2018-09


grootmense

resensies

Haas Das se Nuuskas episode 3

Louise Smit
haas das se nuuskas 3  

 

Haas Das se Nuuskas - episode 3

Louise Smit

Human & Rousseau



Haas Das, Piet Muis en al die diere van Diereland is terug in hierdie heerlike nuwe episode van die Nuuskas. Die hele Diereland is in rep en roer, want daar is ʼn gróót sportbyeenkoms: Skillie die Skilpad en Hasie Kwassie gaan resies jaag. Piet Muis is die veldverslaggewer, en saam met die kameradier Soks die Sjimpansee praat gesels hy heerlik met ʼn klompie diere om hul opinies te kry. Wie gaan wen? En hoekom is Stokkina Meerkat en haar Veldnuus koerant na die tyd so agterdogtig oor die afloop? En wie het arme Haas Das se koolkop en wortels gesteel?

Hierdie nuwe aflewering van die immergewilde Haas Das stories bied ʼn interessante nuwe interpretasie van die bekende Hasie en Skilpad resies; ʼn ou storie wat op ʼn kreatiewe manier oorvertel word – met ʼn lekker wending wat grootmense en kinders gaan laat giggel. Al die bekende Haas Das karakters soos Stokkina Meerkat, oom Flapoor Olifant en moeder Raaf is daar en sorg vir ʼn uiteenlopende klompie diere wat elkeen ʼn rol speel in die storie. En dan is daar natuurlik die drie klein apies Bekkies, Bakkies en Boeboe wat sorg vir lekker kattekwaad.

Hierdie boek sal sorg vir hope pret as ʼn voorleesboek of vir ʼn beginnerleser; ʼn storie wat die voorleser net soveel as die aanhoorder sal geniet. Die Haas Das tema voorin die boek maak dit ook lekker maklik om saam te sing! Smit se kreatiewe taalgebruik en gedetailleerde beskrywings word aangevul deur Oelofsen se slim illustrasies om ʼn wonderlike leeservaring te skep.


An-Mari Fouché

An-Mari Fouché was 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2017.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns, Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit

(C) Franci Greyling 2000-2018