2017-08

jongklomp
haasbekkies


Essie se ongewone oor
Lisa Boonzaaier
Deel 1

essie

Essie kyk uit oor die veld wat uitgestrek voor haar lê. Soos sy kyk, soek sy haar ma tussen die kraalbosse, maar sy kan haar nêrens sien nie. In die brandende son, gooi haar een skewe oor so bietjie skaduwee oor haar pienk gebrande snoet. Die granietklip waarop sy staan begin om haar voete te brand en sy besluit om ʼn draffie terug na hul holte te vat. Die holte is nie veel om oor te praat nie, maar dit is hulle huis. Die fyn sand is gemaklik genoeg en dit hou hulle droog. Soos sy in die uitgetrapte paadjie af huppel, probeer sy om in die spore van die groter erdvarke te trap, maar haar pootjies is nog te klein en sy trap die helfte mis.

    “Essie!” hoor sy haar ma roep. Sy vergeet dadelik van die groter erdvarke se spore en hardloop in die rigting van haar ma se stem. Haar ma staan en wag vir haar in die opening van hul holte met ʼn breë glimlag. Haar pels is stekelrig en haar oë al dof. Die veld is al so droog van die onuithoubare hitte, en dit veroorsaak dat die kos maar min is. Voor haar ma se pote is twee bobbejaanvoetblare waarop daar ʼn paar uintjiewortels lê. Sy gaan sit langs haar ma en kyk na die wortels.

    “Dink Mamma die rysmiere sal weer terugkom?” vra Essie haar ma met ʼn stem vol hoop.

    “As die reën kom, sal die rysmiere ook kom, my Essie,” sê Snoetsie sag. Sy weet dat die son nog lank gaan brand, maar sy wil nie Essie se hoop wegvat nie. Hulle val weg met die uintjie wortels, en dis skaars ʼn paar sekondes en die wortels is als op. Essie lek haar lippe met smaak af. Vandag het die wortels lekkerder gesmaak as gewoonlik, miskien is dit net omdat sy so honger was.

 

Na middagete gaan vat haar ma ʼn middagslapie. Sy is gedaan van die hitte en sê vir Essie om met die ander klein erdvarkies in die riviersand te gaan speel. Ongelukkig is Essie nie baie bly om dit te hoor nie. Sy gee ʼn diep sug en gaan sit onder die taaibos langs die holte se gat. Die ander erdvarkies verstaan haar nie. Hulle sê dat sy nie ʼn regte erdvark is nie omdat haar oor nie soos ʼn regte erdvark s’n lyk nie. Hulle kyk altyd so snaaks na haar, en elke keer as sy saam met hulle wil speel, dan beweeg hulle na die ander kant van die rivierbank. Tog besluit sy om gehoorsaam aan haar ma te wees. Sy kry uiteindelik haar moed bymekaar en loop so stadig as wat sy kan in die rigting van die rivierbank.

 

vervolg
deel 2

Die storie is geskryf deur Lisa Boonzaaier. Lisai is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2017.
Illustrasies deur Bob Gardiner.
Kopiereg Lisa Boonzaaier

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016