2003-10


grootmense

resensies

Carmen Toetoeka en die vloek van Isis Huis

Helen Brian
Carmen Toetoeka is oorspronklik in Engels geskryf deur Helen Brian van Kry vir jou 'n krakerige vlieëkoekie-faam en vertaal deur Janie Oosthuysen wat onlangs bekroon is vir haar vertaling van die Harry Potter-reeks in Afrikaans. Van hierdie gedugte kombinasie verwag mens 'n vermaaklike boek. Carmen Toetoeka stel ook nie teleur nie. Dis 'n hoogs leesbare boek vir ouer lesers - kinders tot graad 10 kan hierdie boek geniet en lesers sal die ietwat dikker formaat verwelkom.

Die verhaal bevat duidelike intertekstuele verwysings na die tradisionele koshuisverhale waarop 'n hele geslag Afrikaanse kinders grootgeword het / grootword. Isis Huis, 'n eksklusiewe skool met 'n ryk kultuur en geskiedenis wat veg om oorlewing word gestel teenoor die spoggerige Anker Akademie, 'n moderne skool wat "superskoon" is en soos 'n hospitaal ruik (p 31). Dat die fokaliseerder negatief teenoor hierdie "valse waardes" van Anker Akademie ingestel is, blyk duidelik.

Die verhaal beweeg egter teen die tradisionele verwagting in. Verskeie verhaallyne loop saam om 'n spannende verhaal te vorm wat kinders "wil aanhou lees". Die ou Egiptiese beskawing word betrek deur middel van die amulet van Hanneke se ma. Daarteenoor skep die sentrale rol van die tydmasjien in die intrige, Hugo se eksperimente met 'n "kwantumtransfibulêre omskakelaar" en die gebeure in die tonnel die gevoel van wetenskapfiskie.

Hoewel hierdie vermenging van fantasie en realisme goed funksioneer in ander verhale van sowel Oosthuisen as Brian het sommige lesers dit hier "unreal" gevind. Hierdie "was soos 'n boek wat jy moes geglo het. Almal weet daar is nie 'n tydmasjien nie", het een Graad tien leser opgemerk. Sy het nietemin bygevoeg dat die storie "goed inmekaar pas en spannend is." Dié reaksie kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat die boek teen die leesverwagting van lesers met 'n ervaring van ouer koshuisverhale inbeweeg.

Die karaktertekening is oortuigend. Hoewel die meeste newekarakters stereotipes is, wat nie induis teen die intensie van die boek nie, is Hanneke 'n sensitiewe karakter waarmee dogters goed sal kan identifiseer.

Dis 'n boek wat lesers veel plesier sal gee en word sterk aanbeveel.

Human en Rousseau. R44.95. ISBN: 0 7981 4201 4

Maritha Snyman

Prof. Maritha Snyman is verbonde aan die Departement Inligtingkunde, UP.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005