2010-12


jongklomp

versfabriek

SPOOKversies

Spoke loop bedags

Op die plaas het ons gaan kuier
ver doer in die veld gaan lê
net ek en my klein-nig

Oë toegeknyp,
rus ons in die laatmiddagson
onder vele rye hoog-en-laag bosse en bome

Skielik 'n kraak
ek skrik,
sy spring.

"Wie's daar?"
'n gemeenskaplike roep
niemand antwoord nie!

Kraak hier
kraak daar,
o gedoriewaar!

Dis 'n spook!
hy huil en kreun
en steun en ween

Ons hardloop
terug huis toe, gou!
"Tannie, Tannie! Spook in die veld!"

Tannie sug, diep en innig en lank.
"Ai, julle jongmense tog.
Dis net die wind - spoke loop nie bedags."

En suutjies, om die boom,
loer die spook van Jannie Kom-Om
kraak-kraak, al huilend, steunend en wenend.

Hy glimlag en dink:
"Mense tog."
Spoke loop bedags.

Adri Brits (16) 2010



Van hierdie spookversies is geskryf in die kompetisie met die bekendstelling van Lousie Prinsloo se boek, Spookhuis by die see.

Skryf jou eie SPOOKversie

Gebruik die posbus en om jou gedig aan Storiewerf te stuur,
en wie weet...

Op 'n plaas
woon 'n haas
diep in 'n donker gat
dis daar waar die spoke
saam begin dans
en daarvan
voel hasie al sat

want die spoke raas
en die spoke blaas
en ou haas bewe
soos 'n riet
waar hy sing
aan sy lied
diep onder die grond
waar hy wens
hy was eerder 'n hond

want 'n hond kan blaf
en speel hy is laf
sodat die spoke
maar liewer wil hol
en ook ophou om
met haas te lol.

Joanita Engelbrecht (9) 2009

Kalander

Maandag, Dinsdag, Woensdag
een dag op die ander
so sit die spokie op die hek
Die spokie met die naam Kalander.

Verdrietig, tog te triestig
sy hart in sewe stukkies
Kalander maak emmers vol
met trane net soos druppeltjies.

Hoekom, is die algemene vraag
die dorpsmense nuuskierig
Kalander sit koponderstebo
hoekom is hy so verdrietig?

Mika Stanvliet (16) 2008

Dis so donker in die huis
sê nou maar daar's 'n ding wat my gaan vergruis
sê nou maar dis 'n luis
met 'n groot swart vuis!

Of dalk 'n gruwelike spook
wat pers sigarette rook.

Sê nou maar dis die bure se swart kat
daai een met die groot gat!

Ek is so bang, bang, bang!!
dis seker omdat ek na die daglig verlang.

Dalene de Vente (12)

Vreemde spoke!

Op my ouma se solder,
woon Holderstebolder,
die vreemdste spook!
So oud en verrimpeld en vol van rook!

Want Holderstebolder is ongesond!
Hy speel snags in die koue rond!
Pleks daarvan dat hy gaan slaap
hy gaan verkoue kry! Die aap!

Holderstebolder rook al jare!
Hy kannie stop nie, sigarette en sigare!
Die rook is nou al vasgekeer
en arme Holderstebolder weet nie meer!

Hy gaan sien vir proffesor Floor
hy sal hom gou gou regtoor
maar o Saadbrood!
Die professor is nou al lankal dood!

Wag net gou `n rukkie!
Spoke gaan mos nie dood nie!
Maar waar is ou Floor dan nou?
Hy het gou vakansie gaan hou!
Ag nee!

Mika Stanvliet (13)

Die vet spook Dik Daan

Dik Daan is die vreemdste spokie,
hy hou nie van die donker nie!
Hy`s bang vir spoke en mense,
om van hul weg te bly is een van sy wense.

Ou Dik Daan hou darem van lekkers,
hy steur hom ook veel aan Christmas Crackers,
solank daar `n blokkie sjokolade is,
is Dik Daan bly, dis gewis!

Coke, Gemmerbrood, Pannekoek,
Dik Daan hou van lekkergoed!
Vir pampoen, skorsie en patat,
sê ou Dik Daan, ag nee wat.

As hy net een ou koekie kry,
Is ou Dikke Dik Daan tog te bly.
Hy eet ook sommer stroop,
net so, voor hy lekkers koop.

Dik Daan hou van allerlei goed,
Hy sê selfs koeksisters is `n moet.
Dik Daan hou van ongesond,
maar o wee! Al die lekkers lê op die grond!

Want Dik Daan se brein,
is redelik klein,
hy het vergeet,
dat spoke mos nie kan eet!

Die kos val dwarsdeur!
Al het die soetigheid hom meegesleur.
Ou Dik Daan voel nou baie sleg,
want die lekkers is almal weg.

Die kinders het dit kom haal,
sonder om daarvoor te betaal!
Stoute kinders! Jul is sleg!
Julle vat dan al my lekkers weg!

Ou Dik Daan is regtig hartseer,
hy sien hoe hulle met hom gekskeer,
Vir ewig is lekkergoed klaar,
Dis hartseer, maar dis waar.

Mika Stanvliet (13)


Die wenners van Versfabriek se verjaarsdagwedstryd 2004 is
Marietha Brits [Jy't my vertel (van die son)] en

Mika Stanvliet [Die vet spook Dik Daan].

Die Spook!

Daar is wel goed soos spoke!
Hulle kruip net weg van damp en roke!

As jy skiet, dan skiet jy mis!
Die spook slaan jou gou disnis!

Nou moet jy weet.
`n spook het `n wrede gevreet!

Hy maak mense skrik
hulle skrik so dat hul hik!

Spoke is maar wreedaardig
Pasop! Hul word nog steeds vervaardig!

Mika Stanvliet (12)

Spookmeisie

Op die pad van Uniondale wag daar 'n bleek meisie wat ronddwaal,
Haar klere is spookagtig en haar hare is vaal.
Waar sy trap lê daar wit spore
sy dwaal net in nagte en verdwyn in die more.
Sy sing en treur
Oor die heuwels,oor die reviere, oor die strate deur.
Sy sal altyd daar wees en huil.
Die arme spookmeisie van Uniondale
Saans in die nag as jy verbyry met jou oë moeg en rooi
Sal jy sien hoe die spook duimgooi.
Die siel dwaal elke nag rond
luister in die nagte na haar stem in die agtergrond.
Die meisie sal altyd daar wees en wag.
En onthou hou dan net jou oë oop in die nag

Engela Mayer (13)

My eie spook

Ek dink aan 'n spook in my kas,
hy bly meeste van die tyd in my jas.
Net in die aaklige koue nag
hoor jy sy gruwelike lag.

Die vlieënde moue
word dan vieslike slymerige kloue -
die kloue word al langer
en ek word al hoe banger.
Die arms strek om my te gryp
my voet word geknyp!

Ek skree en gil!
Die spook word stil...
Ek kyk in my kamer rond,
ek sien 'n paar spore van grond,
en daar onder op die mat
sit meneer Stoffels die kat!

Nicola van Rensburg (Gr 3)

Die spook in ons huis

Ons het 'n Spook in ons huis
en hy maak homself tuis.
Hy sit op my stoel
met 'n maklike gevoel.
As ek vir hom loer
dan sê hy vir my "BOO",
dan hardloop ek weg na my Ma toe.

Hy sit op die mat; maak asof hy bad
en maak ons almal nat
met die water wat so spat.
dan hardloop ek weg na my Ma toe.

Dis 'n vriendelike spook
al wil ek hê hy moet loop.
Daar is min gevaar as ek hom bewaar,
maar ek hardloop nog steeds na my Ma toe.

Katuscia di Stefano, 11 jaar oud

Spoke

Een aand op my bed,
lê ek en wonder oor spoke,
is hul maer of is hul vet?
is hul bene heel of gebroke?

"Spoke, bestaan julle?"
vra ek hard-op.
"Het julle frille of grille?
Het julle 'n hart wat klop?"

Toe skik ek,
vir wat toe gebeur -
reg in my deur
staan 'n spook, dun soos 'n rek!

Glo my, dis waar!
Hy was daar!
Het nogal gewuif,
en het 'n blink kuif!

Spoke bestaan wel,
dit kan ek jul vertel!
As jul my nie glo,
lê net en kyk na bo.

Eendag sal jy hul sien,
miskien, miskien,
gouer as nou,
dan skrik jy jou flou!

Charne Hayward (10)

Die spook van Hentiesbaai

Dit gons op die dorp van Hentiesbaai,
oor die spook wat loop en soek in die baai.
Hy het geen hoof, sy rug trek krom, en ek
is baie bang vir hom!!!
Sy lus vir die lewe sal hom nooit verlaat,
want hy loop en brom en is vasberaad
om kind en kraai op te raap
om saam met hom te loop en praat.
Ag, die ellende van die spook,
om so alleen te loop.

Shana Hunter

As spoke geesvang

Een aand met volmaan,
het die spoke na 'n partytjie toe gegaan
waar hulle lekker kon geesvang,
en dan luister hulle na die Grafsteensangers se sang.

Al wat nie meer leef en beef,
kom dansvloer toe en sweef!
Selfs Dracula en sy meisie
wals op die tango se wysie.

Party lê net op die vloer
na die swewende spoke en loer.
Want hulle sien nie kans
om op te staan en te dans.

Frankenstein en oorle Mev Bartel,
het gespook en gespartel
maar kon nie daarin slaag
om die spoke op te jaag.

Reksprong was daar ook,
maar geen brawe spook.
Selfs dié wat gedink het hulle kan,
het gesê: "Liewer bang Jan as dooie Jan."

Vir ete was daar spookasem en suurmelk,
nagereg was gif in 'n kelk.
Geeneen wou eet van die brood,
want daaraan het hulle 'n broertjie dood.

Toe die donker die gees gee, en die lig word helder,
moes elkeen terug na sy eie grafkelder.
Selfs van die wat nie genoeg kon kry,
het daar geen sleepsel oorgebly.

Leandré Buys, Gr 6

Spoke

'n Minuut voor twaalf,
die huis is stil.
Ek weet vanaand gaan ek nog gil.
Die sekondes tik vinnig verby
Oupa se klok in die gang het twaalf gelui.

Hy's hier, ek kan hom ruik.
Dis oom Jan se tabakpyp.
Ek sien hom staan in die maanlig,
daar loop 'n traan oor sy gesig.

Sy Saartjie het nooit kom trou
sy geld was te min,
anders sou sy wou.
Alleen het oom Jan oud geword
sonder 'n vrou, kind of hond;
niemand erf oom Jan se grond.

Die bank verkoop die plaas oor skuld,
vreemdes hier kan die ouman nie duld.
Stadig kom hy nader.
My hart klop al hoe harder.
Sy kierie kap op die vloer.
My lyf verstyf,
ek kan net loer.

Die houtvloer kraak.
Ek wonder wat gaan hy nou maak.
Hy staan hier langs my bed,
ek hoop ouma sal my kan red.

Daar ver op die plaas
hoor ek 'n hond wat raas.
Oom Jan kyk op
en skud sy kop.
Hy sien dis ek
en nie sy Saartjie.
Hy kyk na die hek;
vryf liggies oor sy bokbaardjie.

My kamerdeur gaan oop
dis ouma wat hier inloop.
Haar gesig word bleek, want sy onthou die week
toe haar hart breek.

Oom Jan draai om
en vra waarom.
Sy sê in 'n sagte stem
haar pa was te streng
na haar tannie oorsee
het hy haar gestuur.
Daar het sy haar hand aan 'n ander gegee
maar haar hart was nog altyd by oom Jan hier.

Oupa is al jare dood
en ouma Saartjie het nog altyd die nood
om haar geliefde Jan Toerien
weer te sien.
Die plaas het sy gekoop
want sy weet dat oom Jan daar loop.
Oom Jan is weer bly
hy het sy Saartjie teruggekry.

Shadrean Brown, Graad 6

 

Terug na Versfabriek

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014