2001-04-16

werfjoernaal

werkplaas

 

6. Verskillende kinderboeke - prenteboeke

Onthou, dit is oor die algemeen volwassenes wat die boeke kies en koop. Hulle besluite berus op aanbevelings deur 'n winkeleienaar, biblioteek, onderwyser, vriend of net omdat hulle van die prentjies hou, 'n spesiale onderwerp soek of eenvoudig net om een of ander gebeurtenis te herdenk, bv. verjaardag, vakansie…

Hou in gedagte dat volwassenes en kinders oor die algemeen saam aan prenteboeke lees. Die storie moet dus ook 'n 'ingeboude' aantrekkingskrag besit vir die volwassene - al is dit slegs in 'n mate 'n herinnering aan sy eie kinderdae, 'n tikkie sentiment of 'n titseltjie aanraking aan moraliteit.

Dit is die storie in totaal - nie die individuele woorde wat miskien tog 'n bietjie gesofistikeerd kan wees - wat die deurslag moet gee en vir die kind aanvaarbaar en verstaanbaar moet wees. Hierdie konsep sal meer verstaanbaar wees as dit in twee gedeel word: Eerstens moet die storie beginsels bevat wat die volwassene sal aantrek en tweedens moet dit beginsels bevat wat die jong lesertjie sal aantrek. Ideaal moet hierdie twee só bymekaar gebring en gemeng word dat nie die volwassene of die jong lesertjie die onderskeid sal agterkom nie.

Prenteboeke as leerstof: Onderwysers en bibliotekaresses moet nie as tweederangse lesers van prenteboeke beskou word nie. Die gebruik van prenteboeke vir opleiding in skole en kleuterskole word die afgelope jare sterk aanbeveel. Waar moontlik is skole en openbare biblioteke besig om 'n uitgebreide afdeling van verskeidenheid prenteboeke te bou. Aan te beveel is prenteboeke wat leerstof subtiel oordra. Die geheim…subtiel. Prenteboeke moet sagkens leersaam wees, sonder dat dit is asof die volwasse of jong leser met 'n hamer oor die kop geslaan word oor die morele reg en verkeerd of 'n vrag informasie.

Prenteboeke is die unieke kombinasie tussen die kunstige prent en gesoute woord - hierdie skryfstyl verlang dat gekonsentreerde aandag geskenk moet word aan die storie, taal, die 'stem' van die verhaal en die sketse. Elke greintjie besonderheid van die prenteboek is van uiterste belang.

Humor - die lekker lag

Die eerste leesstof vir kinders was meer didakties as lagsaam, leersaam en ontspannend. Die boeke was ingestel op die volwassene skrywer se siening oor hóé volwassenes die kinderlewe sien en verkies. Dit was uit en uit bedoel om die kind op 'n skerp manier te leer sowel as morele lesse te bied. Lewis Carroll se Alice's Adventures In Wonderland wat in 1865 gepubliseer is, is bv. uitgekryt as 'nonsens' en 'onaanvaarbaar' vir kinders.

Die siening van uitgewers, ouers en onderwysers het die afgelope jare verander. Humor speel 'n baie belangrike rol speel in die leesstof van jong lesers. Die jare het bewys dat boeke kinders en jong mense leer om te droom, te dink en te lag sonder dat daar 'n pertinente les op elke bladsy moet wees.

Kindersielkundiges deel humor in vier algemene afdelings: fisiese humor - om te lag; 'n situasie se humor raak te sien; die humor wat te vind is in die gebruik van woorde en die humor van 'n karakter. Die eerste twee afdelings is minder gesofistikeerd as die laaste twee. Al vier afdelings kan suksesvol in kinderboeke vir alle ouderdomsgroepe gebruik word. Die suksesvolste kinderboeke vat die lesertjie deur al die trappe van lag.

Fisiese humor kan enigiets wees vanaf hansworstery en dolle klug vir jong lesers (soos 'n lomp eend of hasie of bysiende skilpad) of 'n karakter wat buitensporig aantrek vir die middegrade of jong volwasse leser. Die ouer leser verkies 'n meer verbale of denkende humorstyl. Humor in situasie-beskrywing mag blatant duidelik wees. Humoristiese uitbeelding vir die ouer kind kan nader aan die werklike lewe wees en gebaseer word op eie ondervindinge.

Humor waarby die speling van woorde betrokke is, oorbrug ouderdomsfases. Die lag kan wees in die eerste rympies vir die jongstes, die uitklophou vir die 7-10-jarige ouderdomsgroep, die makietie van die 10-14-jariges, of in die sinspeling vir die jong volwassene.

Die humor en lag in die karakter self is een van die moeilikste vorms van humor wat die skrywer moet ontwikkel. Onthou, die jong leser hou daarvan om 'ouer as die karakter te voel'. Die lesertjie wil verlig wees dat hy ouer geword het as die karakter wat 'n jonger weergawe van homself voorstel. Die humoristiese karaktertjies in die boeke se handelinge en optredes is gewoonlik van so 'n aard wat onaanvaarbaar is in die werklike lewe.

Wenk

Nie alle volwassenes kan presies onthou wat hulle as snaaks en lagwekkend gevind het as kind nie. Die beste is om navorsing te doen. Luister na die jong mense en kindertjies as hulle met mekaar praat en gesels. Onthou hulle gesig en woordelikse uitdrukkings. Maak notas van hulle sê-goed, die manier van sê en gesels. Verwyl tyd in die parkie of speelgroep. Vra 'n onderwyseres of jy 'n dag of drie in haar klas kan deurbring as toeskouer. Maak bandopnames van kinders sonder dat hulle dit agterkom. As jy dit openlik gaan doen sal die kinders teruggetrokke raak en nie natuurlik reageer, praat en handel nie. Vra die bibliotekaresse watter boeke word die meeste deur die jong lesers uitgeneem en lees dit. Wanneer jy twyfel, maak die humor van jou boek eerder 'n bietjie meer gekompliseerd as meer eenvoudig. Die jong leser se sin vir humor ontwikkel baie vinniger as wat die volwassene hom eer voor gee. 'n Twaalfjarige leser sal dit as uitermate beledigend beskou as sy leesstof deurtrek is met klop-klop grappe.

Humor beteken lag. Lag beteken plesier en geniet. 'n Boek daarsonder sal nie waardeer word nie.

Bly onsigbaar

Onthou:- Jy, die skrywer moet ten alle tye onsigbaar bly sodat jou leser homself in jou storie kan verdiep en deel word daarvan.

Jy kan die leser vertel en wys wat gelyktydig op verskeie plekke gebeur, maar onthou dat jy nie met hierdie metode ná aan enige van jou karakters gaan kom of hulle gedagtes sal kan lees nie. Hierdie is 'n goeie manier om 'n hoofstuk te begin en die opening van 'n toneel só oombliklik vas te vang. Maar ná die eerste twee paragrawe moet jy uitswaai na die siening en storie wat om jou hoofkarakter draai.

Die hele verhaal van die boek kan nie alwetend voorgestel word nie. Dit sal verhoed dat die leser met enige van die karakters kan vereenselwig of sal kan agterkom wie nou eintlik die hoofkarakter in jou verhaal is.

Oor die algemeen bevat prenteboeke een hoofkaraktertjie, maar jong volwassene fiksie kan tot drie hoofkarakters bevat, elkeen in beheer van sy eie beeld, siening en storie. Hier is dit aan te beveel dat elkeen sy eie hoofstuk verdien. Hierdie proses is moeilik om toe te pas in die prenteboeke en leesstof vir die jongere leser, tensy elke karaktertjie 'n verskillende rol in die storie speel en jy 'n uitstekende skrywer is om hierdie karakters van mekaar te skei, dog bymekaar te hou in 'n gesamentlike konsep
.

e.t.

6
hierdie werkstuk
Verskillende kinderboeke - prenteboeke
57

vorige werkstuk
Die spilpunte van fiksie

volgende werkstuk
Werk met oorsprong en effektief

 

 

 

 

 

 

Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos


STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes
Gebou en onderhou deur Franci Greyling

(C) Franci Greyling 2000-2005