2016-03

jongklomp
haasbekkies


Die avonture van Lolla
Riëtte Bester
Deel 1 - Lolla gaan see toe

lolla

“Lolla! Lolla!” roep Dokter Wilna na die worshondjie terwyl hulle wegkruipertjie speel, “Waar is jy?”
lynDokter Wilna gewaar ’n swaaiende stertjie wat agter die bank uitsteek. Sy kruip stadig nader en woerts gryp sy rats vir Lolla agter die bank uit en begin haar magie te kielie. Lolla geniet díe aandag sommer baie, al het Dokter Wilna haar wegkruipplek so vinnig gevind.

lolla see

lyn“Kyk net die tyd! Ons sal moet wikkel, Lolla, as ons voor donker by die see wil wees,” sê Dokter Wilna toe sy op haar horlosie kyk. Sy skarrel weg om al die bagasie in die motor te laai terwyl Lolla opgewonde agterna draf.
lyn“Nou toe, Lolla, is jy reg om te gaan?” sê-vra Dokter Wilna toe die motor klaar gepak is en sy seker gemaak het dat hulle niks vergeet nie. Lolla gee ’n blaf om Dokter Wilna te antwoord. Haar hele lyfie bewe van plesier by die gedagte dat sy vir die heel eerste keer see toe gaan gaan. Sy kan nie wag om op die warm sand in die sonnetjie te lê en bak nie, en natuurlik om in die see te swem!
lynDie rit is lank van hul huis in die stad na die see, maar Lolla gee nie om nie: Dokter Wilna draai die venster oop sodat sy haar kop by die ruit kan uitsteek as sy op haar agterbeentjies staan. Dis pure plesier vir die klein brakkie; haar tong hang uit en haar ore wapper in die wind. Lolla verkyk haar aan die veranderende landskappe waardeur hulle ry. Dis so anders as die stad. Daar is oop grasvelde, mielielande, koeie, berge en ’n klomp riviere en stroompies.

lolla kar

lynKort-kort stop hulle om brandstof in te gooi. Dan kan hulle bene rek en Lolla kan water drink en bietjie rondsnuffel.
lyn“Foei tog,” fluister Dokter Wilna toe sy ’n slapende Lolla uit die kar uit dra ná die dag se lang rit - Lolla is pootuit. Dokter Wilna glimlag en dra die slapende Lolla en hulle bagasie in hulle woonstel in. Môre is nog ’n opwindende dag wat vir Lolla voorlê.

 

vervolg

Die storie is geskryf deur Riëtte Bester. Riëtte is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2015.
Kopiereg teks en illustrasies Riëtte Bester.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016