2010-08


jongklomp

kuier by...

Theresa van Baalen
Theresa van Baalen is die skrywer van Aspris-krokkedis en Karla Krullebol. Jaco Jacobs het by haar gaan uitvind waarom skryf is soos om 'n olifant te eet en waar haar storie-idees vandaan kom.

Was jy al van jongs af kreatief - het jy byvoorbeeld goeie opstelle op skool geskryf?

Ja, ek sou sê ek was kreatief. Afrikaans en Engels was my twee gunstelingvakke, en ek het in al twee uitgeblink. Maar so goed soos ek kon skryf, so verskriklik lelik was my handskrif! Ek onthou een Engelse opstel waarvoor ek 63 uit 70 gekry het. Juffrou Rousseau het onderaan geskryf: Good work, but your handwriting is atrocious! Vir juffrou Rousseau wil ek net sê: Sorry, Miss.

Was jy kleintyd 'n ywerige leser - en wat het jy gelees?

Ek het boeke en self-lees eers werklik ontdek toe ons in standerd een (graad drie) vir die eerste keer aan die skool se biblioteek bekend gestel is. Ek het daardie dag my eerste boek uitgeneem, en dit was een van Enid Blyton se Secret Seven-boeke. Van daar af het ek al haar avontuurboeke verslind - The Secret Seven, The Famous Five, die Adventure-reeks (byvoorbeeld The Castle of Adventure) en The Five Find-Outers. Toe daar nie veel van haar boeke oor was om te lees nie (en daar was baie!), het ek na ander mystery-boeke begin soek, en so het ek het vir Nancy Drew, The Hardy Boys en Alfred Hitchcock and The Three Investigators ontdek. Ek het feitlik geen Afrikaanse boeke gelees nie, want ons Afrikaanse kinder-kattekwaad kon volgens my kinderlike idees nie kers vashou by hierdie karakters se onderskeie avonture nie. Ek dink my heel gunstelingreeks was The Famous Five. Die boeke is in die 1940's geskryf, 'n goeie dertig of veertig jaar voor selfs ek hulle gelees het, en die avonture wat daai vier kinders so op hul eie, sonder hul pa's of ma's in die nabyheid, beleef het, was vir my te wonderlik. Ek was sáám met hulle op daardie eiland, op daardie kampeer-uitstappie, in daardie kerker onder die bouvallige kasteel!

Wat dink jy is die kenmerke van 'n goeie kinderstorie?

'n Goeie kinderstorie moet aan dieselfde tegniese vereistes voldoen as enige ander goeie storieboek. Dit moet die leser se verbeelding aangryp vanaf die eerste oogopslag, dus moet selfs die voorblad met sorg gekies word. Die leser moet kan identifiseer met die hoofkarakter, maar indien die hoofkarakter buite die leser se verwysingsraamwerk val, moet die karakter nogtans genoeg empatie en belangstelling wek om die leser betrokke te kry en vasgevang te hou. Maar ek dink die uiteindelike definisie van 'n goeie kinderstorie kom "uit die mond van die suigeling". As 'n kind die boek klaarmaak en sê: "Dit was nou 'n lekker storie!", dan was dit beslis 'n goeie storie.

Vertel 'n bietjie, waar het die idees vir jou eerste twee prenteboeke, Aspris-krokkedis en Karla Krullebol, ontstaan?

My kinders was grootliks die inspirasie agter albei boeke.
Mikhael (7) pla sy ouboet Jannes (14) al vandat hy dit die eerste keer kon regkry, en arme Jannes was op 'n dag so moedeloos, dat hy uitgeroep het: "Mikhael is 'n monster!" Nou ja, daardie woorde het allerhande prentjies in my kop opgetower en ná 'n intensiewe skryf- en herskryfproses, het Aspris-krokkedis uiteindelik die lig gesien. Karla Krullebol is ook aan Mikhael te danke, want om sy hare gewas te kry was altyd 'n verskriklike stryd. Op 'n dag vertel ek hom toe van hierdie goggatjies wat op sy kop sal kom partytjie hou as hy nie sy hare was nie. Hy het natuurlik niks van die idee gehou nie ...

 

Met prenteboeke is die illustrasies so 'n belangrike deel van die sukses van die boek. Hoe het jy die "samewerking" met illustreerders om jou boeke te skep, ervaar?

Ek dink die beste ding wat enige prenteboek kan "oorkom", is om deur een persoon geskryf te word, en deur 'n ander geïllustreer te word. 'n Illustreerder "sien" ander prentjies in sy kop as wat die skrywer sien, en met albei my boeke het die illustrasies soveel meer van die boeke gemaak as wat ek my dit ooit sou kon voorstel.

Albei jou prenteboeke is op rym geskryf. Wat beskou jy as die uitdagings van 'n storie-op-rym skryf?

Dis nogal moeilik om jouself by die storie te bepaal en om dit te skryf soos jý dit wil skryf. Dikwels hardloop die storie weg agter die rymwoorde aan, en jy moet net keer, of hy wil van rigting verander en homself begin skryf! Maar as mens darem so min of meer die rym-en-ritme-ding onder die knie het, dan dink ek die grootste uitdaging is om die kritiek te hanteer wat die werk ná die tyd ontvang. Want skielik is almal kenners, en elkeen sou dit anders en beter gedoen het!

Wat is die lekkerste terugvoering wat jy tot dusver oor jou boeke gekry het?

Een van die Laerskool Port Nolloth se onderwyseresse het Aspris-krokkedis een oggend in die personeelkamer aan haar kollegas voorgelees. Later het sy my kom gelukwens met die boek en gesê: "Ons het so lekker gelag!" Ek glo daar is humor in enige situasie. Ek is 'n besonderse optimistiese persoon, en het 'n talent om altyd die snaakse kant van alles raak te sien. As ek dit met elkeen van my boeke kan regkry om 'n bietjie van die humor oor te dra, en om mense te laat lag, sal ek baie gelukkig wees.

Baie mense droom daarvan om kinderboeke te skryf. Wat is jou raad aan voornemende kinderboekskrywers?

Lees elke kinderboek waarop jy jou hande kan lê, veral dié wat in die afgelope tien jaar gepubliseer is. As jy dit nie werklik geniet om kinderboeke te lees nie, moet jy liewer nie probeer om kinderboeke te skryf nie. Leer ken kinders en hul manier van dink en praat. Groei 'n dik vel. Gaan sit en skryf.

Jy het verlede jaar die ATKV-kinderboekskryfskool bygewoon. Watter voordele (indien enige) dink jy hou 'n skryfskool vir aspirantskrywers in?

Ek het baie van die dinge geweet wat hulle ons op die skryfskool geleer het, maar dit was soos om alles wat ek reeds geweet het, en dit wat ek bygeleer het, deur 'n tregter te gooi en in 'n gekonsentreerde straaltjie aan die ander kant te ontvang. Dit het my beslis gehelp om beter te fokus op my skryfwerk. Dit was ook heerlik en baie motiverend om 'n paar van ons land se top-kinderboekskrywers te kon ontmoet.

Afgesien van skryf, wat is jou beroep en stokperdjies of belangstellings?

Ek weet nie of ek 'n beroep het nie, aangesien ek geen vaste salaris ontvang nie! Ek werk sommige oggende van die week vrywillig by ons dorp se wonderlike museum. Die museum word gehuisves in een van Port Noloth se oudste geboue, 'n sinkplaat-en-hout-huisie wat uit ongeveer 1880 dateer. Port Nolloth is die hoofdorp van die Richtersveld, en die museum ontvang daagliks toeriste wat op pad is Richtersveld toe, of wat in blommeseisoen na Namakwaland se blomme kom kyk, of sommer net mense wat wil sien hoe dit lyk op hierdie afgeleë deel van die Weskus.
Ek is 'n groot handwerkgeesdriftige, en werk met alles wat ek in die hande kan kry: krale, klippe, skulpe, materiaal, leer, papier, noem dit maar op. Ek geniet dit om iets uit niks te maak en verf graag enige iets op enige iets, maar sal nooit sover gaan om myself 'n kunstenaar te noem nie! Onder die toeriste is daar 'n groot mark vir Port Nolloth-aandenkings, en dis seker maar my eintlike beroep: die maak van baie van hierdie aandenkings wat deur die toeriste gekoop word. Verder hou ek van lees, rekenaarspeletjies speel, foto's neem en strand toe gaan saam met my kinders.

Gunstelinge

Kleur: Blou

Vakansieplek: Net hier by die huis. As ek soggens by die venster uitkyk, sien ek die see. As ek by die museum se venster uitkyk, sien ek die see. Dit voel feitlik heel jaar lank asof ek op vakansie is, want hier heers so 'n wonderlike, rustige atmosfeer.

Sêding: Eat the elephant little by little... Om 'n storie te wil skryf is baie soos om 'n olifant te wil eet: 'n uiters oorweldigende taak. Daar is net een manier om al twee gedoen te kry: Neem 'n happie, skryf 'n sin. En dan nog een, en nog een ...

Fliek: Ek is mal oor enige goeie animasierolprent. As ek een moet uitsonder as my gunsteling gunsteling, sal dit seker die eerste Shrek wees.

Boek: My gunsteling "grootmensboek" op die oomblik is Chocolat, deur Joanne Harris, maar Harry Potter het 'n onuitwisbare indruk op my gemaak, en ek het die reeks al twee keer gelees. Verder is ek versot op die werke van Dr Seuss.

Onderhoud met Jaco Jacobs, Julie 2010.

Meer oor Theresa van Baalen.

Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012