2015-06


grootmense

resensies

Plons

Fanie Viljoen
plons  

Plons

Fanie Viljoen

Lapa

Illustrasies deur Arnelle Woker

Voorlees- en selfleesboek vir kinders tussen 5-8 jaar.

Hein se werk is om hulle swembad skoon te hou, maar hy is nooit lus om die swembad skoon te maak nie. Gelukkig vir hom daag daar eendag ’n baie mooi meisie, met die naam Mila, by sy voordeur op. Sy vra hom of sy hulle swembad kan skoonmaak vir ekstra sakgeld. Hein is betower deur haar skoonheid en stem dadelik in dat sy maar hulle swembad mag skoonmaak. Toe Mila omdraai om huis toe te gaan, sien Hein dat Mila silwerblouvisskubbe in haar nek het...

Fanie Viljoen se Plons bied ’n uitstekende lees- en leerervaring vir jong lesers. Die kreatiewe gebruik van tipografie dra by tot 'n plesierige leeservaring. Die manier waarop daar elke keer na ’n meermin, meerman of meerhond verwys word, is so geskryf dat dit mooi uitstaan en die jong leser se aandag sal trek. Nog ’n voorbeeld van so goeie tipografie is wanneer Hein sy sussie se swemdrakie afblaas en die geluid van hoe die drakie afgeblaas word voorgestel word deur letters wat al hoe kleiner word.

Verder is die ryk spel aan woorde, soos die baie rym en alliterasie in die boek ook ’n goeie manier om die jong leser te betrek. Die woorde soos “Hein probeer keer” “Hein probeer weer keer” en “die groen Mars-moeras” is voorbeelde van rym wat die kind vinniger sal leer om woorde baas te raak en te onthou.

Die alliterasie in die boek soos die ‘m’ alternerende klanke in “so min of meer ’n meermin”, “Mila, Mollie, Monty en die ander mense” sê lekker op die tong en kinders sal dit graag oor en oor wil sê. Die alliterasie in die uitdrukking “vuis teen vin” wys op die twee verskillende tipes mense en hoe hulle hulself kan verdedig. Ek dink die manier waarop die woorde gebruik word, lig die kind nie net in oor hoe die mense hulself verdedig nie, maar help die kind ook om die woorde te onthou.

Die onderliggende boodskap wat in die boek na vore kom, is hou die natuur skoon, want dit is die woonplek van baie diere oftewel “meerminne” en die rommel wat mense net so in die natuur los is skadelik en sleg vir hulle.

Hierdie is werklik ’n puik boek vir enige jong leser. Daar is baie woordspel, ’n goeie boodskap en lekker lag oomblikke in die boek. Die ouer sal dit ook geniet om die boek vir die kind voor te lees as gevolg van die humor en die ‘lekker-sê’ woorde.

Melindi Fourie

Melindi Fourie is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2015.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015