2014-11


grootmense

resensies

Monday Evening, Thursday Afternoon

Jenny Robson
monday  

 

Monday Evening, Thursday Afternoon

Jenny Robson

Tafelberg

978-0-6240-6290-5



Wanneer ’n mens Jenny Robson se Monday Evening, Thursday Afternoon optel en lees word daar ’n interessante bal aan die rol gesit. Maar hoe interessant kan ’n bal nou eintlik wees? Gemiddeld na heelwat. Jy sal verbaas wees. By die boek se aanvang is dit asof ’n mens ’n gesprek tussen twee nuwe vriendinne afluister en die onsekerheid van graad een is die brandstoftoevoer tot hierdie vriendskap. ’n Mens kan nie vir seker weet hoe die vriendskap begin het nie, dit word dof ingekleur (en boonop deur potlode uit twee pennesakkies!) maar dit self word vinnig as iets van mindere belang aangesien.
 
Die titel word deur die storie meer sinvol gemaak. ’n Mens besef ook dat die “Monday evening” in sommige instansies heelwat erger ervaar word as die “Thursday afternoon”. Die tipografies interessante manier van hoofstuknommering – in transliterasies van die nommering in die Qur’aan (waghied, iethnyn, thalaatha, arba’a . . . ) – sluit aan by die latere sprake van Moslemkinders wie se ouers glo hulle moet beskerm word teen die goddeloosheid van die groter wêreldbevolking. Hiermee saam speel volwassenes se verdere geneigdheid om veroordelend (en doodeenvoudig simpel) te wees ’n groot rol in dié jeugroman.

Jy moet jou liefs kognitief voorberei vir die buitengewone vertelstyl wat die hoofkarakter, Louise, aanneem in haar openbaringe aan haar vriendin Faheema. Weens die natuurlike aard van die ek-spreker kan ’n mens slegs staatmaak op een kant van die hele storie. Hier gaan die interessante jukstaposisie van gestryery oor rooi kryte en terrorisaanvalle in Londen ietwat verlore, hoewel dié naasmekaarplasing effektief bly. Dit sluit moontlik aan by hoe kinders wel meer fokus op die onmiddellike realiteit as die grotere.

Die verhaal verloop vanaf ’n gesprekstrant na iets wat ’n mens laat voel asof ’n mens ’n dagboek lees. Faheema is steeds hoofsaaklik die aangesprokene, maar dít op sigself is nie ’n probleem nie – dit is ’n effektiewe narratiewe meganisme – maar die deurlopende gebruik van die progressiewe verledetydsvorm raak mettertyd ietwat steurend. Dit klink outentiek, maar nie natuurlik nie. Dit is egter ’n uiters effektiewe meganisme om die gevoel van kindwees te ver-taal. Kinders en jongmense (en sommige volwassenes) het ongetwyfeld ’n geneigdheid om van hierdie tydvorm gebruik te maak, veral wanneer daar ’n bietjie nostalgie in hul geskrewe woorde steek. ’n Ander kwessie wat kan pla is die feit dat die ek-spreker dinge weet wat sy nie veronderstel is om te weet nie. Dit, gepaard met Louise se ma se oordrewe reaksies wanneer Louise self ontsteld is, kan egter ook ’n aanduiding wees dat Robson diep binne die kop van hierdie dogtertjie geklim het en – weereens nes baie ander kinders – die storie maar ’n bietjie inkleur.

Vreemd genoeg is hierdie een van die Robson-boeke wat nié voorkom asof dit in purdah is nie: daar is nie veel wat weggesteek word nie. Jenny Robson lewer steeds met Monday Evening, Thursday Afternoon ’n boek wat uit die “pen” van ’n kind kommentaar lewer op die verkeerdheid van ons mensdom en die wêreldkwessies wat eerder Maandagaand as Donderdagmiddag aangespreek behoort te word.

Ruan Fourie

Ruan Fourie is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2014.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014