2013-08


grootmense

resensies

Sam
'n Ware verhaal van 'n dogtertjie en haar olifant

Ingrid Vander Veken (vertaler Antjie Krog)
sam  

Sam. 'n Ware verhaal van 'n dogtertjie en haar olifant.

Ingrid vander Veken

Lapa Uitgewers

Sam se openingsreëls is soos dié van ’n sprokie: “Daar was eendag ...” Dis heel gepas, want Sam is so na aan ’n moderne sprokie as wat kan kom. Daar is egter geen ongeloofwaardighede aan hierdie storie nie; dit is immers gegrond op ’n ware verhaal, volgens die agterblad. 

Van die teks op die agterblad van Sam kry ’n mens die idee dat dit die storie is van ’n dogtertjie wat ’n swerftog onderneem, soortgelyk aan Homer se Odussee. Dit sê dit is die “verhaal van ’n meisie wat meer as ’n eeu gelede met haar olifant van China na Frankryk moes reis”. Moet nie hiérdie kort opsomming te radikaal interpreteer nie. Die hoofkarakter, Marthe Roy de Montigny, reis slegs per skip en trein en die verhaal verwoord meer van ’n geestelike swerftog as ’n fisiese een. Daar word, by hierdie storie van Marthe se reis, ook kort weergawes van olifantlegendes en -stories bygevoeg, wat die verhaal inkleur en addisionele diepte aan Marthe se storie gee (byvoorbeeld ’n kort storie wat vertel dat olifante familie is van die wolke; daarom is hulle die kleur van rook en klink hul trompetter soos donderweer). ’n Olifant kan duisend verskillende lewens lei.

Die verhaal speel af in en tussen Port Arthur en Parys in die laat 1800’s, met geloofwaardige verwysings na die bou van die Eiffeltoring en die direkteur van die Jardin d'Acclimatation (Akklimatiseringstuin) van Parys, Albert Geoffroy de Saint-Hilaire, wat in daardie tyd aktief was. Verder wakker die ryk taalgebruik en kultuurverwysings ’n tipe wanderlust by ’n mens op. Chinese kultuur kom teenoor Franse kultuur te staan en hoewel dit op die oog af baie verskillend lyk, besef ’n mens gou dat die twee kulture nie so uiteenlopend is nie. Marthe leer wel: “Liewer ’n riethut waarin mens lag, as ’n paleis waarin almal huil.”

Nes in Vander Veken se Papawers, ’n grootmensverhaal oor die lewe saam met ’n skisofreniese seun, is die verhaal aangrypend, roerend en sensitief gekalibreer. Dit vang ’n mens vas sonder dat ’n mens dit volkome besef. Die potloodsketsillustrasies deur Marjorie van Heerden sorg daarvoor dat die storie volkome vorm kry in ’n mens se gedagtes. Die verhaal gee ’n tipe voorsmaak van hoe bevredigend die lees van stories kan wees en sal lesers honger maak vir meer kunssinnige, mooi stories. Dis nie ’n babastorie nie en sekere woordkeuses en gebeure sal dalk aan party jonger lesers verduidelik moet word. Daar moet wel besef word dat dit nie ’n boek is wat onderskat moet word nie; hierdie is ’n uitsonderlike skepping.

Die boek illustreer hoe verandering nooit ophou nie. “’n Mens verander nie omdat jy in ’n ander land of ander stad is nie, maar jy lyk wel anders, omdat alles rondom jou anders is en jy in ’n ander lig beskou word” (p.82). ’n Mens moet net leer hoe om raak te sien hoe ’n gryns begin lyk na ’n glimlag en hoe nuwe kennisse begin lyk soos dié waarna jy verlang. En as ’n mens dalk nêrens tuis voel nie, pas ’n mens daarby aan en dan word die hele wêreld ’n mens se huis.

Ruan Fourie

Ruan Fourie is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014