2014-06

jongklomp
haasbekkies


Die avonture van Lolla
Riëtte Bester
Deel 1 - Lolla se lekker dag

lolla

“Lolla! Lolla!” roep Dokter Wilna. “Waar is jy, jou karnallie?”
lynLolla se bruin ogies blink en haar stertjie swaai. Sy kruip weg vir Dokter Wilna. Dis wat hulle elke oggend doen voor Dokter Wilna na die groot hospitaal toe gaan waar sy werk – hulle speel wegkruipertjie. Wel, eintlik is dit altyd Lolla wat wegkruip en Dokter Wilna wat moet soek, maar Dokter Wilna gee nie om nie.

lolla wegkruip

Lolla is mal oor wegkruipertjie speel. Sy hou die héél meeste daarvan as Dokter Wilna haar kry. Dan draai Dokter Wilna vir Lolla op haar rug en kielie haar pensie. Lolla se ogies val sommer toe van lekkerkry.
lynLolla en Dokter Wilna bly in ‘n meenthuis aan die rand van die groot stad. Partykeer tel Dokter Wilna vir Lolla bo-op die tuinmuur. Dan kan sy baie ver sien. Aan haar linkerkant kan sy die ander meenthuise in die ry sien. Aan die regterkant is daar ‘n veld met baie bome, lang gras en ‘n stroompie. Partykeer hoor Lolla tarentale in die veld. Sy en Dokter Wilna kan nie in die veld gaan stap nie, want daar is nie ‘n paadjie nie en die gras is te lank vir ‘n klein worshondjie soos Lolla om deur te beur.
lynWanneer Dokter Wilna gaan werk, bly Lolla alleen by die huis. Lolla gee nie om nie – buite op die stoep staan Lolla se groen igloe-hok. Lolla hou baie van haar hok: binne-in is ‘n groot, sagte kussing en ‘n lekker warm kombers. Haar gunsteling speelding, ‘n koei-pop, is ook in haar hok.
lyn“Lolla,” sê Dokter Wilna een oggend, “vandag gaan ‘n baie lekker dag wees. Vandag gaan jy nie alleen wees nie. Van vandag af gaan Christina by ons kom werk.”

lolla christina

Christina is ‘n vrolike, vet vrou wat sing terwyl sy werk. Lolla hou baie van haar: sy loop soos ‘n stertjie al agter Christina aan. Toe haar werk klaar is, maak Christina vir haar middagete.
lyn“Kom, Lolla,” sê sy, “kom ons gaan sit in die sonnetjie.” Lolla en Christina gaan sit op die trappie by die deur. Christina sit met haar bene lankuit in die son terwyl sy eet. Kort-kort laat  val sy ‘n stukkie kos vir Lolla. Dis heerlik!
lyn“Lolla,” sê Christina, “ons moet winkel toe gaan om te gaan melk koop.” Sy en Lolla stap na die winkel op die hoek. By die winkel se deur is ‘n bord wat sê:

lolla geen honde

vervolg

Die storie is geskryf deur Riëtte Bester. Riëtte is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2014.
Kopiereg teks en illustrasies Riëtte Bester.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2014