2014-12


grootmense

resensies

Wouter en die eienaardige eilandavontuur

Philip Reeve en Sara McIntyre
wouter  

Wouter en die eienaardige eilandavontuur


Philip Reeve en Sarah McIntyre
Afrikaans deur Jaco Jacobs

LAPA Uitgewers


ISBN: 978 0 7993 6709 6

In Wouter en die eienaardige eilandavontuur, wat in Afrikaans vertaal en verwerk is deur die bekende kinderboekskrywer Jaco Jacobs, is avontuur aan die orde van die dag – van die eerste bladsy af.

Wouter se ouers is verkenners wat vreemde en nuwe plekke ontdek vir ’n lewe. Oplaas besluit hulle dat dit tyd is om hulle te vestig in Blouwaterbaai. Wanneer Wouter se ouers egter nuwe eilande in Blouwaterbaai sien, pak die avontuurlus hulle weer. Hulle raak egter vermis en Wouter besluit om hulle te gaan soek.

In Wouter se soektog na sy ouers, kruis sy pad met Iris die meermin en Frans wat ’n swerwende eiland is. Wouter en Iris help vir Frans die eiland, om ’n duikboot as versiering op sy kop te sit. Dit versterk Frans se kanse om met die kroon weg te stap as wenner van die Nag van die Seepruike – ’n kompetisie vir die eiland met die mooiste hooftooisel.

Wouter moet egter rekening hou met Ruwelrots, nie net omdat sy ouers op dié eiland aangehou word nie, maar ook omdat Ruwelrots tot elke prys die kroon wil dra as die eiland met die mooiste hooftooisel. Dan is daar ook nog René, die seun met die meisienaam en die seeapies om mee rekening te hou.

Wanneer Wouter gevange geneem word deur René en sy trawante, lyk dit asof die neusie verby is vir hom en sy ouers. Gaan Wouter uit die kloue van die boelie René en Ruwelrots kan ontsnap?

Wouter en die eienaardige eilandavontuur is ’n boek wat nie maklik neergesit word nie. Die illustrasies deur Sarah McIntyre verleen ekstra diepte aan die reeds opwindende teks. Wouter en die eienaardige eilandavontuur is geskik vir selfstandige lesers van ouderdom 9-10. Die boek vat lesers op ’n avontuur van pratende eilande, ’n meermin wat in ’n bad slaap en ’n dikwels knorrige albatros.    


Marnus Kok

Marnus Kok is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2014.
Terug na Resensies

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015