2013-07


grootmense

resensies

Nova: Sterreloper

Fanie Viljoen
sterreloper  

 

Nova: Sterreloper

Fanie Viljoen

Tafelberg





Geen geheime meer nie. Só lui die nuutste toevoeging tot die Nova-reeks deur Fanie Viljoen, Sterreloper, se openingsin. Deur die loop van die boek voel dit egter of die geheime net ophoop en meer kompleks raak. Vinnig blyk dit dat die nuwe voorneme makliker gesê as gedaan is; boonop wonder en spekuleer almal heeltyd oor wie die Sterreloper is, selfs die lesers. Nie alle geheime kan toegemessel word en deur laserligte of oogskandeerders beskerm word nie.

Lucas en sy maats gaan na afloop van nóg 'n alien-verwante insident met 'n seevakansie, in die hoop dat hulle tot heling sal kom oor die gebeure op die vreemde dorp, Nova. Natuurlik volg "'n malhuis vol moeilikheid", soos die karakter Duart sal sê.

Na afloop van die derde boek, Nova: Bloedbroers, voel die leser byna verblind deur die ontploffings en ligstrale; 'n mens sien amper die naspooksels van die helder ligte en ontploffings as mens mens se oë sluit. Hoewel die vierde boek ook redelik "helder" is, is hierdie toevoeging baie donkerder en morsiger. Bloed, olie, braaksel, kwik en teer lê die hele wêreld vol. (En jy weet liefde tussen jong tieners is eg as die seun die meisie toelaat om op hom braak na hy haar lewe gered het.) Hoewel die gebeure nie noodwendig "mooi" is nie, dra dit egter beslis die eienskappe waarna lesers soek in ruimtewesenstories soos Nova: aksie, spanning, misterie, opwinding en, bowenal, hoop.

Viljoen hou die jong leser se kop besig met elke bladsy van die teks. Die eerste Nova-boek het in 2010 die lig gesien en nou - drie jaar later - maak Viljoen voorsiening vir die lesers wat ouer en meer volwasse word, in die opsig van temas wat aangeraak word sowel as die tipe taal wat gebruik word. Die taal- en skryfstyl is ryker, kleurvoller en dit gee die storie van die vriende se nie-so-rustige vakansie baie goed weer, op 'n manier wat lesers sal laat gril, lag en huil. Kort, byna abstrakte sinne word geïmplementeer om die spanning te verhoog, met goeie effek. Wat tematiek betref: sprake van jong liefde en verlies, asook beskrywings van baie meer grusame en grillerige plekke waar die verskillende hoofstukke van die boek afspeel, met teer en bloed en wie-weet-wat-nog wat teen die mure afloop. Die booswigte raak absoluut grotesk; as die boek 'n film was, sou ouertoesig nodig gewees het. Dit is egter niks om oor bekommerd te raak nie, dit is bloot 'n geval van pap wat lekker dik aangemaak word.

Die voorlaaste toevoeging tot die Nova-reeks is 'n taaiblink teks, soos 'n ruimtewesen, en dit ontvoer die leser - met 'n ligstraal en 'n ruimtetuig. Dit lei tot 'n hele paar vrae en berei sodoende die leser voor vir die volgende toevoeging tot die reeks. Met Nova: Sterreloper maak Viljoen dit egter baie duidelik: niks sal ooit weer dieselfde wees nie.

Lapa Uitgewers, ISBN: 978-0-7993-6112-4

Volgende: Nova - Eindspel
Die laaste boek in die Nova-reeks.

Ruan Fourie

 

Ruan Fourie is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014