2016-06


grootmense

resensies

Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran

Fanie Viljoen
monsieur ibrahim  

Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran

Eric-Emmanuel Schmitt

Vertaling: Naòmi Morgan

Human & Rousseau

ISBN 978-0-7981-6772-7

“Dit wat nie bestaan nie, moet jy aankweek: dis bedoeling,” skryf Rumi. In Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran kom ’n mens ’n jong, ontwikkelende individu teë. Sy naam is Momo, ’n bynaam afgelei vanaf Moses, en ’n mens sien spoedig dat dié novelle deur die bekroonde skrywer Eric-Emmanuel Schmitt gemaklik die oorgang kan maak van die teikenmark van jongmense na volwassenes.

M. Ibrahim is uit die oorspronklike Frans vertaal deur Naòmi Morgan, wat ook die vertaling behartig het vir Oscar en die Pienk Tannie; sy het dit ook na ’n bekroonde eenvrouverhoogstuk verwerk. M. Ibrahim is, nes Schmitt se ander bekende skrywe, ’n verhaal vol humor, wysheid en deernis. Dieselfde vermoë om die hartsnare te roer lê egter nie ooglopend daarin opgesluit nie.

Momo se storie begin waar hy pas 13 geword het en alleen van homself ’n man te maak deur sy spaarvarkie oop te breek en by die straatvroue te gaan kuier in die rue de Paradis. Hy bly saam met sy pa, en sy verhoudings met sy familielede is óf swak en ongesond, óf afwesig (sy ma is kort ná sy geboorte fort). Omdat sy pa bedags werk, is Momo in beheer van huishoudelike take, inkopies doen en om boek te hou van alle onkostes (omdat sy pa glo Momo besteel hom). Hy doen sy inkopies by ’n kruidenierswinkel in rue Bleue, en dis hier waar hy vir monsieur Ibrahim ontmoet.

“Monsieur Ibrahim was nog altyd oud gewees.” Momo se verhouding met hierdie Arabiese kruidenier in ’n Joodse straat begin kort nadat hy sy spaarvarkie gebreek het: omdat sy pa hom in elk geval van diefstal bedink, steel hy gereeld ’n blikkie by die kruidenierswinkel. Sy eerste gesprek met die kruidenier verloop aanvanklik in die vorm van ’n daaglikse, enkele sin, uitgestrek oor ongeveer ’n week. ’n Kosbare en opregte vriendskap word egter hieruit gebore. Monsieur Ibrahim deel graag sy wysheid met Momo (opgegaar uit sy lewenservaring sowel as sy Koran). Die blomme van die Koran is verwysend na die brokkies wysheid wat Momo deur monsieur Ibrahim bykry, soos wat hulle vriendskap ontluik.

Die novelle se verteltrant maak dit, in sekere (verganklike) instansies, sigbaar dat dit ’n vertaalde teks is. Die impak van die Franse adieu (letterlik vertaalbaar as “tot God (ons weer by mekaar bring)” word doodeenvoudig nie heeltemal in die Afrikaanse vaarwel vasgevang of uitgedruk nie; adieu is binne die konteks van Momo se grootword- en leerproses baie meer effektief. Teen die tyd wat Momo en monsieur Ibrahim ’n reis na “die see der seë” onderneem, skitter die vertaling egter, waar eg-Franse uitdrukkings effektief in Afrikaans geplaas word (byvoorbeeld by “sy swaai die septer oor driehonderd uitgehongerde melkbaarde,” terwyl die oorspronklike Frans maklik kon vertaal na “sy was deug bewus dat sy oor driehonderd dorstige pubertale regeer het”). Morgan se vertaling bring wel die kern van die storie tot onder die leeslig van die Afrikaanse mark.

Die storie dra nie dieselfde krag of deernis as Schmitt se vorige bekende werk nie, maar dit behaal steeds die status van ’n literêre juweel — miskien ’n pêrel. Deur Momo se lewe en reaksies op sy struikelblokke leer die leser, saam met hom, hoe belangrik dit is om lief te hê (en hoe belangrik dit kan lyk om aan jouself te bewys dat mense jou kan liefhê). Enige tragedie of hartseer in die novelle word egter ietwat bot hanteer; hoewel hartroerend en met deernis, word die ongemak elke keer eerder opsy geskuif en daar word plek gemaak vir vooruitgang.  Dit pas egter effektief in Momo se emosionele woordeskat.

Dit wat nie bestaan nie, word aangekweek, hetsy dit aanvaarding, liefde, ’n vriendskap, begrip of ’n oorwinning is. Hoe wonderlik is dit nie net nie: jou liefde vir iets (of iemand) is jou eie — dit wat jy gee, is joune vir altyd — wat jy terughou, is vir altyd verlore. Rumi het immers geskryf: die liefde is ’n wolk wat pêrels strooi. Die storie van Momo en monsieur Ibrahim is ’n vriendskapsliefdesverhaal. Indien nie ’n pêrel nie, beslis ’n pistasieneut: binne ’n growwerige dop skuil daar beslis groen, vrugbare lewe; ’n mooi verhaal van wording.

Ruan Fourie     

Ruan Fourie. Skryfkuns, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016