2001-05-01

werfjoernaal

werkplaas

 

8. Toonaansetting in 'n verhaal
Die vier belangrikste punte om die verhaalrigting of toonaansetting in die lewe te roep:

Die spreekwoord lui: "die duiwel is listig". Veral in die werk van 'n skrywer. Te min besonderhede veroorsaak dat die karakters dwalend deur die relaas van 'n leë verhoog van jou storie wandel. Met 'n oormaat van besonderhede kan jy in die slaggat trap van die opeenhoping van hooggestapelde beskrywingsblokke wat jou leser gaan aanpor om hierdie gedeeltes oor te slaan in sy soektog na die aksie in die verhaal.

Deur die geskikste, duidelikste, helderste en skitterendste besonderhede te gebruik as basis; die fondasie van jou boek; is een van die belangrikste punte om die toonaansetting van jou storie in die lewe te roep. Dit is belangrik om hierdie besonderhede so te presenteer dat dit die leser se aandag sal trek en behou. Die volgende vier tegnieke sal help.

a) Die bekendstelling van toonaansetting van jou verhaal deur beweging van woorde

Jou beskrywing moet oopvou soos wat jou karakter deur die tonele beweeg. In jou geestesoog moet jy saam met jou karakter beweeg en sien wat hy eerste opmerk, al registreer dit miskien tydsaam. Beskryf hierdie ondervindinge van jou karakter met kort, ineengevlegde beskrywings.

'n Goeie voorbeeld is Alice in die Sprokieswoud. Sy het met die intrapslag verskeie emosies ondervind, en vir die eerste keer verskillende wonderlike dinge binne 'n oogwink aanskou. Die beskrywings is so lewendig en duidelik dat die leser se verbeelding selfs die wondermooie blomme kan ruik!

Maak gebruik van aktiewe beskrywings om die toonaansetting aan te dui. Alice kon nie net die blommetjies ruik nie, maar het tussen die blomme deur gehardloop en hulle teen haar vel gevoel.
Hierdie beskrywing bring die leser in kontak met die karakter en vermy verveeldheid by die leser.

b) die bekendstelling van toonaansetting deur die karakter se ondervinding

Wat jou karakter sien is dit wat jou karakter van kennis dra. Dit is belangrik hoe jy as skrywer hierdie kennis gaan oordra aan jou leser. Jy kan byvoorbeeld beskryf dat Alice se ouers haar vertel het van die blomme en diere in die sprokieswoud, of dat sy hiervan by iemand anders gehoor het. Onthou dat elke karakter in jou verhaal sy eie siening het omtrent 'n onderwerp.

Dit is soos om, gesien uit die oogpunt van 'n visserman, 'n kuslyn en die druisende see voor te stel. Hy sal binne 'n oogwenk alles inneem, vanaf die golwende branders en bewolkte lug tot die gevoel dat die wind draai. Hy sal boonop nog seker kan voorspel wat die dag van môre se weer inhou…

Net so belangrik sal ook die beskrywing wees van die fynere dingetjies wat hy miskien nie opmerk nie. Uit gewoonte vir die omgewing sal hy miskien min aandag skenk aan die verrotte bamboes wat uitgespoel lê op die strand. Hy sal miskien nie eers die wonderlike vorms van die rots wat met laagwater uitsteek opmerk nie. Nog minder sal hy die byt van die snerpende windjie voel waar hy tussen die uitgespoelde, stinkende bamboes staan en fronsend staar oor die water.
Nou kan jy jou indink hoe 'n jongman vanuit die stad sal voel, wat hy sal sien, in presies dieselfde posisie.

Dit is hoekom elke karakter sy eie siening, denkwyse en reaksie het. So ook sal elkeen sy eie uitbeelding onder presies dieselfde omstandighede weergee, afhangende van die karakter se ondervinding en kennis.

c) die bekendstelling van toonaansetting van die stemming en bui van die karakter

Wat ons voel beïnvloed dit wat ons sien. Dieselfde geld vir die karakters in jou verhaal. Om 'n toneel te filtreer deur die gevoelens wat jou karakter ondervind sal 'n groot invloed hê op dit wat jou leser "sien" in die verhaal. Alice het al hierdie wonderlike dinge en diere in die Sprokieswoud gesien. Sy kon haarself nie keer of verhoed om alles te ondersoek en die diertjies te volg nie. Die versoeking was vir hierdie karaktertjie onkeerbaar. Dit het haar weggevoer in 'n wêreld van geluksaligheid en wonderskone prag.

'n Baie mooi prentjie. Maar wat as Alice miskien in 'n ander stemming of bui was in hierdie Sprokieswoud? Wat as haar eerste ondervinding miskien was om deur 'n by raakgesteek te word? Of miskien 'n kwaai beer teëgekom het wat haar aangeval het? Wat as sy miskien hart en siel verpes het om in so 'n situasie te wees? Jou leser sal alles behalwe plesier vind in die lees van so 'n tipe Sprokieswoud verhaal!

d) die bekendstelling van toonaansetting deur sintuie, gevoel en gewaarwordinge

'n Jongman van die stad af se sintuie sal sy gewaarwordinge van die see en strand beïnvloed. Die visserman sal nie eers agterkom dat die windjie snerpend koud waai nie, maar die jong man van die stad af sal bewe van die koue in sy stadspak. Die visserman sal nie die stinkende reuk van die verrotte bamboes opmerk nie, sy neus is gewoond aan die reuk. Die stadsmannetjie sal voel hoe sy maag draai wanneer hy dit vir die eerste keer ruik.

'n Verskeidenheid van sintuig-insettinge ontsluit verskillende reaksies by elke karakter. Waarnemingsvermoë is belangrik: ons neem besluite en reageer op dit wat ons sien. Wanneer 'n toneel beskryf word, "sien" die leser dit wat die skrywer wil hê hy moet sien en wat woordeliks uitgebeeld word. Die skrywer raak die leser se intellek, sy denkvermoë, direk aan.

Wat ons hoor het weer 'n direkte invloed op emosies. Dink maar aan hoe jy voel wanneer jy die musiek waarvan jy hou hoor, of die stem van 'n geliefde. Die stemtoon wat jy hoor is 'n duidelike uitbeelding van die bui of stemming waarin die mens is met wie jy praat, ongeag die woorde wat daardie persoon uiter. Die gevoel en waarwordinge van dit wat jy hoor of ondervind kan jou laat sidder, rondspring of ontspan en laat lag. Die toonaansetting of uitleg van 'n toneel wat hierdie gevoelens en gewaarwordinge bevat sal emosionele reaksies by die leser ontwikkel en verkry.

Reuk roep herinneringe op. Nie almal word teruggevoer na hulle kinderdae deur die beskrywing van die reuk van varsgebakte brood nie, maar almal het een of ander herinnering wat deur tonele gekielie word. Dink aan die reuk van 'n parfuum, of die binnekant van 'n motor, of die reuk van 'n nat hond, of blomme, of die grond na reën. Beskryf hierdie tonele effektief en jou leser is daar.

Voel. Om te kan voel is 'n primêre sensoriese reaksie. Oortuig jou leser dat hy kan voel hoe sag is die hasie se pels, hoe koud is die water wat oor sy voete spoel, of die snoesige hitte van die karakter se jas in die ysige koue.

Ten laaste is daar smaak. Ook hier is herinneringe die algemene reaksie op die voorstelling van die gebruik van hierdie sintuig. Om die leser te oortuig van smaak is seker een van die moeilikste toonaansettinge. Meestal hoort hierdie oortuiging nie in die storie nie. Soos in die werklikheid self moet "smaak" voorstellinge spaarsaam en absoluut op tyd gebruik word.

Die doel van beskrywing is om 'n goed deurdagte fondasie te gooi wat die perfekte basis vorm vir die boustene van die karakters. Hierdie fondasie is blywend deel van die agtergrond sonder dat dit met die verhaal inmeng of oorneem.

In die werklike lewe het ons ondervindinge en maak ons ontdekkinge van ons omgewing en die mense met wie ons in aanraking kom deur die onbewustelike gebruik van ons sintuie. Ons verstaan en dikwels misverstaan hierdie reaksies. Daarby is ons onafhanklik van ons ondervinding en kennis en reageer ons daarop met emosies. As jy jou karakters op hierdie manier aan jou lesers kan voorstel sal jou lesers ongetwyfeld met oorgawe tot die laaste woord lees.

e.t.

8
hierdie werkstuk
Toonaansetting in 'n verhaal
79

vorige werkstuk
Werk met oorpsrong en effektief

volgende werkstuk
Die bou van karakter

 

 

 

 

 

Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos


STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes
Gebou en onderhou deur Franci Greyling

(C) Franci Greyling 2000-2005