2000-03


jongklomp

kuier by...

Francois Bloemhof
Francois Bloemhof is mal oor sy PC én boeke. Maar, sê hy, 'n PC sal nooit ruik soos 'n boek wat jy pas oopgeslaan het nie. Ivor Price het gaan kuier.
Wat dink jy van 'n Afrikaanse hygroman vir tieners? Jonges soek glo "bloed, derms, humor en situasies". Maar is hulle al oopkop genoeg om dit aan te durf?

Tieners durf al jare lank daardie onderwerpe aan - in volwasse romans én in hulle daaglikse lewens. As 'n jeugroman nie daarmee tred hou nie, is dit nie relevant nie. Daarom is dit deel van my jeugboeke. Maar ekself sal nie 'n suiwer hygroman skryf nie, want die stories is gewoonlik nie sterk genoeg om my te interesseer nie.

Behoort jeugliteratuur gemeet te word aan dieselfde maatstawwe as volwasse literêre boeke? En moet literêre maatstawwe toegepas word by die toekenning van pryse vir jeugliteratuur?

Selfs met volwasse literêre boeke is veral die maatstawwe in Afrikaans te beperk en voorskriftelik. Te veel boeke is al bekroon omdat die skrywers intelligent is, nie omdat dit vermaaklik is nie. Vermaaklikheid is soms juis vir beoordelaars 'n steen des aanstoots. En ongelukkig is dié tendens aan die beoordeling van jeugboeke oorgedra. Daar behoort, soos oorsee, pryse te wees vir al die verskillende tipes boeke, nie net die soort wat sogenaamd slim is nie.

Lees Afrikaanse tieners hoegenaamd jeugboeke? Wat dink jy is die leemte in Afrikaans?

Afrikaanse tieners lees jeugboeke as hulle voel dit spreek tot hulle. En die leemte in Afrikaans is dat te veel jeugboeke nié tot hulle spreek nie. Te veel skrywers wil tot elke prys ordentlik wees, of 'n les oordra, of het nie tred gehou met veranderende omstandighede nie.

En Afrikaanse voorgeskrewe boeke op skool? Is dit nie, soos voorgeskrewe poësie, agter die klip en uit voeling met die moderne jongeling nie?

Ek is bevrees, dikwels, ja. Sulke oulike, soet karaktertjies.

Hoe raak die Internet tieners se leesgewoontes in Afrikaans? Bedreig dit die tradisionele boekuitgewery?
Ek dink die Internet sal 'n ruk lank met die tradisionele boekuitgewery inmeng, Afrikaans én Engels. Maar 'n mens raak later minder knaend met jou Netbesoeke. Ekself is mal oor my PC én my boeke. Dan het boeke ook nog daai groot voordele: hulle lyk almal verskillend, hulle praat net met jou-die-leser, jy kan hulle saam strand toe neem … en 'n PC sal nooit ruik soos 'n boek wat jy pas oopgeslaan het nie.

Dink jy gemeenskappe en skrywers doen genoeg om 'n leeskultuur onder Suid-Afrikaanse jonges te skep?

Gemeenskappe, nee. Te veel aandag aan sport (waarteen ek niks het nie, hoor!) en te min aan boeke. Ons het nie so 'n sterk leeskultuur soos die Europeërs nie, en ouers dra dié gebrek vroeg-vroeg aan hulle kinders oor. Skrywers kan so 'n kultuur help vestig deur te skryf wat jongmense graag wil lees.

Oor jou boeke: Waar op aarde kry jy genoeg tyd en idees om soveel boeke in so min tyd die lig te laat sien?

Aha. Ek dink nie dis soveel boeke nie en ek dink nie dis so min tyd nie. Ek skryf baie vinnig, anders loop die storie nie lekker nie - dan laat ek dit 'n maand lank lê voor ek weer daarna kyk en al die strooi uithaal. Daar is altyd stories wat wag. Oorsee publiseer skrywers baie meer dikwels as hier. Ek wil nie 'n storie terughou as dit reg is om geskryf te word nie.

Jy spog as eerste Afrikaanse skrywer om 'n CD-Rom saam met 'n boek uit te gee. Vertel 'n bietjie meer hiervan.

Ek wou die eerste skrywer wees om 'n boek uit te gee saam met 'n klankbaan wat spesiaal daarvoor geskep is. Want ek is nie net lief vir my PC en flieks nie, maar ook vir musiek. In rolprente word die storie baie meer treffend gemaak deur die musiek wat speel … en net soos met 'n rolprentklankbaan wat jy op sy eie kan luister, hóéf jy nie na Hostis se musiek te luister terwyl jy dit lees nie. Hulle bestaan óf saam óf afsonderlik. Dit was 'n uitdaging en ek het baie lekker gespeel!

Dink jy daar is fout met Suid-Afrikaanse jonges wat liewers lees oor humor, fantasie, romanse, avontuur en spanning as 'n boek met 'n bietjie literêre waarde? Behoort jeugskrywers, soos jy, nie vir jonges sulke boeke ook te skryf nie?

As daar fout is met hulle, dan is daar fout met my ook. Die intrige, die boek se stórie, kom altyd vir my eerste - selfs in 'n literêre boek, wat ek darem ook lees. As 'n skrywer nie 'n sterk storie het nie, moet hy nie skryf nie. Dis goed as 'n mens sê so een literêre boek sou lees vir elke drie ánder, maar op die ou einde moet lees vir jou lekker wees … en daarom moet jy lees net wat jy wil. Ons het in Afrikaans, en dit geld vir jeugboeke ook, al genoeg literêre boeke: ons kan ontspan, mense sal nie dink ons is dom as ons nou konsentreer op boeke wat lekker lees nie … Ek glo my boeke het wel literêre waarde, maar dít moet jy omtrent eers besef wanneer jy klaar gelees het - en as jy dit nie besef nie, maak dit nie saak nie.

Jou volgende boek of boeke?

My nuutste jeugroman se naam is Die dae toe ek Elvis was. Ek kan dit nie beskryf nie, dis 'n bietjie van alles. En my volgende boek vir jong lesers in Human & Rousseau se Rillers-reeks is Kry vir jou, ou Langklou. Sy's nie 'n vriendelike tannie nie …
Dié onderhoud is gedurende Maart 2000 gevoer deur Ivor Price (19), 'n senior student aan die Kaapse Technikon wat tans ervaringsopleiding by Die Burger opdoen. Ivor het vroeŽr in JB gepubliseer en reeds vele bydraes tot LitNet gelewer. Hy glo in engele en sy muse is 'n hawelose vrou wat soms in die reŽn dans en dan stories in sy oor kom fluister. Hy werk aan 'n jeugroman en kan gekontak word by ivorprice@hotmail.com.
Verdere inligting oor Francois Bloemhof
Terug na kuier by...

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012