2013-05

jongklomp
haasbekkies


Flikkerende skerms
Enzlia Oosthuizen
Deel 1
 

DIE NUUTSTE EN KOELSTE SWARTBESSIE
IS VANDAG HIER TE KOOP!

 

Vandag is die dag wat Frankie se skerm vir die eerste keer gaan wys dat hy laai. Sy nuwe baas is spoedig op pad na Game in Benoni.

“Kom, mamma! Die nuwe ‘Blackberries’ gaan uitverkoop!” sê Reghardt opgewonde.
“Daar is meer as 'n duisend te koop, my seun, kalmeer.”
Reghardt se lip tref die vloer byna dadelik. Hy wil só graag sy eerste foon in sy hande vashou. Volgens hom is dit al lankal tyd dat hy 'n foon kry, hy is immers al elf jaar oud.

Frankie is net so ongeduldig soos Reghardt.
“Hoe lank moet ek nog wag? Waar is my nuwe meester? My rug voel só leeg sonder dáárdie betowerende ‘Blackberry’ battery!”
Frankie is die nuutste Swartbessie op die mark, maar hy het 'n moeilike vervaardiging gehad. Sy mamma en pappa was die 8520 maak en hulle is oud verklaar. Om oud verklaar te word is die grootste vernedering in die wêreld van selfone. Frankie se pappa kon nie die seer hanteer nie en toe kraak sy skerm. Al die nuwe selfone se pappa’s is gewoonlik daar om hul nuut gebore tegnologie te help, maar Frankie moes die hele proses alleen deurmaak omdat sy pappa nie meer kon sien nie.

'n Blou sportskar stop voor Game. Reghardt spring uit die kar en hardloop teen 'n stinkspoed by die winkel se bewegende deure in.
“Wag, seun!” skree sy ma verniet want Reghardt is al by Vodacom se afdeling.
Na vyf minute se wag, wat vir Reghardt soos vyf ure voel, kom sy ma ook by die toonbank aangestap.
“Watter foon is dit presies, stouter?”
Reghardt wys na die glaskas waarin Frankie uitgestal is.

Frankie word wakker toe hy voel hoe hy opgetel word. Is dit 'n droom? wonder hy.
Skielik word alles swart voor hom en hy word in 'n vierkantige voorwerp gebêre.

vervolg

Die storie is geskryf deur Enzlia Oosthuizen. Enzlia is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.
Kopiereg Enzlia Oosthuizen.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2013