelingmedium is verf.

Waar het jou belangstelling in kinderboekillustrasies begin?

My belangstelling in kinderboekillustrasies het op universiteit begin deur een van my projekte. In my finale jaar ek ek 'n werkstuk gedoen oor die verband tussen teks en illustrasies soos dit deur die ontwikkeling van 'n kind beïnvloed word. Ek het in boekwinkels na kinderboeke begin kyk en geleidelik 'n versameling begin opbou van kinderboeke wat tot my gespreek het. Kort voor lank het ek begin droom en wens dat ek 'n kinderboekillustreerder kon word. Dit het 'n paar jaar geneem om my veld van ontwerp na illustrasie te verander, maar daarna het ek nooit weer teruggekyk nie. Ek is mal oor wat ek doen!

Is daar sekere boeke/illustrasies wat jy uit jou kindertyd kan onthou of wat 'n groot indruk op jou gemaak het?

Ek onthou Ferdinand the Bull duidelik - ek het regtig empatie met die karakter gehad. Die tweede boek was The grasshopper who sang all summer, sowel as Duimelize, Moemin en die TV-program Maya the Bee wat destyd nog met die hand geteken was. Ek was versot op al die karakters, maar veral Maja se lui vriend (waarvan ek nie die naam kan onthou nie).

Watter illustreerders se werk bewonder jy?

Mense wat ek regtig bewonder en wat my inspireer, is Shaun Tan, Delphine Durand, Rebecca Dautremer, Oliver Jeffers, David Roberts, Lisbeth Zwerger, Sempe, Maurice Sendak, Poly Nernatene, Pawel Pawlak, Alexis Deacon, Renata Liwska en 'n paar ander.

Hoe werk die kreatiewe proses vir jou vandat jy met 'n teks gaan sit totdat die eindproduk klaar is?

Wanneer ek 'n nuwe storie kry om te illustreer, lees ek dit 'n paar maal en ek neem kennis van die aanvanklike idees wat my gedagtes oorstroom, want dikwels gebruik ek dit vir die finale illustrasies. Daar is niks wanderliker as wanneer 'n skrywer volop plek laat vir my verbeelding om deur die storie te filtreer en te vleg nie. Ek begin deur die hoofkarakters te teken en terselfdertyd te kyk na illustrasietegnieke, want dit help my om te besluit op 'n oorkoepelende gevoel vir die boek. Ek hou nie daarvan om net in een medium te werk nie, want elke storie is uniek. Sodra ek my karakters het, doen ek 'n mock-up van die boek en besluit hoe die storie deur die boek gaan vloei. Dis belangrik om die boek as 'n geheel te hanteer, eerder as een illustrasie op 'n slag. Elke geïllustreerde bladsy word beïnvloed deur wat daarvóór en daarna kom.

Volgende doen ek die eerste stel rowwe skets wat ek skandeer en saam met die teks binne die uitleg van die boek plaas. So kry ek 'n duidelik idee van wat werk, wat nie werk nie en wat verander moet word. Gewoonlik doen ek twee tot vier stelle sketse vir die boek om dit te verfyn en die visuele narratief te laat werk.

Sodra die sketse deur die uitgewer goedgekeur is, begin ek die kleurwerk doen, met die hand of met 'n rekenaar. Elke proses is anders. As ek die illustrasies verf, stuur ek dit na die uitgewer om geskandeer of afgeneem te word vir die finale uitleg van die boek.


Ek vermoed baie mense meen illustrasies is net 'n manier om 'n kinderboek "mooi" of "oulik" te maak. Maar wat dink jy is die funksie van illustrasies in 'n goeie kinderboek?

Ek dink illustrasies is 'n noodsaaklike deel van die storievertelproses (dalk sal party skrywers van my verskil), want hulle voeg iets tot die storie by en rek dit uit. Illustrasies kan kinders help om met die karakters te identifiseer, hulle help om emosies, uitdrukkings en gebare te verstaan en selfs hul begrip van konsepte verbeter. Illustrasies is nie spieëlbeelde van die teks nie, maar versterk die storie en skep 'n visuele narratief wat maklik toeganklik is.


Wat gehalte betref, hoe dink jy vergelyk ons plaaslike kinderboeke met die oorsese mark?

Ek dink ons is goed op pad in terme van illustrasiegehalte, maar ons is egter steeds agter wanneer dit by drukgehalte kom. Die lesersgetalle in Suid-Afrika is steeds redelik klein; nie genoeg kinders lees boeke nie, en dit het kleiner drukoplae tot gevolg. Dit beïnvloed die gehalte van die produksie, want uitgewers word genoop om die goedkoper roete te kies. Dit bring die gehalte van illustrasie-skandering, papier en drukwerk in gedrang.

Wat is die grootste uitdagings van die Suid-Afrikaanse kinderboekmark vir 'n illustreerder?

Klein lesersgetalle wat die hoeveelheid verkope per boek beperk en daarom 'n klein inkomste beteken. Dit is onmoontlik om uitsluitlik as kinderboekillustreerder te werk; 'n mens moet ander projekte kry om die gapings te vul. Persoonlik geniet ek die diversiteit van werk wat wissel van tydskrif- en opvoedkundige illustrasies tot kunswerk vir kinderkamers of selfs kreatiewe logo's.

Wat is die beste raad wat jy vir 'n voornemende illustreerder kan gee wat in ons kinderboekmark wil werk?

Bou 'n sterk portfolio met 'n unieke styl wat nuut en vars is, maar nie té anders nie. 'n Portfolio moet 'n groot reikwydte en voortdurende gehaltewerk, sowel as sterk karakterontwikkeling en goeie tekenvaardighede toon. Ek dink die Suid-Afrikaanse mark is baie oop vir nuwe talent, so nuwe illustreerders moenie bang wees om hul werk te vertoon nie. Daar sal altyd kritiek wees, maar illustreerders moet dit gebruik om hul kuns te verbeter, eerder as om daarvan weg te skram. Werk hard, wees kreatief en geniet dit!

Dink jy illustreerders kry genoeg erkenning vir hul werk?

Wêreldwyd, ja, beslis. Maar in Suid-Afrika dink ek ons kan meer doen. Vir my gaan erkenning nie daaroor om pryse te wen nie (hoewel dit regtig lekker is), maar eerder om deel te neem aan illustrasie-uitstallings en selfs meer sigbaar vir die publiek te wees. Ek dink Suid-Afrikaanse illustreerders moet beter bemark word in boekwinkels, ons moet ons talent en ons unieke stories vier. Daar is niks vervullender nie as om te sien hoe 'n kind en/of ouer regtig ons boeke waardeer en geniet.

As jy die kans kan kry om enige boek of storie te illustreer, wat sal dit wees?

Daar is 'n wêreld van boeke wat ek nog wil illustreer! Dit is moeilik om een te kies, maar ek sal mal wees daaroor om Duimelize van Hans Christian Anderson - my interpretasie van die storie - te illustreer.

Onderhoud met Jaco Jacobs, Oktober 2010.

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012