2006-02


grootmense

resensies

Vuvuzela

Engela van Rooyen

Die Sanlamprys vir jeuglektuur, ’n gesamentlike inisiatief van Tafelberg Uitgewers en Sanlam, word tweejaarliks toegeken. Dis ’n kompetisie waarin manuskripte wat oor ’n bepaalde voorgeskrewe tema handel, beoordeel word en waarvan die wenmanuskripte deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer word. Vanjaar was die tema musiek en het Fanie Viljoen se Breinbliksem en Francois Bloemhof se nie vir kinders nie, vir die eerste keer in die geskiedenis van die prys gesamentlik goud ontvang. Aan Engela Van Rooyen se boek Vuvuzela is silwer toegeken.

Vuvuzela

Vuvuzela, geskryf deur die gesoute outeur Engela van Rooyen, herinner sterk aan Van Rooyen se vorige township-storie, Duiwe vir Botala.

Teen die agtergrond van Suid-Afrika se “Soccer Bid vir Twenty-Ten” word die verhaal van twee vigsweeskinders vertel: Buti die ouer broer wat met toewyding alles doen wat menslik moontlik is om sy jonger broer, Senke van huis en haard te voorsien en Senke, die dankbare klein boetie wat ’n ambisieuse plan beraam om vir Buti op tasbare wyse dankie te sê.

Die verhaal word vertel uit die perspektief van Senke, die jonger broer. Die vuvuzela (“sokkerhoring”) van die titel verwys na ’n moderner weergawe van die beeshoring wat tradisioneel in swart gemeenskappe gebruik is wanneer belangrike nuus of boodskappe afgekondig is. Dit word die simbool van alles wat vir Senke die lewe aanmekaar bind: sy voorvaders, sy ma, die township-lewe, sokker en Buti.

Die karakters in hierdie verhaal val simplisties in twee duidelike groepe uiteen: die goeies en die slegtes. Die goeies is baie goed en die slegtes baie sleg. Daar is bitter min nuanses en karakterontwikkeling. Buti (en Senke) is darem net te goed om mens te wees. Daar is by nie by een van hulle, soos mens sou verwag, ’n sweempie bitterheid, verwyt of selfbejammering nie. Die enigste uitsondering is die Teacher, Senke se mentor by die skool wat blyk voete van klei te hê. Maar ook dit word simplisties aangebied. Die rede hiervoor (en nou maak ek my eie afledings) is waarskynlik ’n agenda om swart mense positief uit te beeld. Daarmee het ek geen probleem nie, want te veel Afrikaanse kinders klou nog aan ou uitgediende persepsies oor swart mense vas. Dit kan egter nie geskied ten koste van die skep van geloofwaardige karakters nie. Identifisering kan slegs plaasvind en persepsies gevolglik slegs verander as daar in ’n roman ’n geloofwaardige fiksionele wêreld geskep word.

Ons weet dat jeugdige lesers (veral) ’n hoë premie op geloofwaardige karakters en ’n sterk spanningslyn plaas. Die roman slaag ook nie ten opsigte van laasgenoemde nie. Die verhaal is dun en vir my soms plek-plek vervelig. Daar is nie genoeg gebeure wat trae lesers sal laat aanhou lees nie, en nie genoeg kompleksiteit om ervare lesers te boei nie. Die oordrag van inligting oor allerhande aspekte van die township-lewe - die kos, die musiek, die ablusiegeriewe, ens.- en lewenslessies soos “ nee, dis die beste om geld in ’n account te spaar, dan kry jy ook rente, het die Teacher hulle in Economics geleer (p29)”, neem die plek van die storie in en vind ek onaanvaarbaar patroniserend.

Die geloofwaardige fiksionele wêreld word verder ondermyn deur die lerende inslag van die roman, die (vir my) onnatuurlike en moeilik leesbare taalgebruik en die oordrewe politieke korrektheid. Vergelyk die volgende paragraaf: “In die ou tyd, so vertel Bra Sam, is daar renosterhorings gebruik om op te blaas, soos hulle gaan war maak. Maar waar sal jy vandag genoeg renosterhoring kry, veral met die Conservation law waarvan hulle in die skool leer. Senke het op ’n advertising poster gelees daar is ’n kwaito group wat ’n renosterhoring gebruik. Hulle het seker ’n permit van die Governement gekry” (p6). Dit moet duidelik blyk uit bogenoemde dat die verhaal, hoewel dit uit Senke se perspektief vertel word, afpraat na die leser. Dis ’n lerende volwassene wat aan die woord is. Daarvan hou die gemiddele jeugdige leser ook nie.

Dit is ongetwyfeld noodsaaklik dat verhale van en uit die townships verskyn om die leef- en leeswêreld van Afrikaanse lesers te verruim. Maar gesien uit beide ’n literêre en leserkundige oogpunt, glo ek nie dat lesers effektief ingetrek sal word in en geboei sal word deur die fiksionele wêreld van Vuvuzela nie - die klaarblyklik lofwaardige doelstellings van die roman ten spyt.

Afrikaanse verhale wat die township-wêreld waarin so baie van ons kinders leef geloofwaardig kan uitbeeld (uit ’n binneperspektief?), word steeds dringend gesoek.

Tafelberg Uitgewers. ISBN 0 624 04304 5

Maritha Snyman

Prof. Maritha Snyman is verbonde aan die Departement Inligtingkunde, UP.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2006