2016-06


grootmense

resensies

Pleisters vir die dooies

Fanie Viljoen
pleisters vir die dooies  

Pleisters vir die dooies

Fanie Viljoen

Lapa

978-0-7993-62510

Pleisters vir die dooies word nie deur ’n waarskuwing ingelei, soos Fanie Viljoen se vorige rowwe(r) rit BreinBliksem nie – dit is die leser se verantwoordelikheid om raak te sien dat dié roman nie vir sensitiewe lesers is nie. Die roman handel oor ’n naamlose antiheld: ’n aanhanger van Kurt Cobain en Nick Cave and the Bad Seeds wie se siel waarskynlik effens ouer is as sy liggaam – ’n argetipiese Holden Caulfield, nou in ’n Afrikaanse wêreld te lese.

Die leser kom in die eerste hoofstuk al agter dat hulle met ’n donker, mishandelde siel (met effens melodramatiese streke) op hande sit. ’n Mens verwag dus cult classics: The Catcher in the Rye, dalk A Clockwork Orange, verwysings na Jim Morrison of Kurt Cobain (die 27-klub). Die karakter en sy broer sit met ’n mishandelende pa in die huis, ma-loos, en die hoofkarakter beskik oor bevraagtekenbare psigiese gesondheid. Hy dra ’n donker binne hom, en hy beplan ’n skoolskietery die volgende dag. Maar eers “’n aand vir laastes … om die donker ding binne-in [hom] beter te leer ken, te voel hoe hy sy vlerke uitstrek en sy vuiste bal”.

Die tema van skoolskietery herinner aan Jodi Picoult se Nineteen Minutes, en dalk selfs Lionel Shriver se We Need to Talk About Kevin. Pleisters vir die Dooies speel egter in ’n plaaslike (hoewel naamlose) stad af, in hoogs verstaanbare Afrikaans. Die verloop van die roman is ook heelwat anders uitgelê as hierdie Engelse romans. ’n Interessante nuwe blik word gebied op die psige van ’n skoolskieter. Die leser kies nie noodwendig die hoofkarakter se kant nie, maar dit is wel moontlik om in te sien waardeur hy gaan.

’n Mens maak dus die aand met hom mee, waar hy die stad invaar en verskeie interessante karakters leer ken. Voor hy hulle hek sluit wanneer hy vertrek, tjank hulle hond saggies vir hom. Dis duidelik dat hy nie meer homself is nie. Sy paadjie het tot ’n einde gekom. Hoewel die innerlike monoloog van ons protagonis plek-plek ongemaklik voorkom (die woord “moroon” bots byvoorbeeld met “Bastard!”, so-ook die ongemaklike verklaring “Ek is ’n rockster”) kry ’n mens ’n goeie idee van die karakter se sin vir eksplisiete poëtika. Die simbole wat vir hom van belang is, is al vantevore raakgesien, maar hy ervaar dit persoonlik en neem dit persoonlik aan. Dit waarby hy aanklank vind is in sy eie ervarings en gevoelens gevestig.

Die boek is in vyf afdelings verdeel, met verdere verdeling in hoofstukke wat wissel van een tot vyf bladsye. In die eerste afdeling, getitel “Verlosser”, ervaar hy sy eerste ontmoeting vir die aand: ’n nar, woonagtig as deel van ’n reisende sirkus. Dit roep die Romeinse Panem et circenses op: die vermaak wat manslag vir toeskouers gebied het, maar hier is die toeskouer die hoofkarakter (of die slagoffers, of die leser self). Hy neem, stilletjies, ’n gladiator-identiteit aan. Van die begin af het hy beplan om sy mede-klasgangers se lewens te neem, maar in die brandewyndrinkende nar (almal het maar hulle vise) se geselskap kom die kontras tussen die gewondes en die geweldenaars van die wêreld meer na vore.

Soos die karakter en die storie vorder, ervaar die leser saam met die karakter sy innerlike worsteling met sy donker self. Sy herhaaldelike verwysings na “die donker” kom plek-plek melodramaties voor, maar dit is gepas vir die karakter ter sprake. Hy het, immers, nie eers ’n naam nie – wat gee ons die reg om uitsprake te maak oor sy denkstrome? Bloed is volop in die roman, maar uitgesprei – nooit liters nie, net genoeg om ’n donkerrooi gloed aan die donker narratief te gee. In die verdere afdelings van die roman herbesoek ons die gedagte aan mense wat soos sterwende duiwe val, “dan ’n laaste keer na die wêreld kyk, en sterf”. Die dooie duiwe is ’n belangrike poëtiese element wat uiters effektief aangewend is tot by die slot van die laaste hoofstuk (onder die afdeling “Pleisters vir die Dooies”).

Ná die nar en dié se donkerder werklikheid agter die sirkusgordyn — selfs diegene wat betaal word om te vermaak, steek baie pyn weg — word die hoofkarakter ooggetuie vir die wêreld wat oopmaak ná die son gaan sak. Hoe verder hy hierdie wêreld verken, hoe minder duidelik kan dit word vir die leser: sekere gebeure skok en verwar, terwyl ander volkome sin maak met net ’n vae bewustheid van die Suid-Afrikaanse misdaadsisteem as agtergrondkennis.  Die byna distopiese aard van die stad in Pleisters vir die Dooies opgeteken bereik ’n klimaks in afdeling vier, “Ultrageweld” (herroep A Clockwork Orange se Alex en sy vriende se voorkeur vir Beethoven en ultraviolence). Magsposisies en die grens tussen dier en ondier, lewe en dood, kom hier ter sprake.

Deur die loop van die roman is ’n mens ooggetuie vir die vervorming van die paria: uiterlike voorkoms sowel as innerlike samestelling. Dié aand vir laastes bring heelwat verskille mee. ’n Mens betree die gedagtes van ’n skoolskieter en wonder of die aanvallers in plaaslike (sowel as oorsese) skoolaanvalle ’n soortgelyke reis onderneem het. Pleisters vir die Dooies is dramaties, skokkend, ontstellend, insiggewend; en die naamlose hoofkarakter bly oordadig poëties tot die einde toe. Vir lesers wat nog nie die ‘donkerder’ kant van die wêreld verken het nie, kan dit belangrike intertekstuele paadjies aanwys. Lesers wat wel voel die gedagtes in die boek opgeteken is so te sê hul eie, kan dit toelaat om hulle gerus te stel: jy is nie alleen in die wêreld nie, en hierdie karakter dra dalk selfs jóú naam.

Ruan Fourie     

Ruan Fourie. Skryfkuns, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016