2013-09


grootmense

resensies

Back to Villa Park

Jenny Robson
back to villa park  

Back to Villa Park

Jenny Robson

Tafelberg Uitgewers

Sien die skrywer as ’n eksentrieke kok wat in ’n groot kombuis staan en kook. Bo die stoof is daar rye en rye botteltjies wat soos Robertsons Spices se botteltjies gekleur en gemerk is; ons kan sê die groen botteltjies is vir nuwe onverwagse verwikkelinge in die storielyn, die bruin botteltjies is vir plekke waar die storie afspeel en die oranje botteltjies bevat karakters.

Jenny Robson staan as’t ware bo ’n pot ryk, Suid-Afrikaanse bredie en voeg elke keer op presies die regte oomblik—of bladsynommer—’n splinternuwe botteltjie se inhoud saam met die brousel om die geur nogmaals te versterk.

Back to Villa Park is meestal ’n “slice of life” tipe verhaal. Dit handel oor ’n Suid-Afrikaanse kind, die “presently disadvantaged” Dirk Karel Strydom, en die roman speel af op sy agtiende verjaarsdag op 13 September.

Dirk woon ’n onderhoud by om deel te word van ’n jeugopleidingsskema by ’n plek genaamd Kagiso Holdings, maar die onderhoud is bietjie anders as wat Dirk verwag het en sy pad saam met Kagiso Holdings word egter vinnig kortgeknip. Hy word uit die onderhoudlokaal gegooi en verloor sy humeur, waarna hy begin huis toe stap. Die roman illustreer dan deur middel van verdere handeling gepaard met terugflitse aan die lesers die unieke lewenspad wat Dirk Strydom in die nuwe Suid-Afrika moes stap.

Dié wat Jenny Robson se roman Praise Song gelees het, sal weet dat daar met dié skrywer ’n hele paar kinkels in die kabel kan wees. Back to Villa Park het ook ’n verrassing in die laaste paar bladsye, maar dit is nie naastenby so skokkend soos Praise Song s’n nie. Dit is wel hartverskeurend en ’n mens besef in hoe ’n mate ’n kind in Suid-Afrika se geboortejaar—veral dié rondom 1994—homself, sy eweknieë en sy meerderes kan affekteer. Die skets van die blanke Suid-Afrikaanse kind wat teenoor die kultuur van minibustaxi’s en straatbedelary te staan kom bring ten volle die nodige konfrontering met die omstandighede waarin Suid-Afrika se mense kan verval.

Die karakters se name vra partykeer om hardop gelees te word, net vir die outentieke klank en gevoel daarvan, en die storie is ryk met ’n eg-Suid-Afrikaanse tekstuur. Die eklektiese ensemble van karakters in hierdie roman gepaard met sensitiewe aandag aan detail maak Back to Villa Park ’n uitstekende roman vir mense van Suid-Afrika om te lees.

Ruan Fourie

Ruan Fourie is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014