2001-09-01

werfjoernaal

werkplaas

 

18. Karakters, dialoog en komplot in middegrade fiksie
Suksesvolle fiksie vir hierdie ouderdomsgroep word gesien deur die oë van die jong hoofkarakter. Dit beteken dat hierdie hoofkarakter deurentyd op die voorgrond is in die verhaal. Die leser ondervind die hele verhaal soos gesien deur die oë van hierdie karakter. Hier sal die leser die hoofkarakter se gedagtes en emosies leer ken en ervaar. Die enigste ondervinding van die ander karakters se emosies en gedagtes sal wees soos wat die hoofkarakter dit ondervind. Geen inbreuk mag gemaak word op die hoofkarakter nie.

Die verhaal mag in die eerste persoon vertel word. Hier word die "ek" gebruik word asof dit die karakter self is wat praat, of in die derde persoon. Selfs al word die verhaal in die derde persoon vertel, moet dit nog steeds gedoen word asof dit deur die oë van die hoofkarakter gesien word.

Beperk die gebruik van volwasse karakters tot die absolute minimum. In menige gevalle waar daar geroei en gestoei word met die skryf van fiksie vir die jonger leser, is my aanbeveling dat die skrywer die werk herskryf en die volwasse karakters uitlaat. Die hele verhaal word dan slegs op kinderkarakters gebaseer. Aan die einde moet die werk weer noukeurig deurgegaan word. Nou eers word die gekose minimum volwasse karakters ingebring. Op hierdie manier behou en bly die verhaal fiksie vir die jonger leser en op geen manier kan die volwasse karakter nou die verhaal oorneem of oordonder nie.

Dialoog

Fiksie vir die jonger leser bevat baie en betroubare dialoog - gesprekke wat vir die jonger leser byna werklikheid voorstel. Die gebruik van dialoog verryk fiksie en maak dit meer leesbaar. Die jonger leser verkies ook om die karakters in die storie te "hoor" praat. Dit roep die karakters in die lewe vir die jonger leser.

Van uiterste belang is dit dat die dialoog wat jy gebruik verband hou met die storie. In die werklike lewe praat mense oor alledaagse en selfs vervelige onderwerpe net om die gesprek aan die gang te sit of hou. Fiksie is nie dieselfde nie. Hier moet die dialoog in lyn wees met dit wat op daardie stadium aan die gebeur is in die komplot/storie. Dialoog moet ook help wees om die uitbeelding en rigting van die komplot te verskerp en 'n hupstoot te gee. Indien die dialoog die verhaal/komplot vertraag, verleng of selfs 'n vervelige wending gee, skrap dit onmiddellik en doen 'n ernstige hersiening van die werk.

Realistiese dialoog

Die dialoog wat in hierdie fiksie gebruik word, moet natuurlik wees. Om 'n goeie idee te vorm van die jonger leser se taalgebruik, sal die skrywer moet navorsing doen. Hierdie navorsing behels nie naslaanwerk in die biblioteek nie. 'n Eenvoudige en uiters doeltreffende metode is om met die jonger lesers te meng en hulle aan die gesels te kry - op hulle vlak. Spandeer baie tyd in die buurt se strate en parke en luister na die gesprekke wat jong mense met mekaar voer. Dit is aan te beveel dat jy 'n klein bandopname in jou sak dra en hierdie gesprekke opneem. In rustigheid kan jy dan later hierdie uitsonderlike taalgebruik bestudeer.

Uitsonderlik is dit. Hulle praat met 'n ritme eie aan hulle ouderdomsgroep. Selfs die handgebare wat hulle gebruik is eie, tog verskillend, en spreek boekdele. Liggaamstaal vorm ook 'n groot deel van die oortuigende dialoog en kan baie bruikbaar wees in die verhaal.

Net omdat jy op die kinderkarakters konsentreer, beteken nie dat jy die volwasse karakters moet vergeet nie. Dit gebeur dikwels dat die skrywer so hard konsentreer om die kinderkarakters volmaak te vorm, dat die volwasse karakters as styf en onnatuurlik uitgebeeld word. Dit vernietig al die harde werk en navorsing.

Maak seker dat die leser weet watter karakter aan die woord is. Aanduidings soos "hy het gesê" of "sy het gesê" is baie keer nie voldoende om die leser te herinner watter karakter nou eintlik aan die woord is nie. Dit is baie keer raadsaam om die karakter se naam te gebruik in die plek van die voorvoegsel.

Komplot en karakterontwikkeling

Die gesamentlike ontwikkeling van karakter en die uitbou en ontwikkel van die komplot kan 'n baie moeilike fase van die skryfproses wees. Jy wil 'n sterk, maar menslike hoofkarakter voorstel en ontwikkel. Hierdie karakter moet aan die begin van die verhaal wel ook 'n swakheid in sy karakter tentoonstel. Terselfdertyd moet jy keer dat jou leser juis oor hierdie swakheid nie van die karakter gaan hou nie, of die karakter selfs verstoot. Die doel is om jou leser so vas te vang met die bekendstelling van jou karakter, met al sy goeie, sterk sowel as swak punte, dat jou leser hom/haarself vereenselwig met jou karakter. Dit moet vir die leser voel asof hy/sy deel is van jou karakter!

Jy moet ook verseker dat jou hoofkarakter die een is wat die oplossings vind vir die probleme in die komplot. Die karakter is in beheer van die probleme - sowel as die oplossings. Hier is die versoeking altyd groot om na aan die einde 'n volwasse karakter in te bring - soos 'n onderwyser of ouer - om die probleme vir die karakter op te los en alles weer "reg" te maak. Weerstaan hierdie versoeking. Die volwasse karakter kan wel aan die einde se kant weer eens ingebring word, maar die groei en ontwikkeling van die karakter moet eie aan die hoofkarakter wees en bly.

Dit help om die fiksie waaraan jy werk te beskou as verskeie opeenvolgende hoofstukke. Hierdie hoofstukke bevat elkeen dan ook drie hoofdele: begin, middel en einde. Elke hoofstuk moet die karakter ook voller maak - meer laat groei. Driekwart deur die komplot is daar gewoonlik 'n krisis of twee wat dit moet laat voorkom asof die karakter nooit 'n oplossing vir die probleme gaan vind nie. Die doel hiervan is om by die leser 'n gevoel van spanning te laat ontwikkel oor die karakter se situasie en stryd om oplossings te vind. Hierdie is 'n baie effektiewe metode om afwagting te skep en jou leser se aandag te behou.

Hoe begin mens met 'n komplot?

Begin deur aan jou karakter te dink en wat hy of sy wil hê of bereik. Miskien is hierdie karakter 'n jong seun wat baie graag 'n perd wil besit. Vra jouself waarom jou hoofkarakter dan nou juis 'n perd wil besit. Wat wil hy doen, wat probeer hy bereik? Miskien het sy oupa so 'n perd gehad en was bekend as een van die beste ruiters. Nou wil jou hoofkarakter dalk probeer om in die oupa se voetspore te volg of selfs beter te wees.

Wat kan gebeur dat jou hoofkarakter nie die perd kan kry nie? Wat is die redes daarvoor? Miskien het die familie nie genoeg geld nie, miskien is daar nie 'n plek om die perd aan te hou en versorg nie? Met die verloop van die verhaal en komplot woel en werskaf die hoofkarakter om die struikelblokke te oorkom en die perd te kry, want sonder 'n perd kan hy nie dit doen wat sy oupa gedoen het. Of die hoofkarakter die perd ten einde kry al dan nie, is nie belangrik vir die karakterontwikkeling nie. Wat die hoofkarakter wel wil bereik is om net so 'n goeie en bekende ruiter soos die oupa te wees, indien nie beter nie - ongeag of dit nou met sy eie perd is of iemand anders se perd. Hy wil hart en siel probeer om hierdie droom te verwesenlik. Jy, as skrywer, is hier in beheer van die wending van die verhaal. Die hoofkarakter kan sy droom verwesenlik met of sonder 'n perd van sy eie. Dit hang van jou af in watter rigting hierdie verhaal vloei.

e.t.

18
hierdie werkstuk
Karakters, dialoog en komplot in middegrade fiksie
1719

vorige werkstuk
Fiksie vir die jonger leser

volgende werkstuk
Harry Potter en 'n les of twee

 

 

 

 

 

 

Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos


STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes
Gebou en onderhou deur Franci Greyling

(C) Franci Greyling 2000-2005