2014-12


grootmense

resensies

Vertel vir my 'n storie

Wendy Maartens en Rob Foote
vertel vir my storie  

 

Vertel vir my 'n storie

Wendy Maartens en Rob Goote

Lapa Uitgewers

ISBN: 978 0 7993 6665 5



Sprokies is dwarsdeur die eeue gebruik om kulturele waardes en norme aan die volgende geslag oor te dra. Sekere verhale het volksbesit geword en is gebruik vir vermaak, inligting en opvoeding. Die verhale in Vertel vir my ‘n storie is meer as volksbesit, dit is deel van ‘n kultuurskat wat oor landsgrense strek.

In hierdie prettige bundel, wat gebruik kan word vir voorlees of selflees, word kinders begelei om gesonde waardes te ontdek en uit te leef. Dit is ‘n nuttige instrument in die hande van ouers en opvoeders, wat waarskynlik soms met die hande in die hare wonder hoe om waardes sinvol oor te dra.

Die eenvoud, humor en oorspronklikheid waarmee die verhale aangebied word, maak dat selfs oorbekende verhale opnuut geniet en waardeer word. Sprokies wat oorspronklik in die Europese volksmond bekend was, kry ‘n Suid-Afrikaanse kleur met tipies Afrikaanse uitdrukkings soos “siek en sat”, “beloftes maak skuld”, “alte seker”, “toe perde nog horings gehad het”, “gaan vang ‘n haas”, “o koekemakranka”, ensovoorts. Die verteltrant is boeiend en toeganklik, selfs vir jong lesers/toehoorders. Die unieke weergawes van die “lank, lank gelede-”inleiding wat kenmerkend aan sprokies is, is genotvol. Die visser en sy vrou begin byvoorbeeld so: “Lank, lank gelede, toe suurlemoene nog soet was . . .” Dié kreatiewe aanbieding is kenmerkend van die bundel.

As bonus word elke verhaal vergesel van ‘n gedeelte waarin ‘n sekere waarde eenvoudig en duidelik op die kind se vlak bespreek word. Daar word ook stap-vir-stap riglyne aan ouers en onderwysers gegee met betrekking tot die oordra van die spesifieke waarde. Dié gedeeltes is prakties en op die man af. Hoewel daar ‘n “les” aan elke verhaal gekoppel word, word dit op ‘n vars en onsentimentele manier gedoen. Die verhale word nie as moraliserend beleef nie.   

Soos in enige goeie kinderboek, vertel die illustrasies deur Rob Foote hul eie verhale. Sagte pastelle is in elke agtergrond aangewend, in kontras met die donkerder kleure en skaduagtige illustrasies wat soms gebruik is. Die gevoel wat hiermee geskep word, is egter eerder ‘n sagte, dromerige een as wat daar vrees ingeboesem word. Myns insiens ondersteun die illustrasies die teks baie goed. 

Ek het Vertel vir my storie werklik baie geniet en glo kleuters se ontwikkeling kan op verskeie maniere baatvind by die bundel, veral dan ook met die vestiging van waardes.


Anneretha Grobler

Anneretha Grobler 2014.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015