22-4-2014


jongklomp

skryfgeheime

Skryf 'n haiku
Chantel Robijn

Hokaai, haiku, eenasem wat?

Het jy al ooit probeer om 'n haiku te skryf? Ja, nou onthou jy, dis 'n gediggie wat se drie reëls in een asem gelees kan word, en dit kom ook uit die Japannese kultuur, en natuurlik is dit mos spontaan?

Hier is 'n paar algemene kenmerke van 'n haiku en wenke hoe om 'n haiku te skryf:

  • Dit is 'n vorm van digkuns.
  • Dit beskryf een gebeurtenis/oomblik (in die teenwoordige tyd).
  • Dit verwys na 'n beeld wat op een of ander manier verwant is aan die natuur.
  • Dit gaan oor iets wat die digter gesien, gehoor, geruik, geproe of geraak het.
  • Die digter maak die oomblik, hoe klein ook al, 'n baie belangrike oomblik.
  • Die gedig beeld die wat? waar? en wanneer? uit
  • In Japannees is 'n haiku gewoonlik 17 onji (Japannese lettergrepe).
  • In Engels/Afrikaans, begin met 'n kort reël, dan 'n lang reël en eindig ook met 'n kort reël.
  • Die lettergrepe kan altesaam tussen 10-12 wees.
  • 'n Patroon wat baie gebruik word is: 5 + 7 + 5 lettergrepe
  • Daar kan 'n skets of illustrasie by wees.

Praktiese voorbeeld van 'n haiku in Afrikaans:

Sonder son
dans lelies rukkend
i
n die see.

Die [lettergrepe] in die haiku

[3] Son/der/ son/...

[5] Dans/ le/lies/ ruk/kend/   

[3] In/ die/ see/...

Daar is dus 11 lettergrepe in die gediggie.

Wanneer ons vra Wat? - Is dit die “lelies”.

Wanneer ons vra Waar? - Is dit “In die see”.

Wanneer ons vra Wanneer? - Is dit “Sonder son”. Met ander woorde, dit is bewolk of net na sonondergang of in die aand.

klere, hare beef
en die wind haal my hoed af
vir rimpelrotse

(Jemima Meyer -16)

[5] klere, hare beef
[7] en die wind haal my hoed af
[5] vir rimpelrotse

Aktiwiteit:

Gaan buitentoe, stap in die parkie of in die straat af en kyk, ruik, luister of voel - en skryf jou eie haiku.

Bron: Wakan, N.  1993.  Haiku one breath poetry. USA: Heian International.

Chantel Robijn
Terug na skryfgeheime

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014