2015-03


jongklomp

verinniewêreld

Groete uit Nederland
lelani viljoen Ik ben Lelani Viljoen en ek het besluit om ná my studies vir ‘n jaar te au pair in Nederland. Ek is nou al sewe weke in Nederland en dit is omtrent ‘n ervaring.

Ik ben Lelani Viljoen en ek het besluit om ná my studies vir ‘n jaar te au pair in Nederland. Ek bly in ‘n klein dorpie genaamd Berkel en Rodenrijs, wat sowat tien minute met die kar van Rotterdam af is.  Dit is ‘n “knus” dorpie waar almal mekaar groet. Die huisies is opmekaar gebou, en hier is baie klein kanale wat deur die verskillende strate loop (in die foto is my straat, Zilvergrachtstraat).

Zilvergrachtstraat
Zilvergrachtstraat

Ek is nou al sewe weke in Nederland en dit is omtrent ‘n ervaring.  Vir my is ALLES anders hier. Die kultuur, die mense, die kosse, selfs die langbeenspinnekoppe lyk anders (hier is hulle ‘n ligte bruin kleur).

Dit was oorweldigend die eerste paar dae en VERSKRIKLIK koud!  Dan besef jy jy is alleen in ‘n vreemde land, oorsee, waar jy nie die taal verstaan nie (want nee, dit is nie so maklik om Nederlands te volg as die mense vinnig praat nie, en almal in Nederland praat vinnig). Gelukkig nie die kinders nie.  Hulle verstaan ek darem so 80% van die tyd.

Die kinders hier word baie liberaal grootgemaak. Dit is moeilik om te sit en kyk hoe kinders lelik met hulle ouers praat en te dink hulle het ‘n pak slae nodig (maar hier mag die kinders ook ‘n sê hê). ‘n Straf hier is om op ‘n stoeltjie te gaan sit in die gang. Welliswaar hou die kinders nie daarvan nie, maar dit is ook nie effektief nie. Ek sou sewe keer ‘n dag pak gekry het as ek die goed gedoen het wat hier as “oukei” gesien word. Maar dit is ook interessant om te ervaar.

Soos om ook die smaak van Nederlandse kos te ervaar. Stamppot is ‘n veelbekende Nederlandse dis waarvan mens verskillende soorte kry. My heel eerste aand het ons stamppot (Rucolastamppot) geëet en ek het byna onmiddelik Suid-Afrikaanse kos gemis. Dit het ‘n vreeslike bitter smaak gehad, maar ek het probeer om dit maar liefs af te dwing.  Net om later te hoor dis nie eintlik hoe dit moet proe nie. (Ons het dit weer geëet en dit was lekkerder). 

Elke aandete word ook natuurlik aan tafel geëet, iets wat nie meer so gereeld in SA gedoen word nie. En in hierdie tyd is dit waar mense met mekaar gesels oor die dag se gebeure. Terwyl ons in SA meer in stilte sal eet. Iets wat ek ook opgelet het, is dat hulle die hele ete deur praat, en nogsteeds eerste met leë borde sit anders as ek, wat daar gesit het sonder om ‘n woord te sê die aand.

Behalwe vir stamppot is daar ook baie lekker soetighede, soos stroopwafels. En ja, dit is so lekker soos dit klink, maar as ‘n meisie probeer ek maar matigheid voor oë hou. Dit is moeilik om een te eet en op te hou, daarom koop ek dit ook nie meer nie. Dit kom altyd in pakkies van minstens vier. So julle sien die probleem. 

Dit is regtig vir my anders om hier te wees. Elke dag voel nog vir my onwerklik. Dit voel snaaks om in ‘n buurt te woon waar huisies op mekaar gebou is (in SA het ek op ‘n groot plot gebly). Dit voel snaaks om iewers te wees waar daar nie een slaggat is nie, waar daar geen diefwering op die vensters is nie en waar jy elfuur in die nag van die treinstasie af kan stap na jou huis toe sonder om een keer oor jou skouer te kyk.  Maar dit voel nie net snaaks nie, dit voel ook goed.

Tot ‘n volgende keer.
Groete uit Nederland

lelani viljoen

vervolg
deel 2
Lelani Viljoen was 'n skryfkunsstudent by die NWU. Sy is tans 'n au pair in Nederland. Maart 2015
Terug na Verinnniewêreld

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2015