grootmense

resensies

Buys

Arnold Vermaak

DIE jong Afrikaanse debuutskrywer Arnold Vermaak het 'n verbeelding wat enige fantas groen van jaloesie sal maak en Lewis Carroll sal laat glimlag. Vermaak se kat in Buys, 'n absurde verhaal vir volwassenes, sit egter nie ewig en gryns in 'n boom nie. Mrs. Balls (nee, nie die blatjang in jou kombuiskas nie!) is 'n kietsie wat in 'n prins verander, wat genoeg is om enige heks na haar besem te laat gryp.

Volgens die Oxford English Dictionary van 1901 was daar twee spellings vir die huidige woord ``fantasy'' met 'n ``f'' en met 'n ``ph'', phantasy. Ten spyte van die twee woorde se identiese klank dui eersgenoemde op die storie of aksie, terwyl laasgenoemde fokus op die emosionele dimensie.

Buys is fantasy met 'n ``f'', daar is nie klem op die ontwykende visionêre nie.

Wanneer dofkop held Buys een middag na skool by die huis kom en ontdek dat sy ouers weg is, begin 'n verhaal waar bonatuurlike elemente verskillende vorms aanneem. 'n Sprokie (Hansie en Grietjie) word nie net herleef en herinterpreteer nie, 'n totale nuwe wêreld word ook geskep.

Karakters soos Ral Hal, Fraai Denimdoedie, 'n identiese vierling en 'n mummie vereis die oplegging van die leser se kennis van wat gebeur in die regte wêreld.

So tussen al die vreemde avonture deur word Buys 'n Rebel om Hulle te verongeluk, en daar vind nie veel karakterontwikkeling plaas nie.

Die outeur bepaal hom eerder daarby om hope aksie te verskaf (dis tog wat tienerlesers wil hê) wat opbou tot 'n skouspelagtige klimaks.

Hier is beslis nie plek vir langdradigheid, swaarmoedigheid en die melodramatiese nie. Wanneer daar gefilosofeer word oor die wêreld is dit kort en kragtig: `` 'n plek vol aangename verrassings, ja, maar ook 'n plek vol narigheid, onregverdigheid, chaos en foefiepoefie.''

As die interessante voorblad, titel (Buys is so eenvoudig dit kan nie anders as om aandag te trek nie) en agterblad nie daarin slaag om 'n voornemende leser te boei nie, behoort daar tog moeite gedoen te word om nader kennis te maak met mevrou Lamprecht, die bose heks wat enigiets sal doen om Buys te vang.

Sy dreig nie net om 'n hotdog van sy tottermannetjie te maak nie, sy is die kakkerlak in sy ice cream cone. Dan is daar die lang, effens krullerige grys haar op haar ken wat mens laat ril en gril.

Fantasie skep 'n wêreld wat is, maar nooit was nie en die leser moet so kreatief wees soos die outeur om sodoende deel te neem aan al die aksie en om situasies op te los. Vermaak se sterk punt lê in die vermoë om die ordinêre op 'n vars manier aan te bied. Of die dialoog byderwets genoeg is, berus op die oordeel van die tienerleser.

Iets wat egter pla ons is nie Amerikaans nie. Subtiele humor werk beter.

 

Resensent Lizette Potgieter Die Burger 16 Junie 1999
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005