2016-10

jongklomp
haasbekkies


Diep in die donker woud
Tehilla Joubert
Deel 1

Het jy al agtergekom dat daar altyd 'n sokkie in jou kas is wat nie 'n maatjie het nie? Dis nie die wasmasjien wat dit opeet, of jou maatjie wat dit steel nie, nee… Daar gebeur iets baie meer wonderbaarliks daarmee as dit. Jy mag my dalk nie glo nie, maar ek het dit met my eie oë gesien! Wag, laat ek jou eers vertel…

Het jy al agtergekom dat daar altyd 'n sokkie in jou kas is wat nie 'n maatjie het nie? Dis nie die wasmasjien wat dit opeet, of jou maatjie wat dit steel nie, nee… Daar gebeur iets baie meer wonderbaarliks daarmee as dit. Jy mag my dalk nie glo nie, maar ek het dit met my eie oë gesien! Wag, laat ek jou eers vertel…

Ek het reggemaak vir skool soos enige ander oggend.

“Karlie! Karliiieee!”

“Ek kom Mamma!”

Waar is my simpel sokkie? Ek het hom nog gisteraand gesien en nou is hy weg! Waar kan hy wees..?

“Karlie kom nou! Jy is baie laat! Jy sal nou skool toe moet hardloop!” roep my ma van die kombuis uit.

“Ek kom, ek kom!”

Vinnig hardloop ek by die voordeur uit.

“Watter sokkies het jy dan aan..?” vra my ma soos ek by die deur uitvlieg, maar ek kry nie kans om haar te antwoord nie. My onderwysers moet maar net verstaan dat ek vandag pienk blommetjie sokkies moet dra.

My tas en my poniestert wip op en af soos ek hardloop, af met die straat en verby die woud.

Op pad skool toe stap ek altyd verby 'n woud, 'n woud wat my ma altyd sê ek moet van wegbly, want daar’s gevaarlike goed daar binne. Watter gevaarlike goed weet ek nie rêrig nie, maar sy sê dit so kwaai dat ek liewers daar uitbly.

Ek hardloop so vinnig verby die woud dat ek nie eers die boomwortel sien uitsteek in die pad nie. Karplaks! Val ek gesig eerste op die grond.

Maar… reg voor my neus, lê 'n sokkie! Maar nie sommer enige sokkie nie, dis my sokkie! Die een wat ek vanoggend gesoek het! Hoe op aarde het hy hier gekom? Ek staan op, skud my rok reg, en tel hom op.

Soos ek opkyk sien ek nog 'n sokkie, en nog een, en nog een! Ek sien 'n sokkie van my ma, 'n sokkie van my pa, een lang kous van my broer, en my ouma se sykous. Verder is daar nog baie sokkies wat in 'n ry weg verdwyn verder in die woud in. Dis ander mense se sokkies daardie. Hoekom lê die buurt se sokkies in die woud? Dit lyk asof dit na êrens heen lei. Verder in die diep, donker, gevaarlike woud in…

Ek kyk rondom my om te sien of iemand daar is, en daar is nie. Dalk kan ek vinnig gaan kyk waarnatoe lei toe sokkies? Almal sal nogal bly wees om hulle sokkies weer te sien. Veral Ouma Santie. Sy kla omtrent elke dag van haar sykous wat weg is.

Stadig vat ek 'n tree vorentoe, en toe nog een. Toe ek weer sien hardloop ek vêr in die woud in agter die sokkies aan wat my al hoe dieper en dieper in die woud in lei. My tas wip so op en af op my rug soos ek hardloop en my skoolskoene raak vol grond. Die woud is dan so mooi! Hoe kan so gevaarlik plek vol blommetjies en paddastoele wees?

Ewe skielik hou die lang ry sokkies op. Hoe kan dit net so ophou? Ek kyk agter my.

Daar lê nie 'n enkele sokkie agter my nie… Maar daar is voetspore?

Die sokkie wat ek nou net gesien het is weg. Wat gaan aan..? Ek hoor 'n geritsel in die bosse langs my en ewe skielik besef ek ek is in die middel van die diep gevaarlike bos! En ek kan nie uit nie! Wat sal almal dink as hulle uitvind ek is gevang met sokkies??

Daar is 'n gefluister rondom my, en daar is takkies wat verweg kraak.

Wat moet ek doen, wat moet ek doen?!

Onder my voete voel ek iets beweeg en ewe skielik maak die grond onder my oop en sluk my in!

AAAAAHHHHHHHH!!!

 

vervolg
deel 2

Die storie is geskryf deur Tehillah Joubert. Tehillah is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
Kopiereg Tehillah Joubert

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016