2014-02

jongklomp
haasbekkies


Katryn se geheime avontuur
Jana Snyman
Deel 1

“Ka-doef!”

Die stilte word verbreek deur Katryn wat vinnig in die gang af hardloop met haar ma kort op haar hakke. Katryn se parmantige bokstertjies wip op en af en haar sproetgesiggie kyk bang op na haar ma.

“Ek is baie jammer, Mamma,” pleit Katryn. “Ek sal dit nooit weer doen nie. Belowe!”

“Katarina, ek het jou al hoeveel keer gewaarsku om nie in die kombuis te kom speel as ek daar besig is nie, en kyk nou, daar laat val jy die koek vir vanaand se funksie.”

Katryn weet dat haar ma baie naby aan trane is en dat haar pa se hele loopbaan van vanaand se funksie afhang.

“Maar, Mamma,” bepleit Katryn haar saak. “Dis nie my skuld nie.” Sy huil amper.

“Nie? Nou wie se skuld is dit dan?”

Katryn soek vinnig vir 'n antwoord terwyl sy met haar toon in die sagte mat boor. “Dit was... dit was Wagter se skuld! Hy het vir my gesê hy is honger en dat hy net 'n klein happie van die koek wil hê.”

Arme Wagter lê onskuldig in sy hondehok terwyl hy die petalje aanskou.

“Dis genoeg, Katryn,” sê haar ma moedeloos. “Gaan speel eerder buite.”

Stadig stap Katryn na buite. “Sien jy nou, Wagter, hulle is liewer vir jou as vir my,” fluister Katryn terwyl die trane een vir een oor haar wange rol. Arme Wagter klap maar net sy oë toe en begin verder snork.

“Dis reg!” skreeu Katryn. “As hulle my nie wil hê nie, dan... dan loop ek sommer weg!”

vervolg

Die storie is geskryf deur Jana Snyman. Jana is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2013.
Kopiereg Jana Snyman.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014