2017-09


jongklomp

verinniewêreld

'n Franse avontuur

chrismarie bester

Ons gaan Frankryk toe!

Vir die volgende 7 en ʼn half maande gaan ons plekke sien en dinge beleef waarvan ons nog altyd droom...

Volg twee vriendinne se avontuur in die vreemde

an-mari fouche

Ek gaan Frankryk toe! Vir die volgende 7 en ʼn half maande, gaan ek in ʼn klein dorpie naby Lille in die Noorde van Frankryk werk. Vir die volgende 7 en ʼn half maande gaan ek baie vêr wees van die bekende, en van my geliefdes. Vir die volgende 7 en ʼn half maande gaan ek plekke sien en dinge beleef waarvan ek al my hele lewe droom. En, vir die volgende 7 en ʼn half maande gaan ek julle daarvan vertel.

My naam is An-Mari Fouché. Ek is 22 en ek is nou ʼn finalejaar Taal- en Literatuurstudie student op die Puk. Skryfkuns, Engels en Frans is my hoofvakke en dis te danke aan laasgenoemde dat ek nou hierdie geleentheid het om Frankryk toe te gaan. Ek en Chrismarie Bester gaan Engelse assistente gaan wees by skole; ek in die Noorde en sy in die Suide, baie naby aan Spanje.

Ons vertrek die 26ste September vanaf SA, en dan land ek vroeg die volgende oggend in Parys. Van daar af vat ek die trein Lille toe en verder, tot by die dorpie waar ek gaan werk.

Ek het al klaar lysies van dinge wat ek wil doen en plekke wat ek wil gaan besoek terwyl ek daar is. Partykeer dink ek 7 maande gaan te min wees vir als wat ek wil doen! Ek het besluit om my hele reis goed te dokumenteer. Ek het notaboeke, ʼn nuwe kamera, ʼn blog, instagram, facebook, en hierdie Storiewerf-storie.

Vandag oor 9 dae vertrek ons, en dan begin dit.

an-mari fouche
An-Mari Fouché

Ek gaan ook my Frankryk-avontuur dokumenteer op my persoonlike blog. Volg my gerus om meer te lees hieroor.

https://unrevedelafrance.wordpress.com/



chrismarie bester

Chrismarie Bester

Oor bietjie meer as ’n week vertrek ek na ’n plek wat al vandat ek kan onthou die agtergrond in al my drome is. Ek is nou ’n derdejaars tale- en literatuurstudent met ’n tekort aan slaap en heeltemal teveel kafeïne in my sisteem. Oor bietjie meer as ’n week gaan ek nogsteeds ’n derdejaarstudent met ’n tekort aan slaap en ’n oordosis kafeïne wees, maar ek gaan ook ’n Engelse assistent wees by ’n skool in ’n vreemde land. Vir sewe maande.

My hart klop vinniger sodra enige gedagte oor hierdie nuwe avontuur by my opduik. Veral wanneer die pak-gedagtes kom. Wat gaan ek vat en wat gaan ek los? 23 kilogram is darem baie min. Ek wonder of ek die lugredery kan bel en vra hoe hulle verwag dat ek my hele lewe in 23 kilogram moet inpas.

Behalwe vir hierdie panarie, is alles omtrent gereël. Ek het verblyf by die skool waar ek gaan werk, my vliegkaartjie is bespreek, ek het reeds navorsing gedoen oor die naaste yoga-studio, al wat nog kort is my visa (wat binne die volgende paar dae reg behoort te wees) en dan is ek op pad. Dit voel onwerklik. Ek dink dit sal eers insink wanneer ek die 26ste op daardie vliegtuig sit en saam hom opstuig. Ek kan nie wag vir die bekende gevoel van hoe jy styf terug gedruk word in jou stoel met die krag van die onbekende waarin jy vlieg nie.
Vir nou is daar nog ’n week van chaos by die universiteit wat vir my voorlê voordat my grootste droom realiteit word. Ek sien uit om hier op Storiewerf my ervaringe, goed en sleg, met almal te deel wat dit lees, en julle natuurlik jaloers te maak met ’n paar fotos.

Oor 9 dae vlieg ek en my 23 kilogram bagasie Frankryk toe! Bayonne, hier kom ek.

Ek gaan ook my Frankryk-avontuur dokumenteer op my persoonlike blog en op instagram. Volg my gerus om meer te lees hieroor.
Instagram: @chrismarie_besterBlog: chrismariebester.wordpress.com

Oor die program

Die assistentskap wat ons gaan doen vorm deel van ‘n internasionale program waarvoor mens kan aansoek doen, wat deur onder andere die Franse Departement van Opvoeding, die verskeie Franse ambassades en Franse Alliansies behartig word. Om aansoek te doen, moet jy Frans ten minste op B1 vlak magtig wees. Ons neem al drie jaar Frans, en het in ons tweedejaar gehoor van hierdie geleentheid. Ons het toe die DELF B1 eksamen geskryf (terwyl ons tegnies nog op A2 vlak was – net onder B1), en wonder bo wonder deurgekom. Daarna het die lang aansoekproses gekom: vorms, motiveringsbriewe, aansoeke (alles in Frans, natuurlik), paspoorte, geboortesertifikate, en baie meer. Na dit het ons maande gewag om te hoor of ons aanvaar is en ons het uiteindelik in April finaal uitgevind: ons gaan Frankryk toe!

Ons is in verskillende skole geplaas (ons kon drie keuses gee waaruit ons dan geplaas word), en ons is albei by twee verskillendes geplaas. Ons gaan altesaam 12 ure per week werk en het ook skoolvakansies af. Ons werk behels basies om ‘n hulpmiddel te wees vir Engelse onderwysers, om oefenings en aktiwiteite met die leerlinge te doen om sodoende hul taal- en spesifiek praatvaardighede te verbeter, en om met klein groepies studente te werk om hul te help.

Meer oor die program hier: http://www.ciep.fr/en/foreign-language-assistants-in-france

vervolg
 
An-Mari en Chrismarie is skryfkunsstudente by die NWU. 2017
Terug na Verinnniewêreld

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016