2001-06-01

werfjoernaal

werkplaas

 

14. Die kuns en skepping van 'n prenteboek

Voordat jy enigsins begin, doen 'n volledige ondersoek na die spesiale vereistes wat gestel word aan die verskillende ouderdomsvlakke en die verskillende soorte prenteboeke. Daarna sal alles wat jy benodig, bymekaar gebring word vir die afronding van jou werk: jou skryfstyl, tekste, beplanning van storie en tema, taalgebruik, trant en rigting van jou storie en tema.

Ons het alreeds gepraat dat prenteboeke geskryf word vir kinders, maar dat in gedagte gehou moet word dat dit oor die algemeen volwassenes is wat die boeke koop en dit vir die kinders gee of voorlees. Daar is 'n magdom redes hoekom 'n volwassene 'n prenteboek koop.

Onthou: prenteboeke moet dubbeldoelig geskryf word. Vir die plesier, maar ook om die kind op 'n subtiele manier te leer. Dit moet 'n aantrekkingskrag bevat vir die volwassene sowel as die kind. Hierdie boeke is die unieke kombinasie van kunstigheid en kundigheid op sy beste.

Jou navorsing

Lys al die verskillende redes onder mekaar waaraan jy kan dink hoekom 'n volwassene 'n prenteboek sal koop. Bewaar hierdie lysie, want aan die einde van die werkstuk gaan jy hierdie lysie weer benodig.

Lengte en spasiëring

Soos voorheen bespreek, maksimum van 32 bladsye. Dit is raadsaam om in gedagte te hou dat hierdie die voorblad, die kopieregte verklaringsblad en toewydingsblad insluit.

Voorblad: bevat jou titel, naam en voorblad prent. Kopieregte verklaringsblad: bevat die kopieregte bewoording wat jou beskermingsregte op jou werk is. Toewydingsblad: party keer word 'n boek toegewy aan 'n geliefde, kennis of instansie. Die kopieregte verklaringsblad en toewydingsblad kan gesamentlik op een bladsy verskyn.

Aandag moet geskenk word aan die uiteensetting of spasiëring van die boek. Jy moet besluit of jy die verhaal op 'n enkelblad wil begin. Of sal dit miskien meer effektief wees indien jy dit begin op twee bladsye wat teenoor mekaar staan? Hierdie konsep is bekend as die dubbelbladsy verspreidings tegniek.

Teen hierdie tyd het jy al menige keer vir jouself gesê dat jy 'n goeie storie wil skryf en nie tyd het vir al hierdie fieterjasies en tierlantyntjies nie. Feit is: dit is die beginpunt. Met al hierdie fieterjasies en tierlantyntjies tot nou toe, is jy nou reg om te begin met jou storie.

Ons gaan begin deur 'n "prenteboek te maak"

Hoe? Skryf jou storie en maak verskeie afskrifte daarvan. Vat 16 bladsye papier, opmekaar gestapel en vou hulle in die helfte. Nou het jy 'n losblad boek van 32 bladsye. Gebruik 'n skêr en sny die een afskrif van jou storie in verskeie episodes (gedagtes, insidente, tonele van die storie) en sit die woorde rofweg vas op die bladsye.

Jy wil eintlik nie meer as een episode op 'n bladsy plaas nie. Jy wil probeer om 'n egalige, stimulerende plasing en voorstelling van enkelblad sowel as dubbelblad sketse en woorde te kry. Jy kan dit dalk ook verkies om die teks op die een kant en sketse op die teenoorgestelde kant te plaas.

Daar is ook die gesamentlike enkelblad konsep waar die teks-episodes en sketse op dieselfde blad geplaas word. Hier kan die teks eerste geplaas word, met die sketse direk daaronder. Of die teks kan verdeel word in twee, drie of vier onderbrekings en die sketse tussenin kan gebruik word as 'n uitvloeisel van die teks. Nog 'n manier is eers die sketse, dan die teks.

Die gesamentlike dubbelblad konsep: die teks kan aan die een kant van die dubbelblad wees met die sketse op die teenoorgestelde kant. Of die teks kan verdeel word in twee onderskeie afdelings aan die een kant van die dubbelblad met die gepasde sketse vir elke teks op die teenoorgestelde kant.

Die algemene reël is dat dit die leser net so lank moet vat om die teks te lees soos wat dit hom sal vat om die sketse te bestudeer.

Jy kan nie teken nie? Ontspan en visualiseer.

Penteboeke is afhanklik is van sketse, prente, illustrasies, of foto's. Jy kan nie teken nie en ken ook nie 'n kunstenaar nie? Moenie bekommerd wees nie, daar is 'n eenvoudige oplossing. Uitgewers het gewoonlik 'n lys van name van kunstenaars wat hulle kan aanbeveel. Sommige uitgewers is selfs bereid om net die manuskrip en 'n rowwe aanduiding van die illustrasies wat jy in gedagte het, te aanvaar. Indien die manuskrip vir publikasie aanvaar word, sal hulle dan die nodige kunstenaars aanstel. (Soms verkies uitgewers dat 'n manuskrip sonder illustrasies voorgelê word.)

Net omdat jy nie vir die illustrasies of kunswerke kans sien nie, beteken nie dat jy nie bevoeg is om prenteboeke te skryf nie. Sien die verhaal in jou geestesoog en skryf die verhaal so dat wie dit ook al lees, dit ook kan visualiseer. Maak seker dat jou storie baie aksie, verandering van omgewing en lewendige karakters bevat. As die woorde jou uitlok om te wonder hoe die prentjie sal lyk, gaan dit dieselfde doen by die uitgewer en sal hy 'n tweede en derde keer na jou werk kyk.

Kry jou sketse, illustrasies, prentjies of foto's bymekaar. Ook hiervan moet jy verskeie afskrifte maak. Presies dieselfde werk verbonde aan die tekse is ook hier van toepassing. Die sketse, illustrasies, prentjies of foto's is tot die fynste besonderhede net so belangrik soos die woorde. Hiermee tesame skep jy nie net die beeld van 'n wonderwêreld vir die jong lesertjie, die ouer leser en die volwassene nie, maar dit moet ook so effektief wees dat dit die leser deel maak van hierdie wonderwêreld.

Gebruik 'n skêr en afskrifte om jou nabootsing van jou prenteboek te vorm en hervorm. Dit sal jy vele kere doen. Jy sal hier ook moontlik die nodigheid insien om van die teks-episodes te verander, of aan te pas. Of moontlik van die visuele prentjies wat skielik sal lyk asof dit nie meer so perfek pas by die teks nie. Oor en oor, totdat jy heeltemal tevrede is met die nabootsing van jou prenteboek.

Wanneer jy heeltemal tevrede is met die uitleg, teks-episode spasiëring, verhaal en die totale effek van die prenteboek, is dit tyd om dit weer van voor af netjies uiteen te sit. Hier gebruik jy jou tikmasjien, woordverwerker, of rekenaar en skandeerder. Netjies uiteengesit, elke bladsy presies soos jou nabootsing waaraan jy soveel tyd en aandag gewy het.

Werkstuk

Gaan terug na jou heel eerste navorsing in hierdie werkstuk. Vergelyk of jou werk aan hierdie ondersoek na die spesiale vereistes wat gestel word, en wat jy gedoen het, voldoen.

Die volgende navorsing wat jy moes gedoen het, het gehandel oor die opstel van 'n lysie oor hoekom jy dink 'n volwassene 'n prenteboek sal koop. Neem nou hierdie lysie en kyk in fynere besonderhede of jou werkstuk aan dié eise voldoen.

Hierdie werkstuk moet weer en weer gedoen word. Daar moet gestrewe word om, sover moontlik, aan elke punt te voldoen. Onthou die skep en deel van die wonderwêreld! Dit is van pas om deurentyd aanpassings en veranderinge te doen aan hierdie nagemaakte prenteboek.

Wanneer jy uiteindelik ten volle tevrede is met die resultaat, is dit tyd om hierdie prenteboek weer eens van voor af te doen. Netjies en presies. Laat ekstra spasie aan die kante sowel as by die onderpunt van die bladsy. Wanneer voltooid, plaas in 'n lêer en sit veilig eenkant. Jy sal op 'n latere stadium meer te wete kom oor hoe om te werk te gaan om jou prenteboek-manuskrip voor te berei vir voorlegging aan 'n uitgewer.

14
hierdie werkstuk
Die kuns en skepping van 'n prenteboek
1315

vorige werkstuk
Die verklarende en vertolkende dialoog

volgende werkstuk
Idees vir prenteboeke

 

 

 

 

 

 

Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos


STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes
Gebou en onderhou deur Franci Greyling

(C) Franci Greyling 2000-2005