2012-08


jongklomp

kuier by...

Nanette van Rooyen
Nanette van Rooyen se jeugboek Ek was hier is bekroon as wenner van die ATKV-Jeugromankompetisie 2011. Leonora van Rooyen het met haar oor die roman en die interessante karakters gesels.

Waaroor handel Ek was hier?

Dit is 'n greep van ongeveer drie maande uit die lewe van twee tieners wat verlief word en op 'n onkonvensionele manier met mekaar kommunikeer. Hulle gebruik straatkuns en graffiti as medium.

Wat was jou inspirasie agter die uitmuntende jeugroman?

Dankie vir die kompliment. Jy het my nou skoon van stryk af.
Dit was natuurlik tieners! My oudste dogter, Sabina, se vriend Henrico het op 'n dag 'n boek op my lessenaar kom neersit met die woorde: "Ek dink jy gaan hiervan hou."
Dit was 'n boek oor Banksy, die stensil-kunstenaar van Bristol, Engeland - die titel War and Piece. Die jongman was reg. Op bladsy twintig was ek dol op Banksy se werk. Hiermee saam het ek ook op sketse afgekom wat Sabina gedoen het. Dit was hoofsaaklik 3-dimensionele letters en strokiesprente in die styl van Animé en Manga. Animé (afkorting vir Animasie) is 'n Japannese kuns-styl en Manga is die Japannese term vir strokiesprente. Dit het uiteindelik so gebeur dat Sabina die sketse vir my boek gedoen het. So, met met die kombinasie van al hierdie gebeure het ek gedink dit sou lekker wees om 'n liefdesroman te skryf vir tieners wat al hierdie elemente bevat.

Waarom het jy juis 'n karakter met Nederlandse- sowel as Tjeggiese agtergrond in hierdie Suid-Afrikaanse jeugroman gekies?

Ons woon in 'n baie kosmopolitaanse deel van Kaapstad waar ons omring is van 'n bont mengsel van kulture en nasionaliteite. My kinders is ook in 'n skool wat baie kleurryk is in terme van kulture. Die Nederlandse invloed kom direk van 'n Belgiese aangetroude niggie van my - Marie-Louise van Luffelen. Sy het my altyd teen die planke met haar pittige gesegdes. (Ek het sommer haar van ook gebruik vir Frankie se familie.) Die Tjeggiese invloed het saam met die Milan-karakter gekom. In my gedagtes het hy die swart oë van 'n Tjeg gehad. Ook, toe ek in Graad 10 was, het ons 'n wonderlike Engelse onderwyser gehad, Mr Kucharzik. Die kinders het hom vreeslik misbruik vir sy sagte en vriendelike karakter. Die seuns veral het hom gereeld uitgetart om te sien of hy kan kwaad word. Tot hulle op 'n dag uitgevind het dat hy 'n swart belt in Karate gehad het. Die Franse invloed? My kinders doen albei Frans op skool en hulle pa (hoe lief ek ook al vir hom is) kan hulle verskriklik irriteer as hy hulle Franse woordeskat toets - veral in 'n restaurant soos Frankie se pa met haar doen.

Watter interessante karakters - waar kom jy aan hulle?

Frankie is in 'n mate gebaseer op Sabina, want dit is tog die tiener wat ek die beste ken en kon dophou- dit was toe sy veertien was, intussen het sy sestien geword. Sy lyk net glad nie soos Frankie nie, maar daar is 'n redelike ooreenkoms in hulle karakter. Milan het ek sommer opgedroom en dalk as ek mooi dink, het ek tog eienskappe van Sabina se vriend, Henrico, by Milan ingeklits. Frankie se pa is gebaseer op my kinders se peetpa, Rayne. Laasgenoemde het ook 'n kookskool in Kaapstad en hy kan ook lekker dramaties wees met 'n luide stem. Ek het die pa-karakter net heeltemal anders laat lyk. Peetpa sou nie daarvan gehou het om met Atilla die Hun vergelyk te word nie! Frankie se New Age ma is ook losweg geskets op 'n vriendin van my wat net so feetjie-agtig is. Sy leef ook van lensies, liefde en drome. Milan se pa is die presiese weergawe van 'n Engelse onderwyser wat ek in Graad 10 gehad het - Mister Kucharzik. 'n Wonderlik sagte man wat geen vlieg skade sou aandoen nie. Die kinders het sy siel vreeslik uitgetrek om te sien wanneer hy dan gaan kwaad word. Hy het nooit sover ek kan onthou nie. Die misbruik van Mister Kucharziks se vredige geaardheid het op 'n dag skielik gestop toe ons agterkom dat hy 'n swart belt in Karate gehad het. En die eksentrieke Gloria? Sy het net soos Milan net in my kop ingestap gekom. Ek het haar vreeslik geniet en is spyt dat ons nie meer elke dag in haar hoekkafee kan tee drink nie. Hier moet ek tog byvoeg dat met elke boek wat ek skryf, word ek verlief op 'n karakter of twee. Al is die boek al maande op die rakke, verlang ek steeds na daardie karakter en dan moet ek waak daarteen dat ek nie eienskappe van daardie karakter oordra in 'n nuwe een wat ek aan die skep is nie.

Was jou doel met die karakters bloot om 'n variasie te hê wat 'n boeiende en sterk verhaal vertel of is daar vir jou persoonlik baie meer aan die karakters?

Ek gaan sit in geen stadium van 'n storie en werk 'n skema of struktuur uit waarin spesifieke karakters gegiet moet word nie. Die keuse van karakters gebeur organies. As ek my hoofkarakters gevind het, trek hulle self die ander karakters by die storie in. Maar toe die hele bontspul nou uiteindelik gebeur in Ek was hier, het ek gedink die hutspot van malletjies kan dalk genoegsame spanning skep en hopelik 'n bietjie plesier verskaf.

Uit watter soort tekste put jy die meeste genot en dien as inspirasie vir jou as skrywer?

Ek is dol op gedigte. Digters soos Petra Muller, Anne Michaels, Margaret Atwood en Michael Ondaantje slaan my asem weg. Prosa-tekste wat redelik liries geskryf is en boonop eerlik kyk na die gekompliseerde verhoudings tussen mense ontroer my ook. Iets soos Without Blood en Silk van Allessandro Barrico of The Blindfold van Siri Hustvedt. Goeie kortverhale boei my ook. Ons eie Chris Barnard is so 'n kortverhaalskrywer. Julian Barnes en Jeanette Winterson is ook van my gunstelingskrywers. En dan altyd Marlene van Niekerk.

Met al die graffiti en kunstenaars wat in die roman verskyn, het dit duidelik baie navorsing geverg, hoe lank het dit jou geneem om die roman te voltooi?

So twee maande navorsing en ongeveer ses maande se skryf aan die roman. Baie korter as my vorige volwasse roman waaraan ek ongeveer twee jaar gewerk het. Ek was mal oor die navorsing in Ek was hier. Hoe heerlik om kunstenaars soos Moose, Space invader, Keri Smith en my gunsteling Blek le Rat te ontdek. Dit was ook wonderlik om saam met Sabina "musiek navorsing" te doen. Sy het my letterlik deur genres gesleep: Baie Old School, Heavy Rock, Punk Rock, Indie, ens. Ek het net voet neergesit toe ek na Dub Step moes luister.

Vertel bietjie van die skryfproses. Jy het al vertel dat jy skryf en redigeer. Elke hoofstuk vertel byna 'n verhaal in eie reg. Skryf jy chronologies of skryf jy los hoofstukke en las dit agterna mooi netjies aan mekaar?

Ek het nou al geleer dat elke boek op sy eie manier by my aandoen. Chinchilla het ek baie organies geskryf. Tonele wat deur die karakters aangedryf is, het ek geskryf sonder om te weet waar dit gaan pas. Met Ek was hier het ek chronologies geskryf. Elke dag het oorgegaan na die volgende dag. My kortverhaalbundel (en die een waaraan ek nou werk) is 'n rare besigheid totdat ek so driekwart deur die bundel gewerk het, dan wys daar skielik 'n "tema" op wat my rigting gee.

Die taalgebruik van die jong karakters is eintlik formeel. Waarom hulle nie die kenmerkende jargon van tieners of straatkunstenaars laat praat nie? Is die doel dalk opvoedkundig?

Dit sou vals geklink het as ek in tiener jargon geskryf het. Guerilla-kunstenaars se jargon is hoofsaaklik Engels. Dit sou die teks in Afrikaans 'n wanklank gegee het. Buitendien is die twee hoofkarakters nie die norm nie. Frankie en Milan is sterk individue wat nie maklik in 'n vorm gegiet kan word nie. Modes en kodes is nie waarvolgens hulle leef nie. So ek het maar gesing soos ek gebek is.

Enige advies aan opkomende kinder- en jeugroman skrywers?

Skryf met jou guts. Skryf elke dag, al is dit 'n paragraaf. Wees lewensgetrou. Wees oplettend. As 'n teks nie werk nie, los dit om asem te haal. Gaan kyk na 'n tyd weer met 'n eerlike oog daarna. Druk deur. Dit is nie altyd maklik nie. Sterkte!

Onderhoud met Leonora van Rooyen, Augustus 2012. Leonora is 'n derdejaarstudent in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit.

Meer oor Nanette van Rooyen

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012