2016-05


grootmense

resensies

Soene op 'n Suzuki

Janie Oosthuyzen
soene suzuki  

Soene op 'n Suzuki

Janie Oosthuyzen

Human & Rousseau



Ouens, niggies en kombuiskaste wat kan nou meer eenvoudig wees?

Lizanne Meyer weet nie wat erger is nie, 'n Ma wat net nooit op dieselfde level as sy is nie, 'n aaklige niggie wat vir een of ander – onverklaarbare – rede daarop aandring om skoolvakansies in die Meyers se stoepkamer te slaap of Gerhard met sy glibberige – maar sexy – seekatarms. Wanneer Lizanne uiteindelik die moed bymekaar skraap om vir Gerhard Greef te sê dat dit finaal verby is tussen hulle en vir Ryno Thiart daai langverwagte sms stuur, verwag sy dat haar lewe uiteindelik in die regte rigting gaan. Buitendien Ryno is só romanties en hy laat almal se koppe draai – wat kan moontlik verkeerd gaan?

Maar wanneer Lizanne se ma uitvind oor Ryno se motorfiets en aandring dat Gerhard met sy “kunstige sy” nog die kombuiskaste moet kom klaar verf, verander al Lizanne se goeie voornemens in een, buitengewone, gemors.
Om dinge dan net nóg 'n hupstootjie in die verkeerde rigting te gee, kan Lizanne nie kop of stert uitmaak van die gesprek wat haar beste vriendin, Deana, in die badkamer afgeluister het of wat Mandy nou weer kwyt raak oor 'n poltergeist nie. En om boonop die spyker in die kis te slaan kom haar pa oor drie dae terug van oorsee af en dan – is alle hel los.

Aan drama het hierdie romanse beslis nie 'n tekort nie. Janie Oosthuysen vang elke tienermeisie se nagmerrie vas met hierdie sesde uitgawe in haar tienerromanse reeks. Die onsekerheid van grootword, mens wees en vriendskap is maar net van die onderliggende temas wat te voorskyn kom vanuit die warboel wat Lizanne se lewe is. Daarby integreer Oosthuysen die karakters moeiteloos in die lewe van die leser, om sodoende elke emosie van tiener wees te laat herleef met die gevolg dat die verhaal uiters gepas is vir enige vurige tiener – ongeag of daar romanse in jou lewe is of nie.

Die gebruik van tienerspreekstaal vergemaklik die leesproses en heg die woorde aan die leser se hart sodat jy smag na die vorige vyf uitgawes, naamlik: Rugbyballe en bikini’s, Daar’s 'n ou in my aarbei-smoothie, My hart klop muffins, Ouens is nes ekstra bagasie en Liefde is nie tjoklits nie. Die derde sowel as die vyfde boeke in díe reeks is deur bekende, Noem my Kat, skrywer, Helen Brain geskryf en beloof daarby ook om so soetsappig te wees soos Soene op 'n Suzuki. Dus, berei jou voor, hierdie is beslis'n snoesige winterslesie.

Roné van Wyk     

Roné van Wyk is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016